Noordedorp se inwoners ruk op

Lede uit Grootfontein se gemeenskap sal na verwagting Maandag weer terugkeer na die dorp se munisipaliteit om hul klagskrif persoonlik aan die uitvoerende hoof te oorhandig.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Ontevrede inwoners van Grootfontein het gister tot voor die dorp se munsipaliteit opgeruk om ‘n klagskrif aan die uitvoerende hoof, mnr. Kisco Sinvula, te oorhandig.

Toe hulle vasstel dat hy nie op kantoor is nie, het hulle besluit om Maandag terug te keer omdat hulle die klagskrif persoonlik aan hom wil oorhandig.

Die gemeenskapsleier mnr. Morits Gaingob het gesê die uitvoerende hoof is vooraf van die beplande oorhandiging ingelig en ‘n brief met ‘n stempel van 10 November is aan Republikein getoon.

Gemeenskaplede het gesê hulle het genoeg van die swak dienslewering, korrupsie, wanbestuur, swak padinfrastruktuur asook die “onnodige” afdanking van kontrakwerkers gehad.

Hulle het ook bevraagteken watter kriteria gebruik is om ‘n tender toe te ken vir die verwydering van vullis rondom die dorp en is ontevrede dat sekere inwoners se water afgesny is. Gemeenskapslede sê veral diegene in die informele nedersettings leef onder walglike omstandighede.

Dit volg ná die munisipaliteit se bestuur die afgelope Maandag ‘n mediakonferensie belê het om belanghebbendes van die “stand van sake” by die instelling in te lig.

Tydens dié geleentheid het Grootfontein se burgemeester, me. Lovisa Iyambo, asook Sinvula gesê hulle gaan dit wat fout is met die dorp regstel. Sinvula het ‘n ontwikkelingsplan voorgelê en ook verslag gedoen oor hoe ver daar gevorder is sedert die nuwe dorpsraad ‘n jaar gelede ingesweer is.

Sinvula het toe gesê hulle is besig om die aanbevelings in ‘n verdoemende verslag deur die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling te implementeer, waarvolgens daar glo grootskaalse korrupsie op die dorp plaasgevind het.

Sinvula het beklemtoon die verslag waarin werknemers en politici geïmpliseer word, gaan oor ‘n tydperk vóór sy en die huidige dorpsraad se ampstermyn. Hy het toe ook gesê die dorpsraad werk aan ‘n omsigtige finansiële bestuurplan ná die munisipaliteit ‘n swak (gekwalifiseerde) ouditmening van Namibië se ouditeur-generaal, mnr. Junias Kandjeke, vir die 2017-’18-boekjaar ontvang het.
[email protected]

FOTO'S ELVIRA HATTINGH
Grootfonteiners ruk op na hul munisipaliteit.
Die gemeenskapsleier mnr. Morits Gaingob.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer