Nog drie weke van koue
Dit is seldsaam, en ook baie belowend vir reënvooruitsigte, dat die hele westelike Indiese Oseaan, vanaf die horing van Afrika tot by Kaapstad, koeler as normaal is.
Elvira Hattingh
Ofskoon die lente vandeesweek amptelik aangebreek het, sal Namibiërs vir ten minste die eerste drie weke van September nog koud kry.
Volgens mnr. Johan van den Berg, 'n landbouweerkundige-konsultant sal die sentrale en suidelike dele van die land steeds ondergemiddelde minimum temperature, meestal koeler as 10 °C ervaar.
Terselfdertyd sal baie warm tot bloedige weer vanaf die tweede week in September oor die noordelike dele van die land voorkom.
Van den Berg sê ook Namibiërs moet nie beduidende reën tot ten minste die middel van Oktober verwag nie.
“Tog is vooruitsigte vir somerreën vanaf November báie positief,” het hy in sy jongste klimaatsvooruitskouing van Woensdag (1 Sept) gesê.
Van den Berg sê weerkundiges is redelik seker ‘n swak tot matige La Niña sal tydens die somermaande van 2021–’22 ontwikkel. Die La Niña ontwikkel egter nog en daar is onsekerheid oor met watter intensiteit dit sal posvat.
“Wat belangrik is, is dat daar ‘n enorme gebied in die Stille Oseaan is waar die seeoppervlaktemperature tans koeler as normaal is, alhoewel dit nog nie baie intens is nie.”
Die seeoppervlaktemperature in die Indiese Oseaan is ook koeler en dus bevorderlik vir reën in Suider-Afrika. As dit met La Niña-toestande gekombineer kan word, kan dit help met gemiddelde tot bogemiddelde reënneerslae vir Suider-Afrika.
“Bykans die hele westelike Indiese Oseaan, vanaf die horing van Afrika tot by Kaapstad, is nou koeler as normaal. Dit is ‘n unieke verskynsel wat selde voorkom en is baie positief vir somerreën,” het hy gesê.
SUIDER-AFRIKA
Van den Berg se vooruitsigte stem ooreen met voorspellings wat gemaak is ná afloop van die 25ste Suider-Afrikaanse Forum vir Streekklimaatvooruitsigte (Sarcof-25) se konferensie, wat Maandag en Dinsdag virtueel gehou is.
Tydens die geleentheid het klimaatkundiges normale tot bonormale reën vir die komende seisoen oor die grootste dele van die SADC-streek voorspel, terwyl die wetenskaplikes ook van mening is dat daar ‘n kans bestaan dat La Niña-toestande sal ontwikkel.
Normale tot bonormale reën sal oor die grootste dele tussen Oktober en Desember voorkom, met die uitsondering van onder meer die noordweste van Angola, westelike dele van Namibië en Suid-Afrika, waar normaal tot ondernormale reën verwag word.
Tussen Januarie en Maart 2022 word daar ook normale tot bonormale reën verwag, maar weer eens met uitsondering van die suidweste van Angola, asook die verre westelike dele van Namibië en Suid-Afrika.
Uit die Sarcof-streekverslag sal individuele lande voorts nasionale vooruitsigte ontwikkel wat fyner besonderhede bevat.
Die voorspellers meen terwyl ‘n goeie reënseisoen goed vir landbou, waterbronne en hidrokragopwekking in die streek sal wees, verhoog dit ook die kans op vloede, siklone, die uitbreking van sprinkane, die herfskommandowurm en watergebaseerde siektes soos malaria en cholera.
Soos dit die geval met Namibië is, verwag buurlande soos Suid-Afrika en Zimbabwe ook van hul beste gewasoeste in dekades ná afloop van die goeie 2020-’21-reënseisoen. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie