'Nou te laat om te onttrek'
'Nou te laat om te onttrek'

'Nou te laat om te onttrek'

Die Yslandse maatskappy het in 2014 kommer uitgespreek oor die visvangpermit en die kwotas se geldigheid.
Ogone Tlhage
Ogone Tlhage en Mathias Haufiku



“Ek dink dis nou te laat om aan die proses te onttrek en die skade aan reputasies sal te veel wees. Dit sal gevolge vir julle in Namibië inhou,” berispe mnr. James Hatuikulipi in 'n e-pos gedateer 8 Maart 2014 Samherji se bestuur wat huiwerig blyk te wees om deel te neem aan Namgomar, die gesamentlike visvangooreenkoms tussen Namibië en Angola.

Driftige e-posse is tussen mnr. Johannes Stefansson, Samherji se hoof in Namibië en Hatuikulipi uitgeruil.

“Ek moet eerlik met u wees – ek voel teleurgesteld dat ons na Angola gereis het om die geleentheid te ondersoek en vir 'n kwota te druk. Ons het die hoogste visserykantoor in Angola gaan besoek met steun vanuit Namibië. Noudat die kwota uitgereik is, kry ons koue voete,” het Hatuikulipi geskryf.

Stefansson het geantwoord: “Ek is baie teleurgesteld om u e-pos hieronder en u kommentaar te lees. Dit is beledigend teenoor my en Samherji. Ons probeer ons werk doen om seker te maak hierdie projek is suksesvol. Aangesien ons nie dadelik wil betaal nie en ons dinge 100% duidelik en korrek wil hê, beskuldig u Samherji van 'n gebrek aan toewyding.

“Dit is asof u elke vraag wat ons stel of geval waar ons duidelikheid benodig, net op een manier verstaan – dat ons probleme wil skep,” het die Yslandse uitvoerende hoof, wat nou die hokaairoeper in die Fishrot-skandaal is, geskryf.



'NIE NODIG OM EMOSIONEEL TE RAAK'

Hatuikulipi het gesê dit is nie nodig om “emosioneel te raak” nie.

“Al wat ek benadruk het, is die behoefte dat u die Angolese regime en die betaling van fooie ondersoek. Daarbenewens het ek met u gesels om al die probleme te identifiseer sodat hierdie projek kan werk. Ons verstaan almal risikobestuur en ondersteun u pogings om die risiko te verminder.”

Op die piek van die Fishrot-sage het Samherji se besluit in 2014 om sy voorbode te ignoreer, sowel as die nienakoming van basiese prosedure vir deursigtigheid, teruggekom om by hulle te spook.

Destyds het verskeie groot rolspelers in die visbedryf wat Hatuikulipi genader het, reeds die aanbod om deel te wees van die Angolese ooreenkoms van die hand gewys.

Hy het 'n reputasie gehad om te beskerm as die besturende direkteur van Investec Asset Management Africa, 'n groot finansiële onderneming wat oraloor die vasteland operasioneel is.



TWYFEL

Nadat Namibië en Angola die bilaterale ooreenkoms onderteken het, wat tot die stigting van Namgomar Pesca gelei het, het die Yslanders begin om die lewensvatbaarheid van die Angolese bedrywighede te bevraagteken en hoe hulle hul winste uit die land sou skuif.

Namgomar – 'n “aktetas”-frontmaatskappy – het 'n sleutelrol gespeel in die uitbuiting van die kwota wat Angola nooit bereik het nie.

Die maatskappy word besit deur mnr. Ricardo Gustavo, wat ook die Fishrot-verhoor in aanhouding afwag.

Hatuikulipi was vas oortuig dit was veilig om met die Angolese ooreenkoms voort te gaan – hy was immers destyds besig om die Angolese regering te oortuig om meer as N$2 miljard uit Angola se soewereine welvaartsfonds in Investec te belê.

Met genoeg politieke kapitaal was Hatuikulipi se grootste uitdaging om die welvarende Samherji aan boord te kry.

Samherji het geweet die ooreenkoms is te goed om waar te wees en het van die begin af bedenkinge gehad.

“Die grootste uitdaging in Angola was nog altyd om die geld ná die verkope daar uit te kry. Baie mense het al hulle vingers só verbrand,” het Stefansson destyds gesê.



GELEENTHEID

Hatuikulipi was ontevrede dat die Yslanders hom bevraagteken, veral omdat die bilaterale ooreenkoms tussen die twee buurlande reeds deur die twee regerings onderteken is.

“Om nou al hierdie vrae te opper nadat die lisensie in Angola uitgereik is, is eerder 'n teken dat ons ten beste twyfel oor die lewensvatbaarheid van hierdie projek, en in die ergste scenario kan die minister in Angola begin twyfel oor ons toewyding en by implikasie haar eweknie-minister in Namibië (Bernhardt Esau) se verwysing.”

“Daar is ernstige politieke kapitaal op die spel, en ek vertrou u besef dit. Hierdie strategie het die vermoë om 'n visvangreg vir ons vennootskap te verseker sodat mariene hulpbronne in Namibië benut kan word, op 'n tydstip waarop aansoeke andersins nie aanvaar word nie,” het hy bygevoeg.

“Ons kan nie hierdie geleentheid deur ons vingers laat glip nie.”

- [email protected] ­

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!