Noordedorp se geldsake duister, su00ea OG
Noordedorp se geldsake duister, su00ea OG

Noordedorp se geldsake duister, sê OG

Die Grootfonteinse munisipaliteit se kernprobleem is klaarblyklik sy swak boekhoudingsproses en –stelsel.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die uitvoerende hoof van die Grootfontein-munisipaliteit, mnr. Kisco Sinvula, het Maandag aan Republikein gesê hy sal nog reageer op die ongunstige (gekwalifiseerde) ouditmening wat Namibië se ouditeur-generaal (OG), mnr. Junias Kandjeke, hulle gegee het.

Dié mening kom glo weens die munisipaliteit se onvermoë om aan Kandjeke genoegsame bewyse te lewer oor hoe openbare geld tydens die 2018-'19-boekjaar bestee is.

Die minister van finansies, mnr. Iipumbu Shiimi, het Kandjeke se verslag – wat hy in September voltooi het – by die Nasionale Vergadering (NV) vir verdere beraadslaging ingedien.

“Die finansiële state bied nie 'n akkurate weergawe van die munisipaliteit van Grootfontein se geldelike posisie nie,” het Kandjeke in die verslag gesê.

Sinvula het intussen ontvangs van Republikein se vrae erken en onderneem om te reageer sodra hy genoegsame samesprekings gevoer het.

Die OG het sy mening op 11 sleutelfaktore gegrond, berig Nampa.

Die eerste is dat dié munisipaliteit, een van die grootstes in die land, nie 'n bateregister het nie. Boonop het dit die ouditeurs glo mislei oor sy belegging by Cenored, die elektrisiteitsverspreider in die sentrale noordelike dele van die land.

“Die belegging in Cenored kon nie ten volle geverifieer word nie. Die aandelesertifikaat vir die belegging wys net N$20,1 miljoen, maar die balans op die finansiële staat is N$29 miljoen. Dit is 'n verskil van N$8,7 miljoen,” het die ouditeurs gevind.

Die plaaslike owerheid het ook N$617 805 se rente minder verklaar as wat hulle ontvang het, skryf Nampa.

“Die ouditeure het ook opgemerk dat die balans van die Build Together-lenings wat ontvangbaar is, volgens die munisipaliteit se verslag, verskil van die Build Together-rekords met soveel as N$317 915,” het Kandjeke bygevoeg.

Die kern van die munisipaliteit se tekortkominge is sy swak boekhoudingsproses en -stelsel.

“Daar is 'n verskil van N$11,5 miljoen tussen die bankrekonsiliasie en die munisipale bankstaat wat sy geldelike posisie aandui. Dis omdat uitstaande tjeks nie by die bankstaat ingesluit is nie.”

Kandjeke het die munisipaliteit se vermoë om verslag oor hul geldsake te doen, op die proef gestel, sê Nampa.

“Verskille is opgemerk vir kontantontvangste van kliënte van N$17,6 miljoen onder aantekening 29, asook kontantbetalings aan verskaffers van N$381 834 onder aantekening 30. Dit was onderskeidelik te veel en laer as die kontantvloeistaat.”

Daar was ook geen bewyse vir die aantal erwe wat oor dié tydperk verkoop is nie.

“Ons kon nie die bedrag van N$4,8 miljoen verifieer, soos dit in geldelike state voorkom nie.

“Die erwe is in die 2018-boekjaar verkoop, maar eers in die 2019-boekjaar betaal. Die verkope is eers aangeteken toe die erwe betaal is,” het hy bygevoeg.

In 2018 het Kandjeke ook 'n meningsverklaring uitgereik vir die munisipaliteit se finansiële state vir 2015-'16 omdat dit nie genoegsame bewyse kon lewer van hoe dit meer as N$73 miljoen bestee het nie.

– Eie berig en Nampa

FOTO ARGIEF
Grootfontein se munisipale kantoor.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!