• Tuisblad
  • Sake
  • Nog 'n Pepkor-saak teen Mr. Tekkie-partye aangehoor
Nog 'n Pepkor-saak teen Mr. Tekkie-partye aangehoor
Nog 'n Pepkor-saak teen Mr. Tekkie-partye aangehoor

Nog 'n Pepkor-saak teen Mr. Tekkie-partye aangehoor

Nellie Brand-Jonker – Nog ’n hofaansoek van Pepkor teen die partye wat by die nuutgestigte skoenwinkelgroep Mr. Tekkie betrokke is, word Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.

Die aansoek is op ’n semi-dringende grondslag ingedien om ’n tussentydse interdik te kry teen Abraham Johannes (Braam) van Huyssteen, Bernard Eugene Mostert en AJVH Holdings om hulle te beperk om die handelsnaam Mr. Tekkie vir kleinhandelwinkels te gebruik.

Die applikant Pepkor Speciality voer aan deur die handelsnaam Mr. Tekkie te gebruik skend hulle sy handelsnaam Tekkie Town. Die applikant voer aan klante kan Mr. Tekkie se winkels met dié van Tekkie Town verwar, of onder die wanindruk verkeer dat daar ’n verband tussen die twee winkelgroepe is.

Die tussentydse interdik word gevra hangende die finale uitkoms van sy hofaansoek om die handelsname Mr. Tekkie en Shoe Device, wat deur die beslote korporasie Model Sports Franchising, die vierde respondent in die saak, gehou word, van die register van handelsname te skrap.

Die respondente voer aan daar is nie ’n merkbare gevaar dat die twee handelsname verwar kan word nie. Hulle voer ook aan dat die handelsnaam Mr. Tekkie geregistreer is en in gebruik was voor Tekkie Town se handelsnaam geregistreer is.

Die hofsaak sit die ongelukkige nasleep van die ineenstorting van Steinhoff vir Van Huyssteen en Mostert voort. Van Huyssteen, wat Tekkie Town begin het, en Mostert, wat sy uitvoerende hoof was, was in 2016 onder die aandeelhouers wat die maatskappy aan Steinhoff verkoop het.

Steinhoff het verlede jaar al sy Afrika-winkelgroepe in Steinhoff African Retail (Star) geplaas, waaronder Tekkie Town. Star is intussen tot Pepkor herdoop.

Van Huyssteen-hulle is met Steinhoff-aandele betaal, wat hulle vir drie jaar moes hou, maar ná die ineenstorting van die maatskappy se aandeelprys is die aandele baie minder werd as waarvoor hulle Tekkie Town verkoop het. Hulle het vroeër die jaar ’n eis teen Steinhoff ingedien om weer in die posisie geplaas te word waarop hulle 29 Augustus 2016 – voor die transaksie – was.

Hulle eis ook, indien Steinhoff nie die herstel kan bewerkstellig nie, dat die eisers vergoed word vir hul deel van die totale koopsom van R3,2 miljard. Dit kom neer op sowat R1,8 miljard.

Nadat hul paaie vanjaar met dié van Pepkor geskei het, het hulle Mr. Tekkie begin.

Dit is die tweede keer binne ’n maand dat die twee partye in die hooggeregshof in Kaapstad is. In November is ’n aansoek om ’n dringende tussentydse interdik van Pepkor aangehoor en toegestaan om die vyf stigters van Mr. Tekkie te verbied om sekere tekkies op sy rakke te hou hangende die uitslag van sy aansoek oor ’n handelsbeperking op hulle as die voormalige eienaars van Tekkie Town en omdat hulle tot onlangs nog vir Pepkor gewerk het.

Die respondente in dié saak, ingesluit Van Huyssteen en Mostert, het te kenne gegee hulle gaan appelleer teen die uitspraak. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!