NMSF-oudpresident De Jager se spore sal bly
NMSF-oudpresident De Jager se spore sal bly

NMSF-oudpresident De Jager se spore sal bly

'n Gewese president van die Namibiese Motorsportfederasie en alom gewilde figuur in die sport se plek is leeg.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – As jy die naam Jan de Jager hoor, dan dink jy onwillekeurig aan 'n paar goed – motorsport, grappe vertel, mampoer, vredemaker, maar seker die heel belangrikste, iemand op wie jy kon staatmaak sonder dat hy iets terug verwag het.

Op 7 Julie 2021 het Jan (68) as gevolg van Covid ons verlaat, maar sy nalatenskap vir motorsport en vriende sal ons nog baie lank bybly.

Jan is 'n boorling van Outjo en het aan Walvisbaai Hoërskool gematrikuleer, voordat hy in Bloemfontein vir predikant begin studeer het. Dié het net gehou tot hy opgeroep is vir die weermag waar hy by die staande mag aangesluit het. Hy was 'n lid van die Suid-Afrikaanse weermag tot en met onafhanklikwording in 1990.

Jan was 'n gewilde kommandant onder troepe en seniors omdat hy 'n mens-mens was. As kommandant en met 'n BA Admin-graad was sy toekoms in die weermag vir hom uitgelê, maar sy liefde vir Namibië kon hy nie prysgee en op uitnodiging van die destydse nuwe regering het hy ingeval as 'n personeelbeampte waar hy gevorder het tot direkteur by finansies, waar hy gedien het tot met sy aftrede.

Gedurende die vroeë 1990's was Jan 'n sentrale figuur met die stigting van Namibia Four Wheelers, 'n klub wat Vasbyt 4x4 as 'n motorsport gevestig het. Jan was vir 'n hele paar jaar die klubvoorsitter en onder sy leiding het die klub behoorlik opgang gemaak. Jan was self ook 'n kranige deelnemer aan Vasbyt-byeenkomste.

Met sy CJ 2B Willys Jeep met 'n 2.5 Chevrolet-enjin en Alfa Romeo ratkas – bekend as Bitch – was hy die een vir wie jy moes klop in daardie jare se B-klas. Om sy vernuf verder in te vryf, het hy gereeld die groot katte 'n paar lesse geleer, want tussen hom en sy vrou Tessa langs hom het hulle presies geweet waar om Bitch se wiele neer te sit.

Jan kon nie net by deelname aan Vasbyt bly nie en hy het later in die Namibiese Motorsportfederasie se bestuur beland. Aanvanklik as sekretaris-generaal vanweë sy organisasievermoë, maar Jan was later ook president van die NMSF.

Dis nou nie 'n geheim nie – as jy van stry hou, neem deel aan motorsport. Dit was altyd sy uitgangspunt dat die individu nooit groter as die sport moet wees nie, al het dit beteken dat 'n reël hier en daar gebuig moet word waarvoor, indien nodig, hy die pak gevat het.

Oor Jan se gewildheid was daar geen debat nie. Hy was nie 'n allemansvriend nie, maar hy was almal se vriend. Met sy groot hart was hy iemand wat altyd die vrede sou bewaar, op 'n baie rustige en gepaste manier 'n standpunt ingeneem het dat jy nie anders kon nie as om saam met hom te stem.

So was Jan ook ingelyf as 'n erelid van die Namib Desert 4x4-klub aan die kus en was hy ook 'n lid van die Redline Motorklub in Windhoek.

Lank nadat hy die tuig van die NMSF neergelê het, was hy nog behulpsaam om as 'n beampte in ver­skillende hoedanighede op te tree vir motorsport, 'n sport wat hom baie na aan die hart gelê het.

Nooit sal ons weer daardie vinnige kwinkslae of grappies hoor nie, van die kort man wat eintlik veel groter was as hyself.

Aan sy vrou Tessa en die kinders, dankie dat julle hom baie dae vir ons geleen het en alle sterkte vir julle gedurende hierdie tyd.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!