Nog u2019n lang pad voor vir die Afrika-Unie
Nog u2019n lang pad voor vir die Afrika-Unie

Nog ’n lang pad voor vir die Afrika-Unie

Die AU is steeds ’n baie lomp burokrasie wat gebuk gaan onder rigtingloosheid, interne twis en onproduktiwiteit. Dit is jammer, want Afrika het dié unie nodig, skryf Liesl Louw-Vaudran.
Liesl Louw-Vaudran - Die afgelope naweek het Afrikaleiers, insluitend pres. Cyril Ramaphosa, in Addis Abeba bymekaar gekom om te besluit oor ’n nuwe struktuur vir die Afrika-Unie (AU).

Die opkoms was maar beroerd.

Skaars ’n vyftiental van Afrika se 55 staatshoofde het opgedaag en die meeste van hulle, soos Ramaphosa, is ná die eerste dag weer huis toe.

Dis jammer, aangesien die pogings om die AU te versterk op die lang duur in almal se belang is.

Die AU is steeds ’n baie lomp burokrasie wat gebuk gaan onder rigtingloosheid, interne twis en onproduktiwiteit.

Die AU is die enigste organisasie met die mandaat om in te gryp in krisisse op die vasteland. Dit het die laaste paar jaar heelwat slim jong Afrikane in diens geneem wat ywerig is om toe te sien dat demokrasie en vrede seëvier. Dit het ook al heelwat bereik wanneer dit kom by ekonomiese integrasie en die daarstel van ’n kontinentale vrye handelsgebied.

Tog bly die AU steeds ’n baie lomp burokrasie wat gebuk gaan onder rigtingloosheid, interne twis en onproduktiwiteit.

Om die AU te versterk, het Rwanda se pres. Paul Kagame in Julie 2016 besluit om ’n reeks hervormings voor te stel. Dit was daarop gemik om die instelling se prioriteite reg te kry en om seker te maak net die beste mense werk by die AU.

Kagame wou ook toesien dat Afrikalande hul bydraes aan die organisasie betaal sodat dit minder hoef staat te maak op buitelandse skenkers soos die Europese Unie.

Kagame se planne om die AU te hervorm, was net gedeeltelik suksesvol.

Teen laat Sondagmiddag in Addis Abeba het die paar oorblywende staatsleiers in die saal en die ministers en ambassadeurs wat hul leiers se stoele warm hou, nog oor klein onderafdelings van die hervormings gekibbel.

Kagame wou byvoorbeeld die reëls verander sodat die voorsitter van die AU kommissie in Addis Abeba – ’n pos wat voorheen deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma beklee is – meer magte sou hê om ’n doeltreffende span daar te stel wat op meriete gekies sou word.

Hierdie idee is deur die ander leiers verwerp en die voorsitter van die kommissie, sowel as sy of haar adjunk en ses kommissarisse, gaan steeds deur ’n stemmery van lidlande verkies word. Dit maak dit baie moeilik vir die kaptein om haar skip suksesvol in ’n rigting te stuur met ’n span wat deur politieke toutrekkery verkies is eerder as deur ’n mededingende aanstellingsproses.

AFRIKA HET AU NODIG

Die aanstelling van die AU se topbestuur is maar een voorbeeld van die hervormings wat oor die laaste twee jaar in die hek geduik het.

Daar is egter wel vordering gemaak om aan lidlande doeltreffender meganismes voor te stel vir die betaal van hul lidmaatskapgeld en om sanksies te versterk teen diegene wat nie betaal nie.

Die twee jaarlikse AU-vergaderings, wat baie geld kos, is tot net een per jaar verminder.

Sub-organisasies van die AU soos die Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling (Nepad) en die Afrika-portuurhersieningsmeganisme (APRM), wat albei dateer uit die era toe oudpres. Thabo Mbeki die septer geswaai het, sal ook voortaan beter in die organisasie geïntegreer word. Nepad word byvoorbeeld verander in die AU Ontwikkelingsorganisasie wat ’n mandaat het om hulpskemas en ekonomiese ontwikkelingsplanne te koördineer. Hoe presies dit gaan werk, weet niemand nog nie en sommige kritici meen Nepad en die APRM is uitgedien.

Hulle bestaan albei al meer as tien jaar en moet nog aan Afrikane bewys dat hulle wel hul sout werd is, aangesien hulle ook belastingbetalers se geld gebruik.

Strukture soos die Pan-Afrika parlement, wat onder baie kritiek van ondoeltreffendheid en spandabelrigheid deurloop, is in hierdie stadium nog onaangeraak – ’n verdere teken dat Kagame nog nie werklik die AU in sy geheel kon hervorm nie.

Organisasies soos die AU is baie moeilik om te bestuur en die Europese Unie, met net 28 lidstate (27 ná Brexit in Maart aanstaande jaar) sukkel maar met dieselfde burokratiese probleme.

Tog is daar eenstemmigheid in Afrika dat integrasie ons voorland is. Klein Afrika-state, en selfs grotes soos Suid-Afrika, het tot ’n meerdere of ’n mindere mate wel die AU nodig.

Gewone Afrikane hoop dat die AU tot hulle redding sal kom wanneer hul eie regerings teen hulle draai en hul menseregte minag. Vir die AU om dit te kan doen moet dit ’n sterker en doeltreffender organisasie word – ’n doelwit wat ongelukkig nog ver van verwesenliking is.

* Liesl Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Haar jongste boek is Superpower or Neocolonialist? South Africa in Africa. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!