Nog drie vegters nou in Brit se stal
Die nuwe drietal is veel minder bekend as hul landgenote Paulus Ambunda en Sakaria Lukas.
Andrew Poolman - Die Britse bokspromotor Scott Patrick Farrell het as stigter en uitvoerende hoof van Global Boxing Stars (GBS) die kontraktering van drie betreklik onbekende Namibiese beroepsboksers aangekondig.
Farrell het reeds twee Namibiese vegters met hoër profiele in sy stal, naamlik die viermalige wêreldkampioen Paulus Ambunda en die gewese WBO Afrika veergewigkampioen Sakaria Lukas (Desert Storm).
Vir die nuwe drietal Jonas Matheus, Lazarus Shaningwa en Matias Hamunyela kan die bevestiging dat GBS voortaan as hul promosiemaatskappy optree, 'n betekenisvolle hupstoot vir hul loopbane wees.
Selfs ernstige volgers van Namibiese boks sal verskoon kan word indien hulle nie werklik met enige van die drie se stamboek bekend is nie, wie se beste prestasies meer op hul amateurrekords as beroepsvegters gegrond is.
Die kapokgewig Jonas Matheus het die langste professionele rekord van die drie met 14 oorwinnings, een nederlaag en een gelykopgeveg. Hy het sy land tevore as amateur by die 2012 Olimpiese Spele in Londen verteenwoordig, nadat hy 'n goue medalje by die kwalifiserende Afrika-toernooi behaal het. Goue medaljes by die Sone 4 Spele (2013) en die 2014 Afrika-spele was ander hoogtepunte as amateur.
Die liggewig Lazarus Shaningwa sluit by die GBS-kamp aan met 'n goeie amateurrekord van 140 oorwinnings en 12 nederlae. Met die frokkie aan het hy by die 2014 Statebondspele in Delhi die ronde van 16 gehaal voordat hy uitgeskakel is. Dit het gevolg op 'n goue medalje by die Sone 6-kampioenskap. Vandat hy die beroepskryt betree het, is hy onoorwonne in drie gevegte en het hy ook die nasionale titel as liggewig ingepalm.
Matias Hamunyela, 'n ligvlieggewig, spog eweneens met 'n wenrekord van 81-7 ná afloop van sy amateurdae, wat ook 'n Afrikabeker-brons in 2014, silwer by die Afrika-spele van 2015 en silwer by die 2016 kontinentale uitduntoernooi vir die Olimpiese Spele insluit. By die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro in 2016 het hy een geveg gewen, voordat hy uitgeskakel is.
Hamunyela het in 2018 ook by die Statebondspele in Australië se Gouekus geboks, waar hy in die ronde van 16 uitgeskakel is. Hy het in Desember 2019 in Windhoek sy debuut as professionele bokser gemaak en met 'n oorwinning weggespring.
PLAASLIKE BESTUURDER
Farrell sê in 'n nuusverklaring: “Dit is nog 'n goeie dag vir die span van Global Boxing Stars en ek verwelkom drie uitsonderlik talentvolle boksers in ons familie.
“Dit alles is moontlik gemaak deur hul medebestuurder wat pas aangestel is as GBS se verteenwoordiger in Namibië, naamlik Vakufilapo Wilhelm wat in sy dae as beroepsbokser ook op die alias Cowboy bekend was. Ek is verheug om hierdie drie vooruitsigte aan boord te hê en ons het groot planne met al drie.”
Wilhelm het in 2018 uitgetree ná 'n kort, belowende twee jaar as beroepsvegter waarin hy sewe uit sewe gevegte gewen het (ses uitklophoue). As junior middelgewig het hy 'n Namibiese nasionale titel, asook die WBF Afrika-gordel ingepalm.
Wilhelm sê: “Dit is wonderlik om met Scott en GBS te werk, want hy is ingestel op wat die beste vir die groeiende loopbaan van die vegters is. Dis iets wat ek bewonder en ek koester dieselfde doelwit.
“GBS het sterk konneksies in die bokswêreld met van die voorste promotors en vegknopers. Scott werk met die grootste name, soos Manny Pacquiao. Ons eie Paulus Ambunda en Sakaria Lukas kry ook goeie geleenthede as lede van die GBS-kamp.
“My strewe is om professionele boksers in Namibië te help om die regte pad na internasionale sukses te vind, of minstens die geleentheid om te probeer. Ek en Scott dink dieselfde oor ons doelwitte, tesame met my mede-Namibiër, die ervare afrigter en vegknoper Imms Moses van AC Boxing.
“Ek hou van GBS omdat hulle beleggings maak om dinge te laat gebeur. Scott het 'n plan en ek het daarby ingekoop. Tesame wil ons meer wêreldkampioene oplewer wat vir Namibië internasionale aansien verwerf.”
KOMENDE GEVEGTE
GBS en AC Boxing werk reeds saam om boksgeleenthede in Namibië aan te bied. Hul eerste poging was 'n groot sukses, met die volgende een wat vir 3 April in Windhoek geskeduleer is en waar die nuwe drietal Hamunyela, Matheus en Shaningwa hul eerste verskyning as GBS-vegters sal maak.
Sakaria Lukas (Desert Storm) se groot geleentheid op 14 Maart in New York teen die Amerikaner en gewese wêreldtitelhouer Jessie Magdaleno sal onder die GBS-vaandel wees, net soos Paulus Ambunda (El Jesus) se terugkeer na die bokskryt in Harare op 18 April.
Farrell voeg by: “Namibië is 'n wonderlike land met wonderlike mense en hulle is lief vir boks. Om met hierdie talentvolle vooruitsigte en 'n voormalige wêreldkampioen te werk, is vir my 'n eer en 'n periode in my lewe wat ek altyd sal koester.
“Ek het diep respek vir beide Wilhelm en Imms. Saam kan ons vele aanspraakmakers op wêreldtitels na vore bring en hopelik binnekort nog 'n wêreldkampioen oplewer.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie