Niggie (11) sterf glo aan hand van negejarige

Die slagoffer se gebroke oupa het noodhulp op haar toegepas om haar lewe te probeer red.
Tuyeimo Haidula op Eekondombali

’n Familietragedie het Maandag in die Eekondombali-nedersetting in die Omusatistreek plaasgevind toe Beverly Kazembua Muhenje (11) glo deur haar negejarige nefie met ’n mes doodgesteek is.

Beverly se gebroke oupa, mnr. Andreas Kashuku, het gesê dit is die grootste skokervaring in sy 89 jaar.

Sy kleindogter het in sy arms gesterf. Hy was ontroosbaar toe mense hom gevind het.

Kashuku het gesê die voorval het Maandag na middagete gebeur toe Beverly met ’n ou bed gespeel en materiaal daarvan verwyder het.

“Sy was altyd besig en kon nie stilsit nie. Haar nefie het gekom en haar geterg. Hy het haar vir die mes gevra waarmee sy besig was om materiaal te verwyder, maar sy het geweier.

“Ons kon hoor hoe hulle stry oor die mes en ek het hulle berispe,” het hy gesê.

Kashuku het gesê hy het gedink die stryery het gestop, want hulle het stil geword, net om te hoor hulle het weer begin stry.

“Hy het die materiaal van die bed met ’n panga begin vernietig. Alles het so vinnig gebeur. Ek het opgestaan om hulle te stop en die volgende oomblik hoor ek hoe Beverly skree dat sy gesteek is,” vertel hy.

Kashuku, wat sukkel om te loop en nie goed kan hoor nie, het gesê hy het gesien hoe Beverly agter haar nefie in die veld in hardloop.

NOODHULP

“Sy het net ’n kort afstand gehardloop voordat sy op die grond geval het. Ek het haar opgetel; sy het erg gebloei. Hy het haar in die linkerkant van haar borskas gesteek.

“Ek het haar op ’n matras neergelê en probeer om haar aan die lewe te hou deur noodhulp toe te pas. Ek het op haar borskas gedruk en mond-tot-mond-asemhaling gedoen sodat sy kon asemhaal,” het hy gesê.

Kashuku het gesê ondanks sy pogings kon hy sien dat sy nie reageer nie.

“Haar oë het gerol en haar bene het begin ruk. Ek het haar polsslag gemonitor, maar ek kon niks voel nie. Sy was weg. My helper was weg,” het Kashuku gesê.

Sy stem het sag geraak, asof hy die voorval weer herleef. Daar was ’n oomblik van stilte.

Hy het voortgegaan: “Dit is waar wat hulle sê dat God die goeies vat. Beverly was die een kind wat altyd seker gemaak het dat ek soggens my koffie kry en die diere veilig in die kraal is. Wie gaan nou vir my en my vrou help?”

Kashuku het gesê die seun is later in die bosse gekry waar hy weggekruip het.

“Toe hy teruggebring is huis toe, het dit gelyk of hy onbewus van die voorval was.”

Volgens Kashuku het die polisie en maatskaplike werkers die seun Dinsdag om 07:00 kom haal.

Beverly was in graad 4 aan die Eekondombali Primêre Skool in dieselfde nedersetting as haar nefie wat in graad 3 is.

POLISIEONDERSOEK

Die polisiewoordvoerder van die Omusatistreek, komm. Titus Shikongo, het die voorval bevestig.

Shikongo het gesê die verdagte en die oorledene het oor die oupa se tradisionele mes (omukonda) gestry wat die meisie gebruik het.

Hy het gesê in die proses het die verdagte die mes van die meisie afgevat en haar een keer in die linkerkant van haar bors gesteek. “Sy was kritiek beseer en het enkele minute later op die toneel gesterf. Die voorval het by die huis gebeur waar hulle saam met hul grootouers woon,” het Shikongo gesê.

Beverly se liggaam is na die polisielykshuis op Okahao vir ’n nadoodse ondersoek geneem.

Die negejarige verdagte is na ’n maatskaplike werker vir waarneming en berading geneem.

Die polisieondersoek duur voort. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!