NNOK kondig span vir Tokio aan

'n Roeier en 'n oopwaterswemmer maak nuwe geskiedenis vir die woestynland.
NAMPA
Die Namibiese Nasionale Olim­piese Komitee (NNOK) het sy amptelike span atlete en beamptes aangekondig wat die land tydens die geherskeduleerde Olim­piese Somerspele in Tokio 2020 gaan verteenwoordig.

Mnr. Abner Xoagub, president van die NNOK, sê die toergroep sal vanaf 18 Julie na Tokio vertrek, met die voormalige stoeibeampte Dawie Augustyn as die missiehoof.

Namibië sal in vyf sportkodes verteenwoordig word – swem, boks, atletiek, fietsry (pad- en bergfiets), sowel as roei.

Maike Diekmann sal die eerste Namibiër word wat die land op Olimpiese vlak in enige roeisport verteenwoordig. Sy word deur haar Suid-Afrikaanse afrigter Grant Dodds vergesel.

Net so het die Swakopmunder Philip Seidler, afgerig deur sy ma Nadja Seidler, onlangs in Portugal die geskiedkundige deurbraak gemaak as die eerste Namibiese Olimpiese kwalifiseerder in die 10 kilometer oopwaterswem.

Die twee Namibiese baanatlete wat min bekendstelling nodig het, is Beatrice Masilingi en Christine Mboma (200 m-naellopers, afgerig deur Henk Botha).

Dié twee 18-jariges is loshande die jongste van die Namibiese spanlede.

Atletiek Namibië word ook deur twee marathonhardlopers Helalia Johannes (wat in Tokio 'n viermalige Olimpiër sal word) en Rainhold Tomas in die manswedloop. Beide word deur Robert Kaxuxuena afgerig.

Ander spanlede sluit in die ligweltergewigbokser Junias Jonas, afgerig deur Albertus Tsamaseb.

Die padfietsryers Vera Adrian en Dan Craven word afgerig deur Axel Theissen en met Martin Nghilifavali as werktuigkundige, terwyl Michelle Vorster en Alexander Miller, afgerig deur Hans du Toit en met Ermin van Wyk as werktuigkundige, aan die Olimpiese bergfietsresies sal deelneem.

Die 20-jarige Miller is die enigste van die fietsryers wat nie vier jaar gelede ook by die Rio 2016-spele in aksie was nie, terwyl Craven sy derde verskyning maak ná sy debuut in Londen 2012.

Die mediese en Covid-19-skakelspan bestaan uit dr. David Weber (bekende in fietsrykringe) as mediese beampte en me. Anna-Mart Kruger as fisioterapeut.

Me. Joan Smith, sekretaris-generaal, en Xoagub sal die toergroep vergesel. Die ministerie van sport se uitvoerende direkteur, mnr. Audrin Mathe, en ondervoorsitter van die Namibiese Sportkommissie, me. Alna Similo, verteenwoordig die regering.

Xoagub het 'n beroep op Namibiërs gedoen om die nasionale span te ondersteun en hulle “beroemd” te maak, insluitend deur sosiale media.

“As 'n organisasie is ons baie trots op die moeite wat die deelnemers en hul spanbestuurders in hul voorbereiding gedurende hierdie moeilike tye gedoen het. Laat ons almal probeer om al ons atlete beroemd te maak via sosiale media, publikasies en sportprogramme,” het hy aangemoedig.

Die Olimpiese Somerspele begin op 25 Julie en eindig op 8 Augustus.

– Nampa

FOTO’s
Afrigter Hans du Toit wens Alex Miller geluk ná sy derde posisie by die reënerige 2019 Afrika-bergfietskampioenskap in Windhoek wat die land se Olimpiese posisie beklink het. Foto Andrew Poolman

Die roeier Maike Diekmann en haar afrigter Grant Dodds.

Afrigter Robert Kaxuxuena met sy twee marathonhardlopers Rainhold Tomas en Helalia Johannes, tydens ’n onlangse Olimpiese promosiegeleentheid. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!