Noodlot ry Namibiese gesin
Twee maande ná ’n Namibiese vrou se dood in Engeland kan haar dogter dalk weens immigrasiestruwelinge nie haar begrafnis bywoon nie.
Denver Kisting
Terwyl 'n tienerdogter sukkel om haar ma se dood te verwerk, was aanduidinge gister dat sy nie Donderdag eens haar ma se begrafnis in Engeland sal kan bywoon nie.
Dít kom nadat immigrasieowerhede geweier het dat die 14-jarige Aesha Tjikongo Maandag 'n aansluitingsvlug uit Doha Engeland toe haal.
Die beamptes wou ook nie hê Aesha se sewejarige neef, Liam Tjikongo, moet saam met hul grootouers, twee groottantes en Liam se ma, me. Charmaine Tjikongo, verder reis nie.
Me. Simone Sayer (39) is op 9 Oktober in Engeland oorlede.
Sy het daar saam met haar Engelse man, mnr. Darren Sayer, en twee ander dogtertjies, Chloe en Courtney, gewoon.
Aesha, wat haar ma 'n paar jaar gelede laas gesien het, sou nou vir die eerste keer haar twee halfsussies ontmoet.
Simone sou op 8 November 40 geword het.
Volgens 'n neef van haar, mnr. Mervin Kensington, is Sayer in haar slaap oorlede.
Die presiese oorsaak van haar dood is na wat verneem word nog nie bepaal nie, sê hy.
Toe die Sayer-egpaar destyds in Namibië getrou het, het Simone glo gesê wanneer sy eendag sterf, wil sy graag in haar geboorteland begrawe word.
Darren het toe na bewering voor die bruilofgaste onderneem om haar wens te eerbiedig en haar oorskot te repatrieer.
Maar, sê Kensington, Darren weier die afgelope twee maande sedert Simone se dood om dié belofte na te kom.
Kensington sê Darren voer aan hy en Simone het ses weke voor haar heengaan oor die dood gepraat, waartydens sy glo sou gesê het sy wil haar laaste rusplek in Engeland vind.
Die neef sê Simone was nie siek nie, hoewel sy met haar gewig gesukkel het.
Die familie in Namibië moes sedertdien bontstaan om vlugkaartjies vir Simone se bejaarde ouers, mnr. Louik en me. Violine Tjikongo, haar dogter, suster, dié se seun en twee tannies, mee. Asnath !Nuwuses en Meriam Kangootui, te koop.
Namibiërs wat in Brittanje woon, het ook onder mekaar geld ingesamel om die gesin finansieel by te staan toe dit bekend word haar oorskot sal nie Namibië toe geneem word nie.
Charmaine het besluit om die twee minderjarige kinders nie alleen op Doha agter te laat nie.
Kensington sê hulle sou na verwagting 02:00 vandag gedeporteer word.
Hy sê die twee minderjariges se dokumente was volledig, hoewel Aesha se pa se besonderhede nie op haar geboortesertifikaat aangedui word nie.
Volgens hom weet hulle nie wie haar pa is nie.
Wyle Simone se ouers en tannies het die aansluitingsvlug na Engeland gehaal en sal die begrafnis Donderdag na verwagting bywoon.
Kensington het 'n brief verskaf waarin die toe waarnemende uitvoerende direkteur van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Sabine Böhlke-Möller, hul Britse en ander eweknieë oor die rede vir die reis inlig.
Böhlke-Möller het ook gevra die amptenare moet die bedroefde familie help waar hulle bystand benodig.
Kensington sou ook saamgereis het, maar moes weens 'n ander sterfgeval in Namibië agterbly, sê hy.
Amb. Selma Ashipala-Musavyi, die uitvoerende direkteur van internasionale betrekkinge en samewerking, was gister geskok om van die tragedie te verneem.
Sy het gesê sy was vroeër uitstedig en was nie van die dilemma bewus nie.
Ashipala-Musavyi het onmiddellik kontak met die Namibiese diplomaat in Pretoria, amb. Veicco Nghiwete, gemaak om met hul Katar-kollegas te skakel om die situasie te beredder.
Teen druktyd was dit nog onduidelik of die ingrypingspogings vrugte sou afwerp.
Kensington was gistermiddag in trane oor al die hulp wat hulle uit verskeie oorde ontvang.
Republikein het op Facebook na mnr. Darren Sayer uitgereik.
Hy het teen druktyd nie op boodskappe gereageer nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie