NMH ten volle in Namibiese hande
Augetto Graig en Jo-Maré Duddy - Stimulus Investments Ltd besit nou 100% van die aandele in Namibia Media Holdings (NMH) ná die Namibiese Mededingingskommissie (NaCC) die verkryging van Media24 se belang van 50% goedgekeur het.
Stimulus en Media24 was gelyke aandeelhouers in NMH, die beheermaatskappy van Republikein, Namibian Sun, Allgemeine Zeitung, verskeie gemeenskapskoerante en Newsprint Namibia. Stimulus het reeds in September 2012 sy belang van 50% in NMH bekom en die groep se direksie het in April vanjaar die verkryging van die oorblywende 50% goedgekeur. Die NaCC het op 23 Junie die groen lig vir laasgenoemde transaksie gegee.
Stimulus se finansiële resultate vir die jaar tot einde Februarie vanjaar, wat Vrydag bekend gemaak is, toon die groep het in 2016 nuwe beleggings ten bedrae van N$134,8 miljoen gemaak. Dit sluit die NMH-transaksie in.
“Ons besit nou 100% van die (NMH) bate,” het mnr. Josephat Mwatotele, uitvoerende direkteur van Stimulus Investments en voorsitter van NHM se direksie, Vrydag gesê. “NMH is nou ten volle in Namibiese besit en onder Namibiese beheer.”
Mnr. Pieter Laubscher, ook ’n uitvoerende direkteur van Stimulus, het tydens dieselfde geleentheid gesê die groep is besig om die oorname van NMH te implementeer en sal binnekort met die bestuur van NMH vergader.
“Ons is opgewonde oor die vooruitsigte vir die maatskappy en sal aan die aanpassing van sleutelpersoneel en die maatskappybestuur met ons belange werk,” het hy gesê.
Mnr. Albe Botha, uitvoerende hoof van NMH, het die jongste verwikkeling as baie positief beskryf. “As uitvoerende hoof en bestuur is ons opgewonde oor die vooruitsig om ’n maatskappy te wees wat 100% Namibies besit word. Dit toon die vertroue wat Stimulus in die toekoms van die maatskappy en die land het,” sê Botha. Die toekoms hou strategiese groeiverkrygings vir NMH in, in ’n mediabedryf wat voortdurend verander en wat nuwe geleenthede vir NMH se werknemers sal skep.”
NMH is die enigste maatskappy wat ten volle deur Stimulus besit word en sal die volledige toepassing van dié belegger se suksesresep geniet. Stimulus het verlede jaar sy aandeel in Neo Paints na 50% verhoog. Belange wat Stimulus in ander maatskappye besit, sluit in Plastic Packaging (44,58%), Polyoak Namibia (12,5%), Plaspack Investments (44,58%), Nashua Namibia (26%), Joe’s Beerhouse Properties (88,3%), Cymot Group (25%) en Walvis Bay Stevedoring (45%).
Volgens Mwatotele het Stimulus vele uitdagings in 2015 die hoof gebied. Dit sluit in kontant van N$141 miljoen wat vanweë ’n tekort aan beleggingsgeleenthede van gehalte nie belê was nie.
Ander uitdagings was kapasiteitskwessies en ’n personeeltekort en die behoefte aan ’n onafhanklike evalueerder. Stimulus het 2016 egter met groter interne kapasiteit en KPMG Namibia as nuwe ouditeurs betree, asook sterk beleggingsmoontlikhede vir beskikbare kapitaal van N$136 miljoen.
Die groep het sy visier nou op beleggings in Namibië se logistieke sektor, hernubare energie en toerisme gerig.
In die afgelope boekjaar het Stimulus ’n wins van bykans N$10,14 miljoen getoon, sowat 1,65% minder as die N$10,31 miljoen in 2015. Van die kwessies wat die maatskappy se finansiële vertoning geknou het, is moeilike handelstoestande in Angola, Namibië se waterkrisis en die verlangsaming in die ekonomie.
In die jaar onder oorsig was Stimulus se inkomste meer as N$22,89 miljoen vergeleke met bykans N$22,45 miljoen in 2015.
Stimulus se totale bates teen die einde van Februarie vanjaar het bykans N$545,95 miljoen beloop, amper 5% meer as die amper N$520,2 miljoen van Februarie 2015.
Die maatskappy se ongenoteerde beleggingsportefeulje het ’n opbrengs van 10,06% in die 2016-boekjaar gelewer. As kontant en verkrygings in ag geneem word, het die Stimulus-portefeulje ’n opbrengs van 12,3% gelewer. Volgens Stimulus bewys dié syfers die lewensvatbaarheid van ongenoteerde beleggings as ’n bateklas.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie