Nokia se Sirocco: Heel ougat, maar te duur
Nokia se Sirocco: Heel ougat, maar te duur

Nokia se Sirocco: Heel ougat, maar te duur

Die foon pas gemaklik in jou hand en danksy sy soliede staalraam voel dit beduidend minder breekbaar.
Petrus Malherbe

Die Finse selfoonvervaardiger Nokia het in April ’n terugkeer na die hoofstroommark gemaak deur drie splinternuwe fone op een slag aan te kondig.

Die Nokia 8 Sirocco is amptelik die maatskappy se eerste vlagskipfoon “in jare”, het Patrick Henchie, produkhoof van HMD Global vir Afrika suid van die Sahara, met die bekendstelling gesê.

Nokia-fone word deesdae deur die Finse maatskappy HMD Global vervaardig.

Die Sirocco is betreklik klein vergeleke met ander vlagskip-slimfone op die mark, maar dit tel dalk meer tot sy voordeel as nadeel.

Die foon pas gemaklik in jou hand en danksy sy soliede staalraam voel dit beduidend minder breekbaar as byvoorbeeld ’n iPhone X wat grootliks van glas gemaak is.

Die ontwerp van die Sirocco is ook verfrissend anders, maar sal nie heeltemal vreemd vir potensiële kopers wees nie. Nes sy eweknieë by Huawei en Samsung het Nokia besluit om die skerm met ’n ronding af te sluit terwyl daar ook geen fisieke knoppies aan die voorkant is nie.

As die skerm afgeskakel is, vertoon die hele foon pikswart, en dit is natuurlik ’n magneet vir lelike vingermerke.

Die skerm van 5,5 duim is kleiner as byvoorbeeld die Huawei P20 se 5,8 in dieselfde prysklas.

Teleurstellend genoeg het die Sirocco ook ’n verouderde verwerker, die Snapdragon 835, wat onder meer in verlede jaar se Samsung Galaxy S8 en Note 8 gebruik is.

Teen dié stewige prys sou ’n mens verwag Nokia sou minstens die jongste tegnologie gebruik.

Hoewel skaflik, vaar die Sirocco se kamera ook nie so goed soos dié van Huawei of Samsung se jongste modelle nie.

Die Switserse lensvervaardiger Carl Zeiss is verantwoordelik vir die Sirocco se dubbele hoofkamera van onderskeidelik 12 en 13 megapieksels.

Dié kombinasie is nie so goed soos wat dit kon wees nie, veral nie in swak lig nie – deesdae ’n maatstaf vir enige selfoonkamera wat homself as “goed” beskryf.

Die slimfoon se kamera-app is wel baie lekker en maklik om te gebruik, in teenstelling met party vervaardigers wat dié funksie onnodig kompliseer.

Die Sirocco se vingerafdrukskandeerder is heel gerieflik ver onder die kamera op die agterkant van die foon, wat sal help keer dat jy die kamera se lens vuilsmeer.

Moet ek koop of nie?

Die goeie

· Pragtige ontwerp

· Ruim stoorspasie

· Helder skerm

Die slegte

· Outydse verwerker

· Kamera nie op standaard

· Te duur vir wat jy kry – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!