NLU-kongres: Melkboer kry hoogste eer
NLU-kongres: Melkboer kry hoogste eer

NLU-kongres: Melkboer kry hoogste eer

Die Gobabis-boer het ’n groot verskil in georganiseerde landbou gemaak en vat steeds voor as dit kom by nuwe, innoverende oplossings vir bosindringing.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Namibië Landbou-unie (NLU) se Agrister-eerbewys is vanjaar aan Japie Engelbrecht, ’n melkboer van Gobabis, toegeken.

Die NLU se uitvoerende hoof, mnr. Sakkie Coetzee, het tydens die NLU-kongres gesê dié toekenning is die hoogste eer wat die unie aan iemand kan betoon. Dit word gegee aan ’n individu wat oor baie jare ’n uitsonderlike bydrae tot georganiseerde landbou gemaak het.

“Die toekenning is nie ‘goedkoop’ nie. Daar word baie daaroor nagedink en besin voor die NLU se uitvoerende raad tot ’n konsensusbesluit kom,” het Coetzee gesê.

Engelbrecht is sedert 1974 lid van die Dorsland Boerevereniging, waar hy vir baie jare as voorsitter gedien het. Hy was ook lid van die NLU se uitvoerende raad vir 17 jaar en het onder agt verskillende presidente gewerk.

“Sy optimisme het die vereniging se lede bymekaar gehou en aktief laat saamwerk en bygedra tot entoesiasme tydens ’n baie moeilike tyd in hul geskiedenis toe daar groot verdeeldheid was,” het Coetzee gesê.

Hy het verder gesê Engelbrecht het op verskeie komitees gedien, wat insluit die komitee wat twee keer die nasionale braaikompetisie namens die Dorsland Boerevereniging aangebied het, asook die Omuramba Boerevereniging se braaispan. Hy was ook twee keer in die NLU-braaispan.

“Hy was nie net organisatories betrokke nie, maar het as een van die Suidwes-pioniers van oom Koos Engelbrecht ’n onmeetlike bydrae gemaak. Hy het in suiwel grootgeword – van melkkanne, tot die gesofistikeerde bedryf wat ons tans het.

“Hy was betrokke by moeilike onderhandelinge met besighede om ruimte vir die kleinboer te laat, asook by voortdurende onderhandelinge met die regering oor prysstrukture, standaarde, droogtes, bemarking en die ondersteuning van die suiwelbedryf.”

Coetzee sê die onderhandelinge het daartoe gelei dat melkboere nou ’n sinvolle bestaan kan maak en die bedryf is uitgebou tot ’n unieke model van ekstensiewe en intensiewe melkboerdery.

Hy het gesê Engelbrecht is tans betrokke by ’n projek om indringerbos in papier om te skakel, iets wat uitdagend is, maar tans internasionaal nagevors word en dalk tot ’n groot omwenteling kan lei.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer