Nobelpryswenner praat met Geingob oor armoede
Augetto Graig
Namibië se ontwikkelingstrategieë moet sáám met Harambee, die regering se plan om armoede uit te wis, ingespan word om lewensgehalte so vinnig as moontlik te verbeter.
Só sê die wêreldbekende ekonoom en Nobelpryswenner, prof. Joseph Stiglitz.
Stiglitz het pres. Hage Geingob Dinsdag by Staatshuis ontmoet. Hy was vergesel van die Verenigde Nasies se uitvoerende sekretaris van die VN se ekonomiese kommissie, dr. Carlos Lopes, en mediakenner Naya Schiffrin. Stiglitz is bekend vir sy navorsing oor inkomste-ongelykheid en ekonomiese ontwikkeling. Hulle het ook met adjunk eerste minister, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, die minister in die presidensie verantwoordelik vir nasionale beplanning en ook direkteur-generaal van die Nasionale Beplanningskommissie, mnr. Tom Alweendo, die minister van finansies, Calle Schlettwein, en presidensiële raadgewers, me. Inge Zaamwani-Kamwi en dr. John Steytler gesels.
Stiglitz sê Harambee as naam vir Namibië se regrukplan herinner hom aan sy eerste besoek aan Afrika in 1969 toe hy dit in Kenia teëgekom het. “Dit is in die taal van selfhelp,” sê hy. Die plan is ’n bewys dat Namibië sy eerste treë geneem het om inkomste-ongelykheid uit die weg te ruim en die belangrikheid daarvan besef, sê hy.
Van die groot uitdagings wat die land tans in die gesig staar, is werkloosheid, veral onder die jeug, sê Stiglitz. Hy sê die denkwyse moet verander en dit is belangrik vir Namibië dat die regering nie net die katalisator is nie, maar ook entrepreneur.
’n Nywerheidsbeleid sal van hulp in die proses wees, maar dis duur en die regering sal alle plaaslike hulpbronne moet mobiliseer. Daar moet verseker word dat Namibië die volle waarde vir sy hulpbronne kry deur deeglik oor kontrakte met en verkope aan internasionale maatskappye te herbesin.
Lande soos Brasilië het oor ’n tydperk van tien tot twintig jaar groot vordering getoon met die vermindering van inkomste-ongelykheid deur hul ontwikkelingstrategieë en hul pogings om armoede te verlig, saam te gebruik, sê hy. Die gehalte van Namibiërs se lewens kan sodoende redelik vinnig verbeter word, sê Stiglitz. “Dit gaan nie net oor inkomste-ongelykheid nie, maar oor ’n wye reeks aspekte rakende welstand,” sê hy.
Lopes het verwys na die Panama-data en die verband daarmee met onwettige kapitaalvlug uit Afrika. Hy het gesê navorsing toon tussen US$50 miljard en US$60 miljard verdwyn jaarliks uit Afrika, maar luidens nuwe inligting is dit waarskynlik veel meer. “Ek dink ons het die bedrag onderskat,” sê Lopes.
Hy het kommer uitgespreek oor die Seychelle waar 14 000 oorsese maatskappye geregistreer is. “Wat baat dit regtig die land?” Lopes is oortuig dat Afrikalande die skuiwergate moet toestop. Ander kwessies rakende kontrakte met groter internasionale maatskappye moet ook ondersoek word as Afrikalande ooit vir hul eie ontwikkeling wil betaal, sê hy.
Stiglitz het die kwessie van belasting beklemtoon wat internasionale maatskappye moet betaal. Hy sê wêreldwyd kry dié maatskappye dit té maklik reg om geld van plek tot plek te verskuif waar belasting minder is. Hy het Starbucks uitgesonder wat ondangs goeie groei glad nie in Engeland belasting betaal nie. “Hulle skuif eenvoudig hul wins na lande waar daar minder belasting is. Dit benodig internasionale samewerking om te beveg. Ontwikkelende lande kan hul eie groei finansier as hulle die belasting ontvang wat hulle toekom en die uitvloei van geld kan stopsit,” sê hy. “Selfs Panama is bekommerd en hulle het my gevra om ’n kommissie saam te stel om na die maniere te kyk hoe mense belasting vermy,” sê Stiglitz.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie