NLU gaan polisie met plan teen misdaad help
NLU gaan polisie met plan teen misdaad help

NLU gaan polisie met plan teen misdaad help

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Namibiese polisie het die Namibië Landbou-unie (NLU) genooi om by die opstel van ’n geïntegreerde nasionale misdaadvoorkomingstrategie betrokke te wees.

Die sukses van hierdie unie se strukture in die blitsvinnige mobilisering van boerderygemeenskappe in die Suide is die afgelope naweek bewys met die opsporing van die drie vermeende moordenaars van die Botma-egpaar van die plaas Lindeshof buite Koës.

Mnr. Ryno van der Merwe, president van die NLU, het gister in ’n verklaring gesê die moorde Vrydagnag het die boerderygemeenskap geskok en getoon “weerlose mense word op gewelddadige wyse deur gewetenlose boewe geteiken”.

“Die veiligheid van die landbougemeenskap is ’n integrale deel van ontwikkeling in landelike gebiede. Daarom word wetstoepassers versoek om nie borgtog aan hierdie misdadigers toe te staan nie en om hulle swaar te straf.”

Hy sê verder die NLU versoek die betrokke owerhede om die beskerming van lewens en eiendom op die platteland ’n voorkeurtaak te maak.

In dieselfde asem het Van der Merwe ’n beroep op die landbougemeenskap gedoen om waaksaam te wees en hul veiligheid te verbeter.

Die moderatuur van die NG Kerk in Namibië het ook gister in ‘n verklaring gesê die kerk treur saam met almal wat geliefdes deur moorde verloor het.

“Ons spreek ons ten sterkste teen alle misdade uit - veral moord en geweldsmisdade, omdat dit strydig met ons geloofsoortuigings is.

“Ons betuig ons opregte dank en waardering aan almal wat vinnig opgetree het om die verdagtes vas te trek, asook op allerlei maniere ondersteuning aan die families verleen het. Ons moedig soortgelyke optrede in alle soortgelyke gevalle aan,” sê die moderatuur in sy verklaring.

Van der Merwe het op sy beurt ook die polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga en komm. Flip Blaauw, hoof van die polisie se lugvleuel, bedank vir die hulp en bystand tydens Saterdag se soektog na die vermeende moordenaars.

Daarmee saam het hy ook die polisie op Koës, Mariental, Aranos en Keetmanshoop bedank, asook Khowesno, Aranos en Leonardville se misdaadvoorkomingforums.

“Sonder die vinnige optrede van almal betrokke sou die verdagtes nie so vinnig aangekeer kon word nie,” het Van der Merwe gesê.

Laastens het hy die polisie ook bedank vir die uitnodiging wat aan lede van die NLU gerig is om hulle te help met die opstel van die beplande geïntegreerde nasionale misdaadvoorkomingstrategie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!