Noodtoestand: 'n Balans tussen uiterstes
Kenners is dit nie eens of pres. Hage Geingob en die regering dit tussen 17 Maart en 17 September reggekry het om enersyds dood te verhoed én andersyds brood te beskerm nie.
Denver Kisting – Met die bekendmaking gister van die jongste regulasies wat die regering se voortgesette hantering van die Covid-19-pandemie post-noodtoestand uiteensit, word veral uit regsgeledere gal gebraak oor die beweerde ondermyning van die Grondwet.
Die uitgesproke prokureur mnr. Richard Metcalfe het gister by navraag geen doekies omgedraai oor dié 20 bladsy lange proklamasie nie: “Hierdie regulasies is 'n sluwe voortsetting van die noodtoestand sonder enige insette van die Nasionale Vergadering (NV) of die Nasionale Raad (NR).”
Dan gaan hy 'n paar stappe verder: “So, vir die afgelope sewe dae het ons Covid-19-syfers drasties afgeneem. Net mal honde en politici kan van Namibiërs verwag om te glo die skending van ons grondwetlike regte is in ons beste belang.”
Syns insiens het “'n hartseer dag” vir menseregte in Namibië aangebreek “in wat 'n land geword het op die punt van 'n mislukte staat. Die oppergesag van die reg in Namibië is besig om 'n stadige maar versekerde dood te sterf.”
SOSIALE LOFPRYSING
Hoewel lofsange in die sosiale media gedreunsing is toe pres. Hage Geingob verlede Donderdag aangekondig het die ses maande lange noodtoestand sal nie in dié stadium verleng word nie, bly dit 'n ope vraag oor of hy en sy regering daarin kon slaag om suksesvol 'n balans te handhaaf tussen lewens en lewensbestaan.
EKONOMIESE ELLENDE
Die staatshoof en vele van sy kabinetsministers het by verskeie geleenthede in die openbaar toegegee die land se reeds ellendige ekonomie het 'n verdere ernstige knou gekry weens die regulasies wat in werking gestel is om die Covid-19-pandemie se verspreiding te probeer stuit.
Tydens die aanvanklike grendeltydperk, wat die wiele van die ekonomie tot stilstand geruk het, het mnr. Iipumbu Shiimi, die minister van finansies, reeds toegegee die inperking kos die ekonomie N$2 miljard per week.
Hy het onlangs deurlopend aangevoer die somme moet nog afgehandel word oor presies hoe erg die ekonomie gebloei het.
Uit die geledere van die opposisiepartye weergalm die kritiek oor die ekonomiese ellende luid.
Trouens, die leier van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), mnr. McHenry Venaani, het onlangs aangevoer die regulasies het die ekonomie “verkrag”.
Dae voor Geingob aangekondig het die noodtoestand word ná ses maande nie verleng nie, het Venaani gesê die regering kan die hoop dat sy party 'n verlenging van die noodtoestand sal steun op hul mae skryf.
Hy het gesê: “Ons sal nie langer 'n noodtoestand ondersteun nie. Ons doen 'n beroep op die president van die land om die ekonomie oop te maak.”
Sedertdien het Venaani aangevoer dit is aan die PDM te danke dat die noodtoestand nie verleng is nie.
Sou Geingob wel weer 'n noodtoestand kragtens artikel 26 van die Grondwet afgekondig het, sou 'n tweederdemeerderheid van die NV dit binne sewe dae moes bekragtig en verleng, anders sou dit verstryk het.
Dít kom nadat die regerende party vir die eerste keer in demokratiese Namibië se geskiedenis in November 2019 sy houvas van 'n tweederdemeerderheid in die NV by die stembus kwyt is.
Venaani sê die noodtoestandmaatreëls het boonop nie die gewenste uitwerking gehad om Namibiërs se lewens en gesondheid te waarborg nie. “Met al die inperkings behoort ons nie so 'n hoë aantal gevalle te hê nie.”
Om daardie rede, het hy gesê, kan die regerende party vergeet van die hoop dat die PDM Swapo se plan om die noodtoestand te verleng, sal ondersteun.
Namibië se ekonomie kan nie énige verdere skade, veral in die vorm van werkverliese, bekostig nie, het hy gemaan.
Dit verstom hom, sê Venaani, dat die regering nog nie met 'n strategie vorendag gekom het oor hoe die land met die virus sal saamleef nie. “'n Noodtoestand is nie 'n strategie nie. Ons is regtig teleurgesteld in die regering se hantering van die aangeleentheid.”
Hy het ook uitgevaar teen wat hy as 'n gebrek aan beraadslaging met politieke rolspelers beskou. “Ek het van die president (Geingob) verwag om in gesprek te tree met die politieke akteurs oor 'n strategie. Ons het hom lank genoeg die voordeel van die twyfel gegee.”
Boonop, sê Venaani, maak dit geen sin om 'n verkiesing te reël te midde van 'n noodtoestand nie. “Politieke partye vind dit baie moeilik.”
Metcalfe meen veral die perk op openbare saamtrekke van 50 mense het juis ten doel om politieke veldtogte en saamtrekke in die wiele te ry.
Die leier van die Independent Patriots for Change (IPC), dr. Panduleni Itula, het ook vroeër reeds geëis dat die regering onmiddellik die inperkings staak om die ekonomie uit die as te help herrys.
Me. Yvonne Dausab, die minister van justisie, het vroeër verduidelik in die afwesigheid van 'n noodtoestand is die regering se statutêre wapen om die pandemie te bly bestry die Wet op Openbare en Omgewingsgesondheid.
Dit is onder die vaandel van dié wet wat gister se omstrede regulasies die lig gesien het.
“Gesondheidsvoorskrifte word regeer deur die Wet op Openbare Gesondheid 36 van 1919 en die onlangs deurgevoerde Wet op Openbare en Omgewingsgesondheidswet 1 van 2015, spesifiek gedeelte 3 daarvan wat in werking gestel sal moet word om doeltreffend aansteeklike siektes te pak, soos die coronavirus.”
Onder laasgenoemde wet is die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste hoofsaaklik verantwoordelik vir die oorhoofse openbare gesondheid van Namibiërs, sê Dausab.
Daarnaas bepaal dit hoe die gesondheidsministerie sodanige aansteeklike siektes moet bestuur.
Noodmaatreëls bied ruimte vir buigsaamheid wat prosesse betref en skort tydelik sekere bepalings van bestaande wetgewing op sodat die doelwitte van die noodtoestand vervul kan word, sê Dausab. “Dit is nie veronderstel om bestaande wetlike en institusionele raamwerke te vervang nie. Dit vul net aan of skort op om noodbedrywighede glad te laat verloop.”
Sy het opnuut benadruk 'n noodtoestand “is nie bedoel as 'n geleentheid om staatsmagte te misbruik of sinneloos die voordele en beskerming van regte van mense te verminder nie.”
Dr. Kalumbi Shangula, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, eggo Geingob se pleidooi dat Namibiërs steeds die virus ernstig moet opneem.
Hulle het gewaarsku die einde van die noodtoestand beteken nie die einde van die virus nie.
Dr. Eric Dziuban, die hoof van die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer en -voorkoming (CDC) in Namibië, gee vir Geingob en Shangula gelyk dat maatreëls in plek móét bly om Namibiërs se gedrag te reguleer sodat 'n tweede vlaag van die virus nie opnuut amok saai nie.
Volgens gister se proklamasie geld die regulasies tot 21 Oktober.
Teen Woensdagmiddag het Namibië in totaal reeds 10 663 bevestigde gevalle en 117 sterftes vanweë Covid-19 aangeteken.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie