Noodplan teen sprinkaangevaar in werking
Noodplan teen sprinkaangevaar in werking

Noodplan teen sprinkaangevaar in werking

Die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) gaan Namibië en sy bure met sprinkaanbestryding help.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Uitbrekings van die Afrika-trekspinkaanplaag bedreig tans die voedselsekerheid en lewensbestaan ??van miljoene mense in Namibië, Botswana, Zambië en Zimbabwe.

Dit is ’n driedubbele slag vir hierdie vier lande waar nagenoeg 7 miljoen mense nog herstel van die impak van die droogte in 2019 en tans ook worstel met die ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie, het die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) Vrydag gewaarsku.

Die FAO sê die vernietigende impak van die swerms treksprinkane op gewasse en weiveld kan voedsel- en voedingsonsekerheid ernstig verdiep.

Dié organisasie het Vrydag aangekondig hy werk ten nouste met die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) en die Internasionale Organisasie vir Rooisprinkaanbeheer in Sentraal- en Suider-Afrika (IRLCO-CSA) saam om die regerings van Namibië en sy drie geraakte buurlande met plaagbeheer te help.

Die FAO het die Suider-Afrika-noodhulp- en paraatheidsprojek geloods wat gefinansier word deur sy tegniese samewerkingsprogram. Die projek sal die noodkapasiteit van SADC en IRLCO-CSA verhoog om die vier lande wat geraak word, te ondersteun in hul poging om te voorkom dat die plaag meer skade berokken.

“Die US$500 000-projek (dit is nagenoeg N$8,5 miljoen) sal fokus op noodreaksie in die brandpuntgebiede en die koördinering en uitruiling van inligting tussen die betrokke lande versterk. Dit sal ook toesig- en karteringaktiwiteite in moeilik bereikbare gebiede vanuit die lug moontlik maak, en tegniese ondersteuning bied vir die instelling van nasionale toesig- en beheereenhede vir sprinkane,” het die FAO Vrydag aangekondig.

Die organisasie se tegniese samewerkingsprogram stel hom in staat om uit sy eie gereelde programbronne te put ten einde te reageer op lande se dringendste behoeftes vir tegniese hulp.

“Ondanks die beheermaatreëls wat reeds getref is, is die sprinkane nog steeds ’n bedreiging. Sommige van die gebiede wat die ergste geraak word, is baie moeilik om te bereik. Ons moet die vier regerings, SADC en vennootorganisasies soos IRLCO-CSA ondersteun om hierdie plaag te beheer en die lewensbestaan ??van mense te beskerm,” het dr. Patrice Talla, die FAO se streekskoördineerder vir Suider-Afrika, gesê.

Die uitbreking van Afrika-treksprinkaanplae in suidelike Afrika is afsonderlik van die noodsituasie wat deur woestynsprinkaanplae in Oos-Afrika geskep is. “Sprinkane is een van die vernietigendste plae ter wêreld. Een swerm kan etlike miljoene volwassenes bevat en daar is tans verskeie swerms in die suidelike streek,” waarsku die FAO. “’n Enkele swerm kan op een dag soveel as 2 500 mense eet en binne ’n paar uur gewasse en weiveld opvreet.”

SKADE BEROKKEN

In Namibië het aanvanklike uitbrekings in die Zambezi-vlaktes begin, en kolonies voetgangers en swerms het nou na belangrike boerderygebiede versprei. Net so het die sprinkaanplaag in Zambië vinnig versprei en beïnvloed dit gewasse en weiveld, sê dié organisasie.

In Botswana het sommige kleinboere hul hele oes verloor toe die Afrika-treksprinkaan daar uitgebreek het. Namate die volgende plantseisoen nader kom, bedreig die plaag die land se broodmandjiegebied, Pandamatenga, waar die grootste deel van die sorghum-oes in die land verbou word. Die FAO waarsku dit is daarom noodsaaklik dat die beheerpogings dringend verhoog word.

Wat Zimbabwe betref het swerms en voetgangers aanvanklik op twee gebiede in die Chiredzi-distrik toegesak en het nou in die Manicaland-provinsie ingetrek. “Sprinkaanbeskadiging aan gewasse sal bestaande voedselonsekerheid vererger in gemeenskappe wat reeds deur oorstromings, droogte en die gevolge van Covid-19 geraak word,” maan die FAO.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!