NIP wil 'duisende' toets
NIP wil 'duisende' toets

NIP wil 'duisende' toets

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die Namibiese Instituut vir Patologie (NIP) tref voorbereidings om “duisende” weefselmonsters per dag vir Covid-19 te toets. Tans toets die NIP 20 tot 30 weefselmonsters per dag. Tot op hede is 206 weefselmonsters uit ‘n totaal van 362 hier getoets.

Die aantal gevalle staan tans op 16 nadat ‘n 31-jarige Namibiese onderwyser wat in noue kontak met ‘n Suid-Afrikaner was en ‘n dokter wat na Suid-Afrika gereis het, gister positief vir die siekte getoets het. Albei is in isolasie en hul toestand is stabiel.

Volgens dr. David Uriab, NIP se uitvoerende hoof, gaan die toetsing vir Covid-19 na van sy ander laboratoriums ook uitgebrei word. Eerste aan die beurt is Oshakati en Walvisbaai.

“Ons kan desentraliseer na enige van ons takke landswyd. Dit beteken ons sal kan toets soos en wanneer ons moet en dit is nie nodig om die weefselmonsters na Windhoek te stuur nie,” het hy gesê.

Planne is onderweg om later ook op Rundu, Keetmanshoop en Katima Mulilo vir Covid-19 te kan toets.

Volgens Uriab is NIP nie tans van plan om in al die streke te toets nie en sal die instituut “met versigtigheid uitbrei”.

Volgens hom het NIP masjiene om vir die siekte te toets in “letterlik alle distrikte”, maar het hulle die nodige reagente nodig om die toetse te kan uitvoer.

“Ons sal ons laboratoriums kan oopmaak soos die gevalle groei en die pandemie in ander streke uitbreek.”

Uirab sê Namibië beleef tans die “stilte voor die storm”, maar het beklemtoon hulle beskik oor die kapasiteit om groot getalle weefselmonsters te toets.

“Ons het verskillende alternatiewe om duisende weefselmonsters per dag te kan toets.”

Volgens hom beskik NIP oor meer as 40 en die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) oor 15 GeneXpert-masjiene wat volgens hom “meer as genoeg” masjiene is om vir toetsing te gebruik.

“Wat nodig is, is nuwe reagente vir die masjiene. Ons het reeds in voorraad, maar is in die proses om nog hiervoor te kry.”

Hy het verwys na ‘n masjien wat volgens hom tot 450 weefselmonsters per dag kan toets waarvan die NIP twee het. Een van die masjiene gaan in Oshakati gebruik word.

Op ‘n vraag of Namibië steeds sy bestellings reagente gaan kry al blyk dit nou lande verkies om dit eerder vir hulself te hou, het Uriab gesê Namibië het ‘n langtermynverskaffer wat dit sal lewer.

“Daar is druk, maar hulle sal steeds aan ons lewer. Die voordeel is Namibië het min mense.”

Intussen het dr. Ismael Katjitae, lid van die bestuurskomitee vir Covid-19-gevalle in Namibië, gesê die komitee gaan die kriteria vir die gevallestudie om vir die siekte te toets, herevalueer.

Tans word net dié getoets wat na die buiteland gereis het en dié wat met hulle in kontak was.

“Ons toets tans nie almal nie en net dié wat simptome toon. Ons het nie genoeg toetsstelle nie en word gelei deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO). Ons weet egter getalle kan elke dag verdubbel,” het hy gesê.

Volgens hom het Namibië tot op hede “relatief goed gedoen” en dra die inperking wel vrugte.

“Ons moet probeer om dit (Covid-19) uit die hospitale te hou. Die oomblik wat dit in die hospitale is, raak dit moeilik.”

Hy het erken baie mense toon simptome van verkoue en griep, maar was dit by die meeste van die pasiënte wat hy gesien het, verwant aan allergieë. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!