Nog AstraZeneca op pad

Namibië kan nie bekostig dat sy gesondheidstelsel deur Covid-19-pasiënte oorweldig word nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – ’n Nuwe besending AstraZeneca-entstowwe teen Covid-19 van Covax is gereed vir verskeping na Namibië die oomblik wanneer goedkeuring van die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) verkry is.

Die goedkeuring word na verwagting vandag gefinaliseer.

Volgens die hoof van die taakspan vir Namibië se immuniseringsveldtog teen Covid-19, me. Petronella Masabane, word ’n beraamde 43 000 dosisse AstraZeneca van die vervaardiger Catalent Anagni in Italië verwag. Volgens Masabane is bestellings vir Sputnik en Johnson & Johnson ook reeds geplaas en word op terugvoering gewag.

Met verwysing na sekere immuniseringstasies wat nie Sinopharm en Covishield/AstraZeneca in voorraad gehad het nie, het Masabane gesê die ministerie het reeds vandeesweek begin om voorraad, waar nodig, te herontplooi na stasies waar opname stadig is.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) het die Sinopharm-entstof teen Covid-19 verlede week vir noodgebruik goedgekeur. Dit word deur die Beijing Bio-Institute of Biological Products Co Ltd, 'n filiaal van die China National Biotec Group (CNBG), vervaardig.

Intussen het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, erken die ministerie ervaar ’n uitdaging met die voorsiening van suurstof veral in Windhoek weens ’n toename in die aantal pasiënte wat suurstof benodig. Volgens Shangula is die verskaffer opdrag gegee om die stelsel op te gradeer.

Die minister het erken tans bestee ernstige siek Covid-19-pasiënte minder tyd in die hospitaal en sterf binne ’n kort tydperk nadat hulle in die hospitaal opgeneem is.

Hy het ook verwys na die skerp toename in die aantal hospitalisasie van persone met baie ernstige Covid-19-komplikasies. Volgens Shangula vereis baie van dié pasiënte intensiewe sorg wat bykomende druk op die beskikbare beddens in intensiewesorgeenhede (ICU’s) plaas, sowel as die personeel wat hul versorg.

“Dit is daarom baie belangrik dat ons ons deel doen om die verdere verspreiding van Covid-19 in ons land te onderdruk. Doen ons dit nie, gaan daar meer druk op die beskikbare geriewe en ander hulpbronne wees,” het Shangula gemaan.

Hoewel die nasionale besettingskoers vir beddens in isolasie en hoësorg/ICU’s onderskeidelik 33% en 38% is, is dié koers in Khomas alleen reeds 85%.

“In die private sektor is dit selfs meer kommerwekkend, met nasionale besettingskoerse vir isolasie en hoësorg/ICU’s wat onderskeidelik 76% en 83% is.”

Hy het gemaan Namibië kan nie bekostig dat sy gesondheidstelsel deur Covid-19-pasiënte oorweldig word nie.

Shangula het egter beklemtoon die huidige daaglikse aantal Covid-19-gevalle in die land dui nie op ’n derde golf nie.

Me. Esmé Botes, direkteur van Rhino Park en voorsitter van die Namibiese Vereniging vir Private Gesondheidsgeriewe (NAPH), het op haar beurt beaam hospitale ervaar ’n toename in pasiënte.

“Die meeste geriewe hardloop op volle kapasiteit,” sê Botes.

Volgens haar is pasiënte “regtig siek”.

“Almal probeer steeds om alle pasiënte te huisves wat veroorsaak dat ons ons suurstof, personeel en toerusting baie mooi moet bestuur.”

Met verwysing na private hospitale, sê Botes suurstoftekorte word nie tans hier ervaar nie.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!