'Nie genoeg vir Cassinga-oorlewendes'

Denver Kisting
Denver Kisting



President Hage Geingob het Donderdagaand by Staatshuis toegegee daar is nie genoeg gedoen om na die welstand van Cassinga-­oorlewendes om te sien nie.

Op 'n vraag van Republikein oor hoe die regering omsien na getraumatiseerde oorlewendes van die massa­slagting by 'n Angolese vlugtelingkamp destyds, het hy gesê: “Dit is waar dat mense trauma beleef ná 'n oorlog en berading benodig. Ons het dit nie gehad nie.”

Derhalwe is daar onlangs uitgereik na die duisende oorlewendes van die Cassinga-slagting 40 jaar gelede, het Geingob gesê. Dié gesprekke het ten doel om seker te maak die mense voel welkom in die samelewing en dat hul ontbering die moeite werd was, sê hy. “Jy is reg – hulle hét berading nodig.”

Dit het die afgelope week opnuut aan die lig gekom dat oorlewendes steeds sukkel om die gebeure van daardie dag te vergeet.

Die Angolese staatshoof, president João Manuel Gonçalves Lourenço, en 'n afvaardiging van sy ministers het Donderdagmiddag in Windhoek aangekom.

Dit is Lourenço se maagdebesoek aan sy buurland sedert hy in September verlede jaar aan bewind gekom het.

Die afvaardiging het Vrydag se Cassinga-herdenkingseremonie by Heldeakker in die buitewyke van die stad bygewoon.

Volgens Geingob het Angola skouer aan skouer met Namibië gestaan “tydens die donkerste dae van ons stryd om onafhanklikheid”.

Die Namibiese president het ná afloop van 'n toneelopvoering waartydens die gebeure van 4 Mei 1978 herleef is, gesê die voordrag het hom ontroer. “Ek kan my die pyn en emosies indink wat diegene wat daardeur moes gaan, tans ervaar.”

Dié treurige dag, het hy gesê, is vooruitgeloop deur druk op die apartheidsmagte van Suid-Afrika. “Toe die vyand die hitte begin voel, het hy hom gewend tot toenemend meer brutale, desperate optrede.”

“Een só 'n geval was by Cassinga toe die Suid-Afrikaanse verdedigingsmag 'n vreedsame oggend omskep het in 'n makabere teater van gruwel en geweld.”

Honderde Namibiese bejaardes, vroue en kinders wat by dié vlugtelingkamp in die suide van Angola geskuil het, is op dié oggend afgemaai.

Geingob het Vrydag opnuut die vorige aand se toegewing herhaal: “Die liggaamlike en sielkundige letsels wat deur die helse aanval gelaat is, hou aan om ons tot vandag toe te teister.

“Ons broers en susters van Angola en Kuba word ook steeds daardeur geteister.”

Daarom, het Geingob gesê, is dit gepas dat die Angolese president die 40ste herdenking van dié bloedbad meegemaak het.

'n Namibiese afvaardiging onder leiding van visepresident Nangolo Mbumba is Kuba toe waar die Cassinga-­slagting ook herdenk is.

Geingob het voorts Vrydag by Helde­akker die hoogste Namibiese eer, die Orde van die Mees Antieke Welwitschia Mirabilis, aan Lourenço toegeken.

Ná afloop van die Cassinga-­verrigtinge is die Ausspannplatz-sirkel hernoem na dr. Antonio Agostinho­ Neto-vierkant ter ere van die eerste Angolese staatshoof.

Wat die veelbesproke lening aan die Angolese sentrale bank betref, het Geingob Vrydag gesê: “Baie mense het die geldeenheidruiling, wat in belang van ons ekonomiese aspirasies plaasgevind het, tussen ons twee lande gekritiseer.”

Maar, sê hy, daar is nog net een paaiement van nagenoeg N$600 miljoen van Banco Nacional De Angola uitstaande aan die Bank of Namibia (BoN) wat na verwagting op 25 Junie vereffen sal word.

Lourenço en sy afvaardiging, onder wie die presidentsvrou, me. Ana Afonso Dias Lourenço, het Saterdag na Angola teruggekeer.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer