Nossob-plase steier onder misdaad

Grootvee en wild is klaarbyklik van die gewildste items wat in dié omgewing gesteel word, wat Omitara, Witvlei en Steinhausen insluit.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – In slegs die eerste ses maande van 2021 het landbouers in die Nossob Misdaadvoorkomingsforum (NCPF) se gebied verliese van reeds N$900 500 aan diefstal gely – meer as dubbel die verliese wat in die eerste halfjaar van 2020 ervaar is.

Tóé is gesamentlike verliese van nét onder N$400 000 gely.

Sedert Januarie vanjaar is kleinvee ter waarde van N$121 500 in die omgewing gesteel, asook grootvee met ’n beraamde waarde van N$529 250, wild ter waarde van N$102 750 en ander items ter waarde van sowat N$147 000.

Januarie en Maart was die maande waarin diefstal hoogty gevier het, met N$109 500 se kleinvee wat in Januarie alleen gesteel is en N$132 000 se grootvee wat weer in Maart gesteel is. In laasgenoemde maand is ander items, soos infrastruktuur ter waarde van N$132 000, ook in die gebied gesteel.

Grootvee en wild blyk van die gewildste items te wees wat in dié omgewing gesteel word, wat die Omitara-, Witvlei- en Steinhausen-omgewing insluit.

Die nuus kom kort nadat ’n yslike 23 speenkalwers ter waarde van N$200 000 verlede week op die plaas Mundtsfarm gesteel is. Die speenkalwers behoort aan mnr. Christie Grobbelaar en is met twee lorries weggery terwyl hy nie op die plaas was nie.

STATISTIEK

Die teenmisdaadforum se voorsitter, mnr. Jürgen Matthaei, het aan Republikein gesê diefstal in die NCPF se gebied het die afgelope week-en-’n-half weer toegeneem, kort nadat vermeende veediewe op borgtog vrygelaat is.

Matthaei het aan die koerant statistiek voorsien wat deur die teenmisdaadforum bygehou word oor diefstal en stropery in die gebied. Hy het tevore gesê hul statistiek verteenwoordig slegs gevalle wat aangemeld word en die werklike syfers is waarskynlik veel erger.

Hy vermoed net sowat 70% van gevalle van diefstalle en stropery word wel by hulle aangemeld.

Vir verlede jaar het boere in die omgewing ’n totale gesamentlike verlies van meer as N$1,6 miljoen weens die diefstal van infrastruktuur, klein- en grootvee en wild op plase gely. Dit sluit in vee en wild ter waarde van meer as altesame N$700 000, asook N$259 260 se infrastruktuur en ander items.

Matthaei sê dis duidelik die veediefstal gebeur nie meer omdat mense honger is nie, maar dat dit nou ’n geldmaakstorie is. Ook is die vermoede dat plaaslike “sakemanne” agter die stelery sit en dat lede uit die gemeenskap vir hulle werk.

[email protected]


FOTO
In Mei vanjaar is die beeste in die omgewing van Schlip geslag. Foto's verskaf

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!