Niemand is so doof as wie nie wil hoor nie
Niemand is so doof as wie nie wil hoor nie

Niemand is so doof as wie nie wil hoor nie

Sanet de Waal
Ek is nou nie gister se kind nie, maar seker ook nog nie oor die muur nie. In my amper halfeeujare het die lewe my geleer dat ek nie altyd na goeie raad geluister het nie.

Die meeste van die tyd was die raad verniet, maar as mens 20, 30 en tot 40 is, dan weet jy altyd van beter.

Ek het al voorheen gesê spyt kom altyd te laat. Ek dink in dié gevalle is dit ook waar, maar soms is daar nog tyd om jou foute reg te stel en jou gehoorapparaat fyner in te stel. Dan sal jy mooi kan hoor as mense weer goeie raad vir jou gee.

My raad aan die jonger geslag is die volgende:

1) Mediese fonds. . . Moenie probeer bespaar op ’n mediese fonds nie. Jy bly nie vir altyd jonk nie. Die ouderdom haal jou gou in.

2) Versekering. . . Dit is ewe belangrik. Ek praat van kar-, huis- en lewensversekering. Op 20 klink dit nie nodig nie, maar jy weet nooit wanneer iemand jou besittings wil annekseer nie, of wanneer die nootlot jou tref of iemand teen jou vasry nie.

3) Pensioenfonds. . . Kyk, hier is die grootste fout wat ek nog in my lewe gemaak het. Moenie elke keer as jy van werk verander jou pensioen laat uitbetaal nie. Jy mag dalk tot 82 moet werk voor jy op pensioen kan gaan.

4) Sit elke maand ’n paar dollar weg. Jy sal nie glo hoeveel geld kan jy in ’n jaar spaar nie.

5) Moenie elektroniese items, kos en klere op skuld koop nie. Die rente gaan jou duur te staan kom.

6) As jy ’n huislening het, betaal net N$100 ekstra ’n maand af. Jou rente sal aansienlik minder raak.

7) Moenie uitstel nie, maak nie saak wat dit is nie.

8) Maak seker jy koop van vroeg af gesigroom van goeie gehalte en gaan so hier en daar vir ’n treatment. As jy jonk is, dink jy die skoonheidsalonne wil net geld maak. Ek is hier om vir julle te sê dit is die moeite werd om daardie paar rand ’n maand ekstra uit te gee.

9) Gaan kuier gereeld by familie en vriende.

10) Moenie dat mense met leë woorde jou lewe op sy kop draai nie. Dit is nie die hartseer werd nie.

11) Leer uit jou foute, volhard en probeer net weer. Moenie terugkyk nie. Die verlede het jou gevorm wat jy vandag is.

12) Leer hard op skool. Moenie dink skool is vir die voëls nie; net so vir universiteit. Jou ouers werk hard en offer baie op om jou soontoe te stuur.

13) Stel vir jou meetbare en spesifieke doelwitte.

14) Covid het my geleer om nie op Wi-Fi te probeer spaar nie. Jy sal definitief meer hare hê en veel gelukkiger wees.

15) Moenie kwaaivriende met mense bly nie; die lewe is te kort.

16) Gaan dokter toe as jy sleg voel, moenie wag nie. Dit kan iets ernstig wees.

17) Geniet jou lewe; moenie oor alles stres nie.

18) Moenie oor alles kwaad raak nie. Vir die mans, moenie altyd alles met jou vuiste probeer regmaak nie. En vir die vroue, woorde maak net so seer soos vuiste.

19) Moenie dat jou kinders jou skoolrapporte in die hande kry nie, hulle gebruik daardie inligting teen jou tot die dag van jou dood.

Dit is nou ’n mondvol, maar al luister jy net na drie voorstelle sal dit die moeite werd wees. Moet asseblief nie altyd dink jy weet van beter nie. Die lewe het ’n manier om jou ’n les of twee te leer, sonder dat jy daarvoor gevra het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer