'Noord-Amerikaners wil Namibië besoek'
Namibia Wildlife Resorts en die Namibië Toerismeraad het die land as toeristebestemming in Washington DC, Los Angeles in Amerika en Toronto in Kanada bemark.
Namibië is 'n toeristebestemming wat Noord-Amerikaners graag wil besoek.
Só sê die besturende direkteur van Namibia Wildlife Resorts (NWR), me. Zelna Hengari, wat saam met die Namibië Toerismeraad (NTB) die Suid-Afrikaanse lugdiens South African Airways (SAA) se Afrika-toerismetentoonstelling, Africa Showcase, in Amerika bygewoon het.
Africa Showcase is die grootste toerismehandelsgeleentheid in Noord-Amerika wat uitsluitlik verteenwoordigers uit Afrika van onder meer hotelle, lodges, toerismeorganisasies en toeroperateurs, die geleentheid gee om toeristebestemmings in Afrika te bemark. Vanjaar het dit van 4 tot 17 September in Washington DC, Los Angeles in Amerika en Toronto in Kanada plaasgevind en is deur meer as 300 toeroperateurs bygewoon.
“Wat sterk uitgekom het tydens die geleentheid is dat Namibië 'n bestemming is wat Noord-Amerikaners graag wil besoek. Dít is aangedui deur die aantal toeroperateurs wat belangstelling getoon het daarin om Namibië weens sy ryk wildlewe en verskillende kultuurgroepe te bemark," het Hengari gesê.
"NWR het 'n mededingendheidsvoordeel, want ons het al hierdie dinge by ons oorde. Ek is hoogs beïndruk met die hernude belangstelling wat toeroperateurs getoon het. Baie het gesê hul kliënte vra dat Namibië en NWR by hul reisplanne ingesluit word wanneer hulle na Suider-Afrika reis," sê Hengari.
"By Africa Showcase het NTB beklemtoon waarom Namibië een van die leidende toeristebestemmings in Afrika is, terwyl NWR gefokus het op die oorde wat in Namibiese nasionale parke geleë is."
Volgens die ministerie van die omgewing se toerismestatistieke van 2015 is Noord-Amerikaanse toeriste onder die top-10 besoekers aan Namibië. Altesaam 24 430 Noord-Amerikaanse toeriste het Namibië in 2015 besoek - 12,4% meer as die vorige jaar.
Tydens dieselfde reis het Hengari 'n welwillendheidsbesoek aan mnr. Neville Gertze, die Namibiese ambassadeur in Amerika en inwonende verteenwoordiger van die Verenigde Nasies (VN), gebring.
Hengari sê hy het voorgestel NWR oorweeg om volgende jaar 'n Namibiese geleentheid aan te bied wat fokus op kultuur, musiek en toerisme, aangesien dit gulde geleenthede aan NWR sal bied om 'n voet in die Amerikaanse toerismemark te kry.
Hengari het ook 'n onderhoud met Voice of America gehad waartydens sy Namibië as unieke toeristebestemming beskryf het.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie