'Nimt-moordenaar' sê sy bekentenis was vals

Die beskuldigde in die Nimt-moorde sê medikasie het hom verward gemaak op die dag van die dubbele slagting.
Dani Booysen
Erwin Leuchner op Swakopmund



Die ambagsdosent wat aangekla is van die dubbele skokmoord op Arandis sê hy het net 'n bekentenis aan die polisie afgelê omdat speurders hom gedreig het.

Mnr. Ernst Joseph Lichtenstrasser (58) het gister opnuut sy onskuld aangevoer tydens 'n formele borgtogaansoek in Swakopmund se landdroshof.

Die beskuldigde het getuig die polisie het gedreig om sy vrou in hegtenis te neem. “Ek wou my vrou beskerm en het daarom die moorde beken,” het die man gesê wat na bewering op 15 April vir mnre. Eckhart Mueller en Heimo Hellwig koelbloedig voor die Namibiese Instituut vir Mynboutegnologie (Nimt) afgemaai het. Volgens Lichtenstrasser het die polisie sy bekentenis aan hom gedikteer.

Adjunk-aanklaer-generaal Antonia Verhoef het aangevoer die beskuldigde moet in aanhouding bly. Sy het gesê 'n vlugrisiko bestaan, borgtog is nie in openbare belang nie en die klagte is baie ernstig.

Lichtenstrasser het getuig hy het voor 1990 reeds as vryheidsvegter na die land gekom weens sy weersin in apartheid. Hy word daarom deur die regering as oorlogsveteraan erken. Volgens Lichtenstrasser het hy inligting ingesamel vir PLAN, Swapo se miliêre vleuel, maar het hy nooit aan enige skermutselings deelgeneem nie.

Volgens die beskuldigde het hy sy vakleerling­skap in Stetten, Oostenryk voltooi en werk hy reeds langer as tien jaar vir Nimt op Tsumeb.

Lichtenstrasser het erken hy was deel van 'n groep wat besorgd oor Nimt se bestuur was. Volgens hom het hy egter nie net met Mueller vasgesit nie, maar met almal.

Hy het getuig hy was die noodlottige Maandag “iewers in die woestyn” in die omgewing van Arandis omdat hy die Sondag rusie met sy vrou gehad het. Hy het haar ingelig hy gaan sy vriend Jason, 'n voormalige Nimt-werknemer, op Swakopmund besoek.

Volgens Lichtenstrasser het hy soos gewoonlik 'n .38-revolver en ammunisie op sy reis saamgeneem.

Iewers tussen Usakos en Arandis, het hy getuig, moes hy weens “moegheid en verwarring” van die pad trek. Dit was volgens hom die uitwerking van sterk pynmiddels wat hy vir skouerpyn moes neem.

Lichtenstrasser het getuig hy het Maandagoggend verward in sy voertuig wakker geword. “Vir veiligheidsredes het ek 'n bietjie dieper die woestyn in gery, waar ek weer aan die slaap geraak het,” het hy aangevoer.

Dinsdag het hy besluit om na Tsumeb terug te keer. Hy het volgens hom oor die radio van die moorde gehoor en is toe op Karibib in hegtenis geneem.

Mnr. Trevor Brockerhoff verskyn namens Lichtenstrasser. Die saak duur vandag voort.

Meer as 2 000 mense het 'n klagskrif teen die toestaan van borgtog onderteken. Dit is by die hof aan Verhoef oorhandig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!