Nog vakbonde u2018verklaar oorlogu2019 teen Tito se plan
Nog vakbonde u2018verklaar oorlogu2019 teen Tito se plan

Nog vakbonde ‘verklaar oorlog’ teen Tito se plan

Llewellyn Prince – Nóg ’n vakbondfederasie het aangedui dat hy nie Tito Mboweni, minister van finansies, se plan om die staat se enorme salarisrekening oor die volgende drie jaar met meer as R160 miljard te sny, bloot gaan aanvaar nie.

Riefdah Ajam, hoofsekretaris van Fedusa, het dit Maandag bevestig kort nadat Fedusa, Cosatu en ander belanghebbendes deelgeneem het aan gesprekke by Nedlac wat deur pres. Cyril Ramaphosa gelei is. Die saak is egter nie daar bespreek nie.

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), die SA Onderwysersunie (SAOU), Hospersa en die United Transport and Allied Trade Union (Untu) is van Fedusa se geaffilieerde vakbonde.

Die ANC se nasionale werkkomitee het ook Maandag met sy alliansievennote, Cosatu en die SAKP, by Luthuli-huis in Johannesburg vergader. Mboweni se aankondiging oor die besnoeiing van die salarisrekening in sy begrotingsrede verlede week was na verwagting wel daar hoog op die agenda.

Cosatu en Saftu, nog ’n vakbondfederasie, het reeds die aankondiging verlede week as ’n “oorlogsverklaring” teen die werkersklas en armes bestempel.

Volgens Ajam is Mboweni se plan nie Maandag op die Nedlac-vergadering bespreek nie, “omdat dit nie die gepaste platform daarvoor was nie”.

Ajam het gesê Fedusa is egter wel omgekrap oor die aankondiging oor die salarisrekening “en veral die regering wat nou die laaste jaar van die bestaande drie jaar lange salarisooreenkoms met vakbonde wil hersien”.

“Ons is tans besig om ’n dispuut oor laasgenoemde te verklaar by die staatsdiens-onderhandelingskamer – wat die regte platform daarvoor is.

“Ons sal beslis die aangeleentheid daar opneem omdat ons nie die aankondiging net gaan aanvaar nie. Ons het reeds oorlog daarteen verklaar.”

Volgens Ajam was dit nie Mboweni se plek om so ’n aankondiging in die openbaar te doen nie omdat “net die staatsdiens-onderhandelingskamer die regte platform daarvoor is”. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer