Nissan belê nog R3 mjd. in sy SA aanleg
Die belegging sal na raming 400 nuwe werksgeleenthede skep.
Christiaan du Plessis
Nissan gaan R3 miljard in sy aanleg in Rosslyn, noord van Pretoria, belê om die nuwe weergawe van sy Navara-bakkie daar te vervaardig.
Produksie sal na verwagting in 2020 begin, het Mike Whitfield, bestuurder van die Nissan-groep in Afrika, Woensdag op 'n seremonie by Rosslyn aangekondig.
Hy sê die belegging sal na raming 400 nuwe werkgeleenthede skep. As die invloed op die hele waardeketting in ag geneem word, sal die belegging 'n totaal van 1 200 nuwe werkgeleenthede skep.
Nissan, met sy hoofkantoor in Japan, vervaardig reeds die Nissan NP200 en die Nissan Hardbody by sy aanleg in Rosslyn.
Pres. Cyril Ramaphosa het op die seremonie gesê Nissan se onderneming om in Suid-Afrika te belê, ondanks die Eskom-kragkrisis, is 'n teken dat die land steeds vertroue onder beleggers inboesem.
“Ek weet die aanleg is baie afhanklik van krag. Ons werk saam met Eskom en ander belanghebbendes om onmiddellike maatreëls in plek te stel om die kragverskaffer op die pad na volhoubaarheid te plaas,” het Ramaphosa gesê.
Ander politici wat die seremonie bygewoon het, is David Makhura, premier van Gauteng, en Stevens Mokgalapa, uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad.
Die voertuigbedryf dra in sy geheel nagenoeg 7% tot die bruto binnelandse produk (BBP) van Suid-Afrika by.
Volgens Ramaphosa is die R3 miljard-belegging 'n uitvloeisel van die beleggingskonferensie wat in Oktober verlede jaar in Johannesburg gehou is.
Die konferensie, onder leiding van Ramaphosa, het altesaam R290 miljard se nuwe beleggings voortgebring, waarvan die voertuigbedryf sowat R40 miljard oor die volgende vyf jaar sal bydra.
Luidens 'n verklaring deur die presidensie word projekte ter waarde van R187 miljard, wat op die konferensie onderneem is, reeds uitgevoer.
Ramaphosa wil oor die volgende vyf jaar R1 400 miljard se plaaslike en internasionale beleggings na Suid-Afrika lok.
“Sommige mense het gedink dis bloot wensdenkery en dat dit nooit sal gebeur nie. Vandag bewys ons hulle verkeerd,” het Ramaphosa gesê.
“Deur die regering se vennootskap met die voertuigbedryf is ons gereed om 'n nasie te word wat sy onverwerkte hulpbronne gebruik om produkte te vervaardig en sodoende ons ondernemings te laat groei,” het hy gesê.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie