Noodtoestand weens droogte op hande
Noodtoestand weens droogte op hande

Noodtoestand weens droogte op hande

Dit is waarskynlik net ’n kwessie van tyd voor pres. Hage Geingob ’n noodtoestand afkondig.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die staatshoof, pres. Hage Geingob, sal na verwagting eersdaags ’n noodtoestand oor die voortslepende droogte afkondig.

Op ’n vraag hieroor het mnr. Stanley Simataa, die minister van inligting en kommunikasietegnologie, gisteroggend aan Republikein gesê: “Dit sal kom. Dit is aan die gang.”

Pres. Geingob se woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, het by navraag uit die buiteland gesê: “Dit sal dienooreenkomstig gekommunikeer word.”

Simataa het gisteroggend tydens sy weeklikse terugvoering ná kabinetsittings gesê: “Die situasie bevestig dat ons een van die ergste droogtes ooit in die Republiek van Namibië beleef.”

Die hoofsending in dié stadium, sê Simataa, is om te verhoed dat enigiemand weens die voortslepende droogte omkom.

“Dit is belangrik dat ons onmiddellik en reg ingryp sodat geen menselewe verloor word nie. Dit (die droogte) is baie, baie erg.”

Met verwysing na die meer as 500 donkies wat tussen Oktober verlede jaar en Maart vanjaar gevrek het, sê Simataa dit is ’n aanduiding van hoe beroerd die situasie is.

“Wanneer jy ’n donkie sien vrek, weet jy die oshikukuta (droogte) is met ons en dit byt ons,” sê hy.

Hy sê hy is self ’n gewasboer en het “nog nooit so ’n ramp-oes gesien nie”.

“Die situasie is baie, baie kritiek.”

’n Span bestuurslui van die ministerie van landbou, water en bosbou en een van die kantoor van die eerste minister het ook gister se nuuskonferensie bygewoon om lig te werp op hoe verskeie regeringsrolspelers gaan help om die situasie te probeer beredder.

Simataa sê al 14 streke gaan by die droogtehulp ingesluit wees.

Hy sê die regering gaan onder meer help om mense van kos en diere van voer te voorsien, om bystand te verleen met die vervoer hiervan, en om water te verskaf.

Die minister het die pleidooi aan boere herhaal om van hul diere ontslae te raak. Aansporingsmaatreëls is op die tafel om boere te help om die diere van die hand te sit.

Volgens hom moet slagpale ook dringend gereed gekry word sodat boere ’n leweringsplek kan hê.

Die regering het tans N$481 miljoen beskikbaar om die wiele van die noodplan aan die rol te sit, het die minister gisteroggend gesê.

Vroeër is aangekondig sowat N$572 miljoen is bewillig.

Simataa sê die tekort sal uit die hersieningsbegroting befonds word.

Hy sê ’n omvattende plan van aksie oor ingryping behoort binne die volgende week voltooi te wees.

“Soos ons hier sit, vrek diere. Een dag wat verloor word, is ’n dag wat tot die ramp bydra.”

Simataa het ook gemaan “die regeringsmasjinerie sal moet verbeter” om enige vertragings te verhoed.

Hy sê enigiemand onder wie se toesig noodvoedsel verrot, sal aan die pen ry.

“As ’n regering sal ons gewetenloos wees teenoor diegene wat kos in pakhuise laat verrot terwyl daar mense is wat daardie kos moet kry. Ons moet die voetgangerpas hersien waarteen ons met die situasie omgaan.”

Hy sê die Namibiese weermag sal ook ingespan word om met die logistiek te help.

Die adjunk- uitvoerende direkteur van landbouontwikkeling, me. Sophie Kasheeta, sê die voorsiening van water gaan tweeledig verloop – enersyds die fisieke voorsiening van water in tenke en andersyds die inwerkingstelling en herwinning van boorgate.

Geskoei op sekere kriteria gaan die regering N$400 vir grootvee subsidieer tot ’n maksimum van 100 stuks vee, sê sy.

Wat kleinvee betref, sal die regering N$80 per eenheid subsidieer tot ’n maksimum van 500 eenhede.

Boere sal ook 10 maal 50 kg sakke lek per maand kry onderworpe aan neergelegde kriteria.

“As ons dit nie doen nie, kan ons vergeet van lewendehaweboerdery in hierdie land,” sê sy.

’n Totaal van 250 000 mense – of nagenoeg 50 huishoudings – is in die regering se visier wat koshulp betref, sê mnr. Japhet Iitenge, direkteur: rampbestuur in die kantoor van die eerste minister.

Dié hulp sal uit mieliemeel, kookolie en geblikte vis bestaan, sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!