Noorde-boer deel van Duitse TV-reeks
Tanja Bause
'n Boer van Namibië is vanjaar weer deel van die gewilde Duitse TV-reeks Bauer sucht Frau (Boer soek 'n vrou).
Verlede jaar was Gerald (38) die eerste Namibiër wat deelgeneem het aan dié reeks wat die Duitse kanaal RTL uitgesaai het en deur sowat vyf miljoen mense gekyk is.
Vanjaar se deelnemer, boer Jörn van die Grootfontein-omgewing, het nie die vorige reeks gesien nie, maar 'n ander boer in die omgewing wat aansoek gedoen het en nie suksesvol was nie, het hom mettertyd oortuig om 'n kans te waag.
“Ek ken die Afrikaanse weergawe, maar het nooit daaraan gedink om in te skryf nie. Ek het aan die begin van die jaar 'n vrou ontmoet, maar na haar derde kuiertjie hier het sy besluit die plaaslewe is nie vir haar nie. Ek het daarna vir 'n paar maande probeer om op die internet liefde te vind, maar dit het ook nie gewerk nie. Toe het die gedagte van Bauer sucht Frau weer by my opgekom,” sê Jörn.
Hy het die aansoekvorm aanlyn ingevul en 30 minute gewik en geweeg of hy dit moet instuur of nie. “Ek het vir 'n halfuur getwyfel, maar op die ou einde het ek dit gestuur en vyf dae later het RTL my gekontak vir 'n telefoniese onderhoud.”
'n Week later was 'n Swakopmundse filmspan by hom om die eerste opnames te maak wat Duitsland toe gestuur is. Nog 'n week later was 'n filmspan uit Duitsland by hom op die plaas.
“Dit het alles baie vinnig gebeur en nou is ek 'n finalis in hierdie jaar se reeks. Baie mense sien die program en dit is 'n gulde geleentheid om die land te bemark. As ek op die koop toe 'n lewensmaat ontmoet wat op die plaas aard, is dit 'n bonus!”
Jörn is in Windhoek gebore. Sy ouers het die plaas in die Grootfontein-omgewing gekoop toe hy drie maande oud was. Ná hy sy skooljare op Otjiwarongo en matriek in Suid-Afrika voltooi het, het hy bemarking gaan studeer. Hy was vir nege jaar 'n toergids voordat hy terug is plaas toe. Hier het hy 'n houtskoolbesigheid begin, help hy sy pa met hul beesboerdery en bestuur hy 'n lodge en boskamp.
“Ek soek 'n lewensmaat wat nie net voor die TV of op die selfoon sit nie. Ek soek iemand wat deel wil wees van die boerdery en wat kan hand bysit as dit nodig is. Ek soek 'n vriendin, kollega, vrou en ma. Ek wil baie graag 'n familie hê,” sê hy.
“My ouers is bietjie kamerasku en was aanvanklik nie baie opgewonde oor die idee dat ek deel is van die reeks nie. As die kameraspan hier is, word alles op die plaas afgeneem en hulle is nie mal daaroor nie. Maar die blote idee dat ek dalk 'n vrou kan kry, maak hulle tog opgewonde en is hulle aan my kant.”
Die feit dat laas jaar se deelnemer, Gerald, sy verloofde, Anna, danksy die reeks ontmoet het, getuig daarvan dat 'n kans op groot liefde via die program wel bestaan.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie