Nie ons beste nie, maar dis 'n sege, su00ea Mitch
Nie ons beste nie, maar dis 'n sege, su00ea Mitch

Nie ons beste nie, maar dis 'n sege, sê Mitch

Rugby
Cobus Claassen - Dit was nie die Bulle se beste poging nie, maar moenie te veel daarvan maak nie.

Die Bulle se louwarm sege van 28-10 Saterdagmiddag oor die Melbourne Rebels op Loftus Versfeld, was allermins die bloudruk wat die tuisspan in Superrugby nastreef.

Daar was gans te veel hanteerfoute en te veel hardloopkans vir die Rebels.

Maar wanneer jy in die kompetisie 'n afdag beleef en steeds aan die wenkant is, is die saak reg, meen John Mitchell, hoofafrigter van die Bulle.

Die kans dat volgende Saterdag se afspraak met die Highlanders weer so 'n frustrerende stop-staan-affêre sal wees, is bitter skraal, voorspel Mitchell.

Hy was duidelik nie beïndruk met die Rebels se taktiek om die wedstryd stadig te maak nie.

“Dit was beslis nie 'n goeie vertoonvenster vir die spel nie. As dinge in dié rigting gaan verander, sal dit werklik jammer wees.”

Dave Wessels, die Rebels se afrigter, het erken hulle het nie Pretoria toe gekom om deel van 'n skouspel te wees nie.

Die Rebels se plan was dat ontwrigting en frustrasie tot die tuisspan se ondergang moes lei.

Mitchell was wel tevrede met sy span se verdediging.

“Ons het waarskynlik die wedstryd met verdediging gewen. Dit is wat jy moet doen as jou aanvallende spel nie na wense is nie.”

Teen die Highlanders sal dit 'n heel ander storie wees, sê hy.

“Ek kan ondersteuners waarborg dat volgende Saterdag se wedstryd wild gaan wees.

“Die Highlanders hou van gebroke spel en hulle kom die hele tyd vir jou. Ek is oortuig daar sal groot kontras tussen die twee wedstryde wees.

“Ons moet toesien dat ons skerp is. Daar is 'n paar skete en seer lywe in die kleedkamer, so ons beplanning vir die week sal van groot belang wees.”

Die Bulle het verlede seisoen tuis teen die Hurricanes, die Highlanders en die Crusaders verloor.

Nadat Burger Odendaal-hulle die 'Canes vroeg in die reeks op Loftus verras het, sal hul mik om dit teen die Highlanders te herhaal.

Mitchell sê hy is nie bekommerd dat sy span momentum ingeboet het teen die Rebels nie.

“Ek rig al lank genoeg in die kompetisie af om vrede daarmee te maak wanneer dit nie jou dag is nie.

“'n Span moet dan vasbyt tot die einde en die ouens moet lof kry dat hulle dit gedoen het.”

Puntemakers: Bulle 28 (21). Drieë: Adriaan Strauss, Jesse Kriel, Divan Rossouw, André Warner. Doelskoppe: Handré Pollard (4).

Rebels 10 (3). Drie: Michael Ruru. Doelskop: Jack Debreczeni. Strafdoel: Debreczeni.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer