NNOK: Mboma, Masilingi fokus op korter naellope

Olimpiese Komitee sê oor kontroversie
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Terwyl sportliefhebbers veral in Namibië ontstoke is oor die klaarblykliklike onreg wat Christine Mboma en Beatrice Masilingi aangedoen word deur hul gedwonge onttrekking aan die 400 meter by die naderende Olimpiese Spele, is daar uit hoë vlakke min aanduiding dat Namibië die beslissing van Wêreldatletiek gaan beveg.
Mboma en Masilingi is tans nommer 1 en 3 op die lys van vinnigste tye ter wêreld in die 400 meter – onderskeidelik 48.54 en 49.53.
Op grond hiervan sou beide sterk aanspraakmakers gewees het om in die 400 die Olimpiese finaal te haal en selfs met medaljes huiswaarts te keer.



NAMIBIESE NASIONALE OLIMPIESE KOMITEE
Die NNOK het Vrydag in ’n nuusverklaring gesê dit is normale prosedure vir Wêreldatletiek om gereelde mediese evaluering op internasionale atlete uit te voer.
Wêreldatletiek het ingevolge sy reëls vir “Atlete met Verskille in Seksuele Ontwikkeling” mediese toetse uitgevoer op Mboma, Masilingi en ander internasionale atlete wat saam met hulle ’n oefenkamp in Italië bygewoon het.
“Die uitslae van die toetssentrum het aangedui dat beide ’n natuurlike hoë testosteroonvlak het.
“Ingevolge die reëls van Wêreldatletiek mag sulke atlete nie oorweeg word vir deelname aan afstande vanaf 400 meter tot 1600 meter (insluitend hekkies) nie.
“Dis belangrik om te verstaan dat beide ons atlete nie van hierdie toestand bewus was nie; ook nie hul familie, hul afrigter of die NNOK en die Statebondvereniging (CGA) nie.
“Die NNOK / CGA en ons mediese beampte, dr. Ben Viljoen, is in noue kontak met dr. Stephané Bermon (mediese beampte van Wêreldatletiek) oor die pad vorentoe in belang van ons twee atlete.
“Ons sal alle inligting ontleed en in die belang van die twee jong meisies toepas. Ons is positief oor hul toekoms as elite atlete. Hierdie moet nie in ’n negatiewe lig beskou word nie, maar eerder as ’n nuwe uitdaging en ’n geleentheid.
“Beide Christine en Beatrice is in staat om in die 100 en 200 mee te ding. Hul afrigter Henk Botha is positief om voort te gaan om die meisies vir hierdie items voor te berei terwyl ons die pad vorentoe konsolideer.
“Die NNOK / CGA het waardering vir die begrip van die publiek. Die atlete en hul afrigter geniet ontsaglike ondersteuning in Namibië en wêreldwys en daarvoor is ons dankbaar.
“Ons doen ’n beroep op almal om positief te bly en aan te hou om ons atlete te ondersteun terwyl hulle op hul eerste Olimpiese Spele voorberei.”



ATLETIEK NAMIBIë
Atletiek Namibië sê in ’n nuusverklaring hy is namens die twee atlete tans in gesprek met Wêreldatletiek oor die beheerliggaam se skokbesluit dat beide die wêreldklas tienerjarige naellopers – klaarblyklik op grond van hul natuurlike hoër testosteroonvlakke – nie aan die Olimpiese Spele in Tokio se 400 meter mag deelneem nie, maar wel aan die 200 meter.
Die presedent dat Suid-Afrika se Olimpiese kampioen Caster Semenya tevore op groot onkoste haar regsaak op die hoogste vlak in die Hof vir Arbitrasie in Sport (CAS) verloor het, plaas oënskynlik ’n demper op Namibië se aptyt om die beslissing te probeer omkeer.
“Met inagneming hoe min tyd oor is voordat die 2020 Olimpiese Spele in Tokio op 23 Julie 2021 begin, sal ons atlete nou hul volle fokus op die 200 meter plaas.
“Ons sal na afloop van die Spele die saak verder met Wêreldatletiek opvolg,” lui Atletiek Namibië se verklaring.
“Beide Christine en Beatrice is teleurgesteld dat hulle nie aan hul gunsteling item sal kan deelneem nie, maar hulle bly positief en sien uit daarna om Namibië by die Olimpiese Spele te verteenwoordig.
“Team Namibia” gee Mboma en Masilingi die versekering van hul volle ondersteuning.
“Ons twyfel nie vir ’n oomblik nie dat hierdie twee dapper en talentvolle jong vroue sal aanhou om ons nasie met trots te verteenwoordig.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!