Noble, Dinath geskok ná borgtog geweier is

Otis Finck
Otis Finck op Walvisbaai



Landdros Ilge Rheent het gister die borgtogaansoek verwerp van mnre. Grant Noble (36) en Azhar Dinath (62), die twee mans wat in Junie in hegtenis geneem is in verband met 412 kg kokaïen wat by die Walvisbaaise hawe ontdek is.

Die twee beskuldigdes het sigbaar geskok gelyk toe hulle hoor hulle moet tydens die verhoor in aanhouding bly. Die saak is tot 29 November vir verdere ondersoek uitgestel.

In Rheent se uitspraak, wat langer as 30 minute geduur het, het sy gelas dit sal nie in die beste belang van geregtigheid wees as die aansoekers op borgtog vrygelaat word nie, en het daarom die aansoek verwerp.



Uitspraak verwelkom

Staatsaanklaer Salomon Kanyemba, bygestaan deur me. Theresa Hafeni, het borgtog teengestaan.

Hafeni het die uitspraak verwelkom en gesê die ondersoek kan nou sonder enige inmenging en vrees voortgaan. “Die nasie het dit nodig. Dit was nie maklik nie. Alle hoop was op die skouers van die staatsaanklaers op Walvisbaai geplaas.'

Mnr. Leon Louw, 'n lid van die Weskus Ekumeniese Beweging wat 'n brief ingehandig het waarin borgtog teengestaan word, het ook die ­uitspraak verwelkom.

Regsverteenwoordigers Sisa Namandje, Jan Wessels en Sacky Khadhila-­Amoomo het die beskuldigdes tydens die borgtogaansoek verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer