Nog u2019n ontdekking vir HESS
Nog u2019n ontdekking vir HESS

Nog ’n ontdekking vir HESS

’n Opwindende ontdekking is gemaak nadat die HESS-teleskope ingespan is om die naaste radiosterrestelsel aan die aarde vir sowat 200 uur te bestudeer.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – ’n Nuwe ontdekking wat met behulp van die Khomas Hochland se HESS-teleskope gemaak is, bied nou aan die wetenskapswêreld nuwe insigte oor die uitstraling van radiosterrestelsels.

Tydens ’n internasionale projek waartydens meer as 200 wetenskaplikes uit 13 lande saamgewerk het, is ontdek dat die hoë-energie gamma-uitstraling van kwasars nie in die streek naby hul sentrale gravitasiekolk gekonsentreer is nie.

In werklikheid strek dit oor etlike duisende ligjare, tesame met hul plasmastrale.

Kwasars verwys na sterrestelsels met ’n baie hoë energiekern.

Die nuwe ontdekking verander bestaande scenario’s van hoe plasmastrale reageer.

CENTAURUS A

Die H.E.S.S-observatorium in Namibië is in ’n internasionale astrofisika-samewerkingsprojek ingespan om ’n radiosterrestelsel vir meer as 200 uur te bestudeer. ’n Radiosterrestelsel verwys na ’n sterrestelsel wat hoogs sigbaar is as dit deur radiogolflengtes waargeneem word.

Centaurus A is die naaste radiosterrestelsel en daarom die mees geskikte een om bestudeer te word. Dit het wetenskaplikes in staat gestel om te identifiseer van waar die hoë-energie bestraling vandaan kom, terwyl die trajek van die plasmastrale ook bestudeer is.

Die wetenskaplikes kon ook bewys die gammastrale strek oor duisende ligjare. Dié uitgebreide uitstraling is ’n bewys die versnelling van deeltjies materie vind nie net naby die gravitasiekolk plaas nie, maar in die hele lengte van die plasmastrale.

Op grond van die nuwe inligting, word nou geglo die deeltjies word deur stogastiese prosesse in die straal versnel.

Die ontdekking dui daarop dat baie radiosterrestelsels met uitgebreide strale elektrone tot ekstreme energieë versnel en moontlik gammastrale uitstraal. Dit verduidelik dalk die oorsprong van verspreide ekstragalaktiese gamma-agtergrondstraling.

Die bevindings bied belangrike nuwe insigte oor kosmiese gammastraal-uitskieters en veral oor die rol van radiosterrestelsels as hoogs doeltreffende relativistiese elektroonversnellers.

GAMMASTRALE

Wetenskaplikes het oor die afgelope jare die heelal bestudeer deur van gammastrale gebruik te maak, wat baie hoë-energie fotone is. Gammastrale, wat deel uitmaak van die kosmiese strale wat die aarde voortdurend bombardeer, kom van plekke in die heelal waar deeltjies tot enorme energieë versnel word.

Dit kan nie in mensgemaakte versnellers nageboots word nie.

Gammastrale word deur ‘n verskeidenheid van kosmiese voorwerpe uitgespuug, wat kwasars insluit. Die intensiteit van die bestraling wat deur die stelsels uitgestraal word, kan oor tydperke van so kort as ’n minuut verskil.

Om dié rede het wetenskaplikes geglo die bron van hierdie bestraling moet baie klein wees. Dit moet ook naby ’n reuse- gravitasiekolk geleë wees wat ’n massa kan hê wat miljarde kere meer as dié van die son is.

Daar word geglo dat gravitasiekolke materie wat tot binne in dit spiraal, eers verslind en dan ’n klein gedeelte daarvan in die vorm van groot plasmastrale uitskiet. Dit gebeur teen relatiewe snelhede, nagenoeg aan die snelheid van lig, en dra dus by tot die herverspreiding van materie in die heelal.

SAMEWERKING

Die navorsing wat in die wetenskapsjoernaal Nature gepubliseer is, is gedoen as deel van die HESS-samewerkingsprojek, waarby veral Frankryk se atoomenergieagentskap (CEA), asook hul nasionale sentrum vir wetenskaplike navorsing en die Max Planck-gemeenskap by betrokke was.

Verder het ’n groep navorsingsinstitute en universiteite in Duitsland, Suid-Afrika, asook die Universiteit van Namibië (Unam) hieraan deelgeneem.

HESS is, tot op hede, die mees sensitiewe gammastraal observatorium in die wêreld en boonop die enigste wat tydens die Covid-19-pandemie werksaam was.

Buiten daarvoor dat hulle gereeld die teleskope beman, is die HESS-groep by Unam meestal betrokke met die bestudering van onder meer radiostelsels soos Centaurus A, asook die karakterisering van teleskoopkameras en die verbetering van data-analise-metodes.

Unam se fisika-afdeling is ook betrokke by ander groot internasionale projekte soos die Cherenkov Telescope Array (CTA), die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (SALT), die Square Kilometer Array (SKA), die African VLBI Network (AVN), asook die Afrika Millimeter Teleskoop (AMT).

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!