Nog stemme van verset teen inhokking
Henriette Lamprecht
Terwyl gevalle van die Omicron-variant van Covid-19 in talle oorsese lande bevestig word en midde 'n groot waarskynlikheid dat die variant reeds op eie bodem aanwesig is, het nog stemme in Namibië gister teen groot dele van die wêreld se inhokking van Suider-Afrika opgegaan.
Mnr. Pohamba Shifeta, minister van die omgewing, bosbou en toerisme, het hierdie inperkings as “onaanvaarbaar, diskriminerend en teenstrydig” met die raad van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) verwerp.
Op die vooraand van die feesseisoen sal die optrede volgens Shifeta 'n verwoestende uitwerking op toerisme en almal hê wat van die bedryf afhanklik is. Die minister het gesê diplomasie sal ingespan word om lande te oortuig om hul besluite te heroorweeg.
Mnr. Sven Thieme, uitvoerende voorsitter van die Ohlthaver en List-groep, het gesê die inperkings sal tot die totale verlamming van die ekonomieë van die geraakte lande lei.
“Ons praat van 'n gesamentlike bevolking van meer as 300 miljoen mense wie se lewens op die spel is en die res van die wêreld slaan die deur in ons gesig toe sonder enige konsultasie, ondanks al die toegewydheid wat ons getoon het. Dit is krimineel!”
Plaaslik het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gesê die uitslae van genoomtoetsing vir die variant in Namibië word voor Vrydag verwag.
VERDRAG OOR PANDEMIES
Die direkteur-generaal van die WHO, dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, het gister gesê Covid-19 het fundamentele swakplekke in die globale argitektuur vir voorbereiding en reaksies op pandemies blootgelê en vererger.
Hy was aan die woord tydens 'n spesiale sitting van die WHO wat ook virtueel deur Namibië se minister van gesondheid en maatskaplike dienste asook verskeie lede van die land se taakspan vir immuniserings bygewoon word.
Die beste manier om die swakplekke te takel, is volgens Ghebreyesus 'n wettige en bindende internasionale ooreenkoms; “gesmee uit die erkenning dat ons geen toekoms buiten 'n gesamentlike toekoms het nie. Die tyd het vir lande gekom om in te stem tot 'n algemene, bindende benadering tot 'n gedeelde bedreiging wat ons nie ten volle kan beheer of voorkom nie”, het hy gesê.
Omicron beklemtoon volgens Ghebreyesus hoe “gevaarlik en onseker” die situasie is en waarom die wêreld 'n nuwe ooreenkoms oor pandemies nodig het.
Hy was vol lof vir Suid-Afrika en Botswana wat die nuwe variant aangemeld het en sê hulle moet bedank, eerder as gestraf word.
Die beraad loop môre ten einde.
NUWE GEVALLE
Teen gister het 11 lande al nuwe gevalle van Omicron aangemeld.
Wetenskaplikes is tans besig met navorsing oor onder meer hoe oordraagbaar Omicron is, of dit sekere ouderdomsgroepe meer teiken en of daar 'n risiko is vir herinfeksie vir diegene wat ingeënt is.
'n Sestigjarige vrou wat Namibië saam met 'n toergroep besoek het, het in die Tseggiese Republiek positief vir Omicron getoets. Volgens die United News of India het die vrou tien dae gelede via Suid-Afrika en Dubai van Namibië af teruggekeer.
Sy is in isolasie saam met agt ander mense wat deel van dieselfde toergroep was en wat van haar familielede insluit. Die kontakte van elkeen word nagespoor.
Volgens Netwerk24 het een van die 13 sokkerspelers en werknemers van die Belenenses-sokkerklub in Lissabon, Portugal, wat positief vir Omicron getoets het, onlangs vanuit Suid-Afrika na dié land teruggekeer.
Skotland het Maandag ses gevalle van die nuwe variant aangemeld. Van die gevalle word nie verbind met mense wat onlangs na Suider-Afrika gereis het nie.
In Brittanje is drie gevalle aangemeld.
Volgens die WHO is die kans groot dat infeksies wêreldwyd sal toeneem.
Prof. Salim Abdool Karim, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse ministeriële advieskomitee vir Covid-19, het vroeër gesê daar is geen rede om bekommerd te wees dat die variant erger siekte sal veroorsaak en dit nie deur toetse opgespoor sal kan word nie.
Volgens hom moet die situasie egter dopgehou word en sal dit eers later duideliker word of die variant erger siekte verooraak.– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie