NPL se halfpadmerk bereik
NPL se halfpadmerk bereik

NPL se halfpadmerk bereik

Twee sukkelende spanne pak mekaar môre om 15:00 op Karasburg om die eerste ronde van die 2018-'19 premierligaseisoen te voltooi.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Ná Young African se skorsing uit die MTC Namibiese Premierliga (NPL) bly net 15 klubs oor wat vir die gesogte titel meeding.

Een kragmeting, tussen Orlando Pirates en Young Brazilians, moes vroeër vanjaar weens swaar reën op Karasburg se grondveld voortydig stopgesit word. Dié wedstryd word dus môre van nuuts af oorgespeel tussen twee spanne wat hulle aan die onderpunt van die puntelys bevind.

Ná 13 wedstryde elk staar Orlando Pirates relegasie in die gesig met net ses punte in die sakkie, terwyl die Karasburgers eweneens met 12 ook ernstig sal moet terugveg as hy na een van die veilige posisies wil klim.

Uit die ander spanne wat almal 14 keer in aksie was, slaan Black Africa die kitaar met 37 doele sover, terwyl hy net tien afgestaan het. BA is tans die voorloper met 35 ligapunte – 'n voorsprong van sewe teenoor die tweede geplaaste African Stars.

BA het verreweg die meeste kere sy opponent se doelnet getref, gevolg deur Julinho Sporting van Rundu met 23. Die Leeus van die noorde se verdediging het hulle egter in die steek gelaat, wat 'n groot rede vir hul negende posisie en 18 ligapunte is. Julinho se doelver­skil van -3 is iets waarop afrigter Nelson Luiz in sy volgende 14 kragmetings sal wil verbeter indien sy span hoër wil eindig.

Wat oorwinnings betref, het Julinho die vyfde beste gevaar deur vyf botsings in te palm. Nogtans is Tura Magic, Tigers en Unam wat almal net vier keer kon wen, hulle onderskeidelik in die 6de (20 punte), 7de (18) en 8ste (18) plekke bo Julinho wie se negatiewe doelverskil hom erg in die steek laat.

'n Interessantheid is Life Fighters se derde plek op die punteleer waar hy met 24 ligapunte en 21 doele spog. Die klub van Otjiwarongo het vanjaar straks sy eie verwagtinge oortref. Fighters het hierdie seisoen 50 persent (7) van sy wedstryde gewen wat twee minder as Stars se nege oorwinnings is. Die puntever­skil op die ligaleer tussen Stars en Fighters is 'n skamele vier punte, wat Fighters in 'n baie gunstige posisie plaas.

Die nuwelinge in die 2018-'19 NPL-seisoen, Okahandja United en Young Brazilians, het gemengde welslae behaal.

Hoewel die ­Brazilians goed weggespring en aanvanklik beter as Okahandja gevaar het, het die suideklub 'n string ongunstige uitslae beleef om tot die 14de posisie met 12 ligapunte terug te sak.

Die Brazilians het met 30 doele teen hom tot op hede meer as enige ander span afgestaan, wat hul doelverskil op -12 te staan bring.

Die eens trotse Orlando Pirates vaar nog swakker as die Brazilians. Die Seerowers kon net agt doele behaal en 27 is teen hulle aangeteken wat hul doelverskil (-19) die meeste van al die spanne maak. Sy 15de posisie met 'n skamele ses ligapunte, plaas hom in die relegasie-gevaarsone saam met die Brazilians.

Okahandja was nog so onlangs as Januarie ná nege wedstryde (ses gelykop, drie verloor) met ses ligapunte in die 15de posisie. Maar nadat Woody Jacobs as hoofafrigter weg is, het die klub drie oorwinnings behaal en het sy doeltelling van sewe tot 13 verhoog om met 15 punte tiende op die punteleer te lê.

'n Opwindende tweede ronde van die premierliga lê vir die klubs se ondersteuners voor, wat moontlik in Junie tot 'n einde sal kom. Die wedloop na die NPL se topprys is aan, maar soos sake tans staan, sal enige opposisie iets spesiaals moet doen om Black Africa se segetog na die titel te stuit.



VINNIGE FEITE

Meeste wedstryde gewen: Black Africa (11), minste gewen: Pirates (1).

Meeste gelykop: Tura Magic (8), minste gelykop: African Stars (1).

Meeste verloor: Pirates (9), minste verloor: Black Africa (1).

Meeste doele aangeteken: Black Africa (37), minste behaal: Pirates (8).

Minste doele afgestaan: Black Africa (10), meeste afgestaan: Young Brazilians (30).

Beste doelverskil: Black Africa (27), swakste: Pirates (-19).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!