Noorde se waterkrisis vererger

Ou infrastruktuur en onderhoud kom Namibië en Angola duur te staan en inwoners trek al hoe swaarder.
Augetto Graig
Toegang tot water in die sentrale Noorde van die land - waar die meeste Namibiërs woon - bly 'n stryd, en vir sommige inwoners, veral boere, stuur dit nou op 'n ramp af.

Die ministerie van landbou, water en bosbou hou vol dat verhoudings met Angola goed is en die buurland nie van voorneme is om Namibië te laat betaal vir water wat van oor die grens afkomstig is nie. NamWater, die nasio­nale waterverskaffer, is ook van laas jaar af besig om verouderde stelsels reg te maak.

Minister John Mutorwa het amptelik vrae oor Namibië, Angola en watertoegang beantwoord in 'n pers­verklaring wat Dinsdag vrygestel is.

“Die onlangse verminderde watervoorsiening van die Calueque-skema, wat water aan verskeie suiweringsaanlegte in die noorde van Namibië verskaf, het niks te doen met kwessies tussen die twee lande nie,” het hy gesê. Volgens Mutorwa is die huidige uitdagings bloot weens die verslegtende toestand van die verouderde Nam­Water-watervoorsieningsinfrastruktuur by Calueque“wat hulle tans besig is om te herstel”.



VEROUDERDE INFRASTRUKTUUR

Republikein het in Desember laas jaar verslag oor dié opknappings gedoen.

Watertoevoer na Oshakati, die Etuna-besproeiings­projek en sowat 70 onafhanklike gewasverbouers wat tot 2 000 werknemers in diens het, was toe reeds volgens NamWater bedreig.

Groot lekkasies het gelei tot erge watervermorsing uit die pype waarmee water uit die ­Calueque-dam in Angola gepomp word. Die dam is ook gerehabiliteer, wat die druk verlaag het van watervloei na die kanaal wat Oshakati voed, het NamWater se uitvoerende hoof, dr. Vaino Shivute, destyds gesê.

“Baie water word vermors en vloei terug na die pomphuise waar dit opdam.” Volgens hom moes herstelwerk vinnig voltooi word “voordat dit erger raak en die doeltreffendheid van die pompskema in gevaar stel, asook watertoevoer na die inwoners beperk”.

Een van die pompe by Calueque was afgebreek, en net een pomp het gewerk. Nadat dit reggemaak is, moet die herstelproses van die tweede pomp weer begin, het Shivute gesê. Terselfdertyd moes ondergrondse pype herstel word nadat dit vroeër beskadig is weens te hoë waterdruk van Calueque af.

Derhalwe was NamWater se toevoer van Calueque af met die helfte verminder. Benewens watervoorsiening aan die streke Omusati, Ohangwena, Oshana, Kunene en Oshikoto, word die water ook aan die Ruacana-kragstasie verskaf.

Intussen is water uit die NamWater-reservoir, die 17 km lange Olushandja-dam, na die watersuiweringsaanleg op Oshakati gepomp. Dit verg ook meer krag om die nodige waterdruk te behou. NamWater het 'n kontrakteur aangestel om die pompe, pype en stelsel te reg te maak. Volgens Shivute sou die kontrakteur na verwagting die werk binne vier weke voltooi het. Dit is egter nog nie afgehandel nie, en NamWater het laas week vir dorpsrade van onder meer Ongwediva laat weet waterbeperkings sal nog sowat vyf weke duur.



BEPERKINGS

Tans is toegang tot water op Ongwediva beperk. Toevoer word daagliks tussen 22:00 en 05:00 afgesny en die dorpsraad het inwoners aangeraai om water in houers te stoor.

Die Senior Sekondêre Skool Olukonda op ­Ondangwa het oor die algemeen normale toegang tot water, ­alhoewel die krane sommige dae steeds leegloop. ­Amptenare van Omuthiya se dorpsraad sê die watertoevoer daar is wisselvallig, veral in die namiddag. Soggens vloei net 'n swak straaltjie en vir die afgelope twee weke kon inwoners eers ná 20:00 weer volle toegang tot water geniet.

Vir boere van die Olushandja-boerevereniging is die ­situasie aansienlik erger. Volgens mnr. Paulus ­Amutenya, voorsitter van die vereniging Olushandja Horticulture Producers (OHPA), gaan dit beroerd.

“Daar is nie water nie. Die Olushandja-dam is leeg, en boere wat meer as 7 km van die dam geleë is, kry ­absoluut niks van die bron nie,” sê hy.

“NamWater het gesê hulle sal binnekort water na ons toe begin pomp, maar niks is tot nou toe gedoen nie,” het hy Woensdag aan Republikein gesê.

“Die boere se laaste hoop is op die reën, maar van hulle het reeds tou opgegooi en ander sal ook hul werksaamhede staak as die reën nie kom nie.”

Nog 'n groenteboer, wat nie haar naam genoem wou hê nie, kla dat die dam by Epalela in Omusati ook leeg­gepomp is om water aan Oshakati te voorsien.

“Die pyplyn van Calueque af is ook stukkend, maar net 500 treë van die dam loop die water oor die stukkende kanaalwalle en word vermors. Hoeveel van die groente­boere moes nie al ophou plant en mense afdank nie. Ander het vir kilometers geen water vir hul diere nie. Daar is dan belowe die probleem sou teen 15 November 2017 opgelos wees,” het sy aan Republikein gesê.

Oshikoto se streeksgoewerneur, mnr. Henock ­Kankoshi, sê dáár is ook 'n probleem. “Dit is waar, die groter deel van die streek ly sonder water, veral in die oostelike gebied.”

Volgens hom is NamWater besig met herstelwerk aan pyplyne en die kanaal wat water van Angola af na die ­suiweringsaanleg op Oshakati vervoer. Intussen het baie boorgate in die streek drooggeloop weens swak of geen reënval oor die afgelope jare, en die grootste hoop is op 'n goeie reënseisoen vanjaar.

Kankoshi se raad is dat gemeenskappe en inwoners van kleiner dorpies ou gebruike inspan. “Tradisioneel grawe die mense gate om ondergrondse water te kry.” Ewe belangrik is die tradisie van mededeelsaamheid.

“Wanneer boorgate opdroog of, soos nou, die water in NamWater se pype nie loop nie, kan dié wat wel water het, dit met hul bure deel,” sê hy.



'STEEDS VRIENDE'

Mutorwa het benadruk dat Angola Namibië nie sal vra om te betaal vir toegang tot water nie, en hy het die ­samewerking tussen die twee lande beklemtoon. “Ná Angola se opknapping van die Calueque-dam ondersoek die twee lande nou 'n gesamentlike operasionele gesag wat verantwoordelik sal wees vir die gesamentlike bedryf en instandhouding van die Calueque-skema,” sê Mutorwa.

Volgens hom werk die twee lande sedert 1926 saam wat betref gebruik van water in die Kunenerivier, wat 'n groot deel van die grens tussen Namibië en Angola vorm. Die reg om verniet water uit die Kunene te trek, is jare gelede aan Namibië toegestaan weens vloede wat van tyd tot tyd die sentrale Noorde van die land tref, sê hy.

“Nêrens in hierdie ooreenkomste word voorsien dat Namibië water van die Calueque-skema teen 'n koste sal ontvang nie,” het die minister beklemtoon.

“Namibië en Angola bly twee broederlike nasies met gedeelde grense en hulpbronne, soos water. Daar is geen dreigende wateroorloë of konflikte tussen Namibië en Angola nie, en die twee lande werk hard saam om beter lewenstandaarde vir al hul mense te verwesenlik,” sê hy.



KUNENE-OORGRENSPROJEK

Die minister se terugvoering kom nadat plaaslike media, veral Republikein se susterkoerant Namibian Sun, berig het oor Namibië se vertraagde bydrae tot die gesamentlike oorgrens- Kunene-watervoorsieningprojek.

Aanvanklik sou Namibië drinkwater verskaf aan Angola se Cunenestreek deur die suiweringsaanleg op Oshakati uit te brei, asook die waterverspreidingstelsel by Omakango, Omafo en Oshakati om suiwer water terug oor die grens te laat vloei. Die plan was om dit teen 2012 af te handel, maar dit is nie gedoen nie.

Angola het intussen sy eie aanleg by Xangongo gebou en noodsaaklike drinkwater aan sy mense versprei.Mutorwa sê alhoewel die aanleg by Xangongo die omvang van die Kunene-oorgrensprojek verander het, is die projek nie gestaak nie. Beide lande het volgens hom ooreengestem om voort te gaan met die watertoevoer­skema vir die dorp Calueque in Angola, terwyl bouwerk aan die Oshakati-Santa Clara-pyplyn en -pomp­stasie gestaak is.

Die toevoerskema na die dorp Calueque sal volgens Mutorwa teen Desember vanjaar voltooi wees.

Die minister het ook uitgewei oor die projek, wat voorgestel is deur die permanente waterkommissie en uit kenners van Namibië en Angola bestaan. Dit is ook 'n loodsprojek van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) onder die ontwikkelings­program vir strategiese waterinfrastruktuur in die streek wat gedeeltelik deur die Duitse regering gefinansier word. Duitsland betaal ook vir tegniese hulp tydens die program. Mutorwa het gesê die Kunene-oorgrensprojek se hoof­doel is om betroubare waterbronne aan inwoners van suidelike Angola te voorsien, en watertoegang en sanitasie-infrastruktuur in beide lande te verbeter.

“Daar is ook ander projekte aan die gang, soos die Baynes-waterkragprojek waaroor die twee lande gesprekke voer, en wat gemik is op gesamentlike oplossings om die inwoners van beide lande van betroubare energiebronne te voorsien deur middel van die Kunenerivier se water.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!