Nog ''n dwergwalvis strand in Walvisbaai
Christo Retief op Swakopmund – Die stranding en vrekte van ‘n derde dwergbaleinwalvis naby Walvisbaai het die moontlikheid versterk dat Namibië die teelgebied van hierdie uiters skaars en byna onbekende walvissoort kan wees.
Wetenskaplikes was tot onlangs nog daarvan oortuig dat die dwergbaleinwalvis (pygmy right whale, Caperea marginata) reeds uitgesterf het.
Verlede week het ‘n jong dwergwalvis van sowat 3,5 meter in die omgewing van Walvisbaai se soutpanne op die strand beland.
‘n Werknemer van die soutmyn het die Namibiese dolfynprojek van die stranding in kennis gestel en volgens dr. Daniela Maldini, ‘n wêreldbekende ekoloog en bioloog by die projek, is ‘n onmiddellike reddingspoging van stapel gestuur.
‘n Plaaslike toeroperateur, mnr. Theunis Keulder, het sy dubbelrompbote vir die operasie beskikbaar gestel en die reddingspan kon daarin slaag om die walvis weer in die diepsee te besorg.
Dr. Maldini het gister egter bevestig dat die karkas van die walvis wel later opgespoor is tydens ‘n soektog in die gebied waar die soogdier vroeër vrygelaat is.
Volgens haar was dit ‘n baie jong, vroulike walvis wat baie onlangs gesoog is. Haar onervarenheid en die trauma van haar skeiding met haar ma, kon dalk daartoe bygedra het dat sy rigtingloos in die see begin rondswem het.
Baba-dwergbaleinwalvisse het gedurende Januarie 2010 en weer in Februarie 2013 op strande naby Walvisbaai uitgespoel.
Volgens dr. Maldini is dit ‘n insiggewende verskynsel veral omdat daar baie min wetenskaplike kennis van dié uiters skaars walvissoort beskikbaar is.
“Ons weet nie waar hulle teel nie. Ons weet nie waar hul voedingsgebiede is nie en hulle word baie selde in die see gesien. Om nou drie strandings naby Walvisbaai te sien, kan beteken dar hier dalk ‘n teelgebied vir die dwergwalvisse kan wees,” het sy gesê.
Volgens dr. Maldini is Namibië se gebiedswaters ‘n ware “onontdekte gebied” met ongekende navorsingsmoontlikhede soos dié van dwergwalvisse.
Sedert 2012 het wetenskaplikes vasgestel dat die dwergbaleinwalvis gereeld in die see van Tasmanië voorkom en ook seisoenaal langs die kus van Suid-Australië, Nieu-Seeland en die Falkland-eilande aangetref word. Die walvis is ook al in Suid-Afrika waargeneem.
Die gemiddelde lengte van die walvis is sowat 6,1 meter en dit kan tot vyf ton weeg.
Geen statistiek is egter beskikbaar oor die totale wêreldbevolking van die walvisse nie en dus ook geen inligting oor hul gewoontes nie.
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie