Nou vra jy my hoekom ek swets
Die twee belangrike dinge van vloekwoorde is natuurlik, nommer een, dat intelligente mense dit gebruik, en nommer twee, dat dit op sy beste met ’n luidkeelse trots verkondig behoort te word.
Want dit was nog nooit koel om binnensmonds te vloek sodat niemand dit hoor nie. ’n Saggiese skelwoord is ’n euwel – werp dit so ver as moontlik van jou af weg. Andrew 17:5.
Is jy iemand wat maklik ’n ou kragwoordjie vind wanneer jy jou frustrasie met ’n situasie moet uitdruk?
Vind jy soms dat “koolkop!” nie sterk genoeg uiting aan jou gevoelens teenoor sekere padgebruikers gee nie?
Soek jy soms vergeefs deur die hele Afrikaanse en Engelse woordeskat na die regte “skoon” beskrywende uitroep wanneer jy onverwags op ’n Lego-blokkie trap? Vir die vierde keer vandag?
Hoe gereeld kyk jy op jou horlosie en sien dis al $@$^$# twee minute voor elf?
Vind jy dat gekruide taal jou gesprek meer kleurvol maak?
Eerder as blote vloekwoorde, kom ons noem hulle liewer “konsepversterkings” . . . net vir beklemtoning. Boonop sonder enige ekstra kalorieë.
Wees nou maar eerlik . . . watter een klink beter: absoluut of abso-&^%$#-luut?
Moenie terughou nie.
Vertel ons hoe jy RÊRIG voel.
Dra die boodskap oor met ’n begrip wat almal verstaan, sodat die stommerik weet jy is ernstig sonder dat jy hom aan die strot hoef te gryp.
Sê iets wat Samuel L. Jackson sou sê om die konfliksituasie te eskaleer. Gee aanstoot. Wys jy is nou al ’n groot seun.
Dit is immers nie verniet dat jou beste vloekwoorde as ’n selfstandige naamwoord, byvoeglike naamwoord, bywoord, verbindingswoord, en/of voornaamwoord gebruik kan word nie. Daai drie- of vier- of twaalfletterkeuses het méér veelsydige gebruike as sommer net ’n tussenwerpsel.
Sommige mense gebruik dit selfs as leestekens. (Net vir die onthalwe van volsinne . . . dan gee dit jou die gevoel asof jy in curs-ief praat).
Toegegee – dit mag wees dat passief-aggressief meer jou styl is en dat jy dink stilbly is ook ’n antwoord. Nie almal van ons se ouers was in die vloot, waar dit mos basies ’n verpligte eksamenvak is nie.
Meningspeilings het uitgewys dat “goeiste”, “vervlaks”, “deksels” en “verbrands” met die jare heeltemal hul skop verloor het en deur ’n nuwer geslag vervang moes word.
Net hier en daar kry jy nog ’n tannie wat “tjoklits!” gebruik wanneer jy haar skrik maak.
Na my mening het Afrikaanse koerantskrywers ’n soort verantwoordelikheid om elke moontlike geleentheid te gebruik om in berigte oor ’n gewapende roof of ’n plaasaanval na “swerkaters” en “swernote” te verwys.
Want sekerlik wonder niemand van ons of dit dalk ’n “boosdoener” was wat by jou kar ingebreek en die radio uitgesteel het nie.
’n Kollega sê sy het ’n tyd lank “Son of a Beachball” probeer . . . totdat die jong kinders gesê het dis “lame”.
So, nou vloek sy maar weer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie