Noorde-buffel toets negatief vir bek-en-klouseer
Noorde-buffel toets negatief vir bek-en-klouseer

Noorde-buffel toets negatief vir bek-en-klouseer

Elvira Hattingh
Die ministerie van landbou, water en grondhervorming het 'n verbod gelig op die beweging van diere met gesplete hoewe en ongekookte vleis op dele in die Kavango-Wes-, Ohangwena- en Oshikotostreek.

Dit volg ná 'n wilde buffel wat in die gebied opgemerk is, op Sondag 19 April geskiet is en negatief vir ­bek-en-klouseer getoets het.

Die buffel is die eerste keer op 7 April by die Okashalandona-nedersetting in die Okongo-kiesafdeling in die Ohangwenastreek langs die C45-pad gesien.

Amptenare van die ministeries van landbou, water en grondhervorming asook die omgewing, bosbou en toerisme het die dag daarná begin om na die buffel te soek.

Die buffel is op 11 April weer langs die C45-pad deur die amptenare naby die Omupanda-nedersetting opgemerk. Dit is sowat 20 km verder van waar dit die eerste keer gesien is.

Dr. Albertina Shilongo, hoofveeartsenybeampte by die ministerie, sê 'n verbod op die beweging van vee en rou vleis uit die gebiede is op 15 April aangekondig.

Sedertdien is die buffel egter van kant gemaak, monsters is geneem en na die Sentrale Veterinêre Laboratorium gestuur. Dit het negatief vir bek-en-klouseer getoets.

Shilongo sê egter daar sal met 'n inentingsveldtog in die gebied by die Mpungu-, Okongo-, Nehale Lyampingana- en Eengodi-kiesafdelings voortgegaan word. Boere word dus aangemoedig om steeds hul vee te bring, soos in die inentingsprogram uiteengesit. Die versekering is ook gegee voorsorgmaatreëls sal teen die verspreiding van Covid-19 tydens die inentingsveldtog getref word.

Die ministerie het boere en die publiek vroeër versoek om, wanneer hulle enige buffels in hul gebied opmerk, dit onmiddellik by die naaste polisiekantoor, asook by veeartseny­kantore en die ministerie van die ­omgewing, bosbou en toerisme aan te meld.

Buffels is bekende draers van die bek-en-klouseervirus en 'n ­wesenlike gevaar bestaan dat die teenwoordigheid van so 'n dier vir die verspreiding van dié siekte na beeste kan sorg.

Dit hou 'n ernstige gevaar vir bio­sekuriteit, die ekonomie, asook ­voedselsekuriteit in.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!