Nog ’n isolasiegerief vir Walvisbaai
Die Welwitschia-hospitaal is besig om ’n isolasie-fasiliteit op te rig wat vandeesweek sy deure sal open.
Leandrea Louw op Walvisbaai
Die Welwitschia-hospitaal is tans besig om ’n isolasiefasiliteit in Walvisbaai op te rig wat 40 Covid-19 pasiënte kan huisves.
Volgens die hospital se bestuurder van menslike hulpbronne, me. Estelle Ackerman, is dié fasiliteit ’n uitbreiding van die bestaande nege-bed intensiewesorgeenheid en 24-bed-saal vir pasiënte wat vermoedelik Covid-19 onder lede het.
Die suurstofkapasiteit by Welwitschia is ook van 100 liter tot 300 liter verhoog.
“Konstruksiewerk het op 15 Julie begin en is binne vier weke voltooi. Die fasiliteit sal dié week sy deure open en sal spesifiek gebruik word vir die behandeling van pasiënte wat positief vir Covid-19 getoets het.”
Die fasiliteit spog met ’n administrasieblok, stasies vir dienspersoneel om beskermende drag aan en uit te trek, ’n verpleegstasie in die middel van die isolasiefasiliteit, asook ’n klein area binne die fasiliteit waar pasiënte hul bene kan strek.
’n Bykomende 16 personeellede is ook op kontrakte van ses maande aangestel om by die fasiliteit te help.
Ackerman sê die fasiliteit sal vir staats- en private pasiënte oop wees. “Pasiënte sal dieselfde sorg by Welwitschia ontvang teen ’n goedkoper prys. Aangesien dit net ’n tydelike fasiliteit met die basiese geriewe is, sal pasiënte nie dieselfde tarief as diegene in die hospitaal betaal nie.”
Die fasiliteit sal slegs operasioneel bly solank Covid-19 ’n bedreiging is.
“Net ’n klein deel van die koste wat aangegaan is, is vas en van die toerusting binne die fasiliteit is gehuur. Ons moet die Walvisbaai-gemeenskap opreg bedank vir hul ondersteuning en hulp. Hierdie fasiliteit is werklik ’n gemeenskapsprojek,” het Ackerman gesê.
KLASSIFIKASIE VAN PASIËNTE
Suster Eleanor Jansen, die koördineerder vir die infeksie-voorkoming en -beheer vir Covid-19-gevalle in die hospitaal, het gesê daar word onderskei tussen ligte, matige, ernstige en kritieke pasiënte.
“Enige pasiënte met bloedsuurstofvlakke onder 94% word as matige pasiënte geklassifiseer. Die nuwe fasiliteit sal as akkommodasie dien vir matige pasiënte wat suurstof benodig om hul gesondheid te verbeter. Sodra die pasiënt meer kritieke sorg benodig, sal hy of sy oorgeplaas word na die Covid-19 intensiewe sorgeenheid (ICU) wat langsaan geleë is.”
Jansen het gesê toe die Covid-gevalle in Walvisbaai ’n hoogtepunt bereik het, het die hospitaal besef daar is nie genoeg beddens om almal te akkommodeer nie. Die 24-bed-saal wat eerste opgerig is, maak voorsiening vir moontlike en bevestigde Covid-pasiënte (12 beddens elk).
Daar is tans ses pasiënte op ventilators en drie in die hoësorgeenheid in die hospitaal.
Volgens Jansen wag mense gewoonlik tot die laaste oomblik om mediese hulp te soek as hulle siek word.
“Daar heers tans baie kommer en ons wens Namibiërs kan besef hoe ernstig hierdie siekte is. Mense is bang om gestigmatiseer te word as dit by Covid-19 kom, en is bang om in isolasie geplaas te word. In baie gevalle wag hulle tot dit te laat is voor hulle mediese hulp soek.”
‘TREE SPOEDIG OP’
Sy het benadruk dat dit belangrik is om onverwyld op te tree wanneer jy ligte simptome toon soos hoes, keelseer, koors, diarree of verlies aan smaak en reuk.
“Moenie sê dit is net griep en jy het medisyne tuis nie. Ons kan nie met Covid-19 rondspeel nie. Dit is dodelik. Tree op sodra jy simptome toon. Covid-19 is ’n werklikheid. Die uitkoms sal beter wees as jy vinniger mediese hulp kry.”
Jansen het diegene met Covid-19 simptome aangeraai om mediese hulp te kry om die regte medikasie te ontvang.
“Tuisbehandelings hou meer verband met kruiemedisyne, maar sodra daar ’n chemiese middel betrokke is, het jy ’n mediese dokter nodig om medikasie voor te skryf.”
Sy het gewaarsku teen die gebruik van medisyne wat vir ’n familielid voorgeskryf is.
“Dit word voorgeskryf volgens die persoon se persoonlike gesondheidsbehoeftes. Elke medikasie het newe-effekte, selfs Panado. Jy kan nie verskillende medikasies saam gebruik nie, aangesien jou lewer, hart of enige ander lewensbelangrike organe beskadig kan word. Jy moet mediese hulp kry as jy nie gesond is nie.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie