Nog ’n firma gee KPMG die trekpas
Nog ‘n groot kliënt van die ouditeursmaatskappy, KPMG, het hul rug op die onderneming gedraai.
Die Industrial Development Corporation (IDC) het KPMG as sy ouditeur vervang, volgens Fin24.
Die IDC, die staatsbeheerde ontwikkelingsfirma wat mediumgrootte tot groot nywerhede finansier, het SizweNtsalubaGobodo en Ngubane & Company as sy gesamentlike ouditeurs vir die boekjaar tot einde Maart 2018 aangewys.
Die IDC is die soveelste instansie wat KPMG afdank. Mees onlangs het Sibanye-Stillwater, Absa en Redefine KPMG afgedank, en vantevore Sygnia, Sasfin en ’n hele klomp ander.
Nedbank, Standard Bank en Sappi is onder die enkele groot firmas wat nog van KPMG se dienste gebruik maak.
Die ouditeur-generaal het KPMG in April afgedank as een van die ouditeurs wat hy kontrakteer om staatsdepartemente se boeke te oudit.
KPMG is onder beleg omdat hy aan verskeie fronte by staatskaping betrek is.
KPMG was onder meer die ouditeurs van Linkway Trading, ’n Gupta-beheerde firma waarheen geld na bewering gevloei het wat vir die Vrede-suiwelplaas, ’n mislukte bemagtigingsprojek in die Vrystaat, bedoel was. Uiteindelik het nagenoeg R30 miljoen van dié geld glo help betaal vir die luukse Sun City-troue van Vega Gupta, ’n troue wat deur verskeie KPMG-ouditeurs bygewoon is, onder meer Moses Kgosana, voormalige uitvoerende hoof van KPMG Suid-Afrika.
KPMG het ook in opdrag van Tom Moyane, geskorste kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), ’n verdoemende verslag opgestel oor ’n spesiale ondersoekeenheid van die SAID wat die “rogue unit” gedoop is.
Dié eenheid, wat op die been gebring is toe Pravin Gordhan jare vantevore die kommissaris was, moes onder meer welvarende mense se belastingsake ondersoek, maar die verslag het gesinspeel op onwettige bedrywighede soos dat lede by pres. Jacob Zuma se huis ingebreek het en ’n bordeel as frontmaatskappy bedryf het.
KPMG het verlede jaar die hele verslag herroep en het daarvoor om verskoning gevra.
Johann van Loggerenberg, ’n voormalige bestuurder van die SAID wat by die eenheid betrek is, het die onwettige bedrywighede in ’n lang Facebook-inskrywing die afgelope week as “loutere onsin” afgemaak.
Die mees onlangse klagte teen KPMG is dat hy VBS Mutual Bank geouditeer het. Dié bank is op 11 Maart deur die Reserwebank in kuratele geplaas omdat dit kontantvloeiprobleme ondervind het.
Sedertdien het Anoosh Rooplal, direkteur by die ouditfirma SizweNtsalubaGobodo wat as kurator van die bank aangestel is, die bank se jaarresultate herroep omdat dit wesenlike wanvoorstellings bevat.
Twee vennote van KPMG, Sipho Malaba en Dumi Tshuma, het bedank nadat hulle ingelig is dat hulle dissiplinêr verhoor gaan word oor wat by VBS gebeur het.
Rooplal het in sy voorlopige verslag oor die bank gesê die bank is “baie sleg bestuur” en daar is rede om te glo dat daar bedrieglike verslagdoening en manipulasie van finansiële inligting by die bank was.
KPMG word deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters en die Onafhanklike raad van Ouditeurs ondersoek. Die firma het al verskeie skuiwe in sy direksie en bestuur gedoen in ’n poging om sy beeld te herbou. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie