NR weer in sitting

Verskeie wetsontwerpe sal tydens die nuwe sitting van die ­Nasionale Raad bespreek word.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Nasionale Raad (NR) het Maandag sy volgende sessie begin toe die voorsitter, me. Margaret Mensah-Williams, die lede na die tweede huis van die Namibiese wetgewer terug verwelkom het.

Die geleentheid is ook gebruik om nouer bande met die media te smee.

Gedurende die sessie sal die raad vier wetsontwerpe hersien wat deur die Nasionale Vergadering (NV) daarheen verwys is. Die wysigingswetsontwerp op die nasionale begroting (nr. 7 van 2017) is eerste op die lys, gevolg deur die wysigingswetsontwerp op natuurbewaring (nr. 22 van 2016), asook dié op die toegang tot bio­logiese en genetiese hulpbronne en toepaslike tradisionele kennis (nr. 4 van 2017) en die wysigingswetsontwerp op die beskerming van getuies (nr. 2 van 2017.)

Volgens Mensah-Williams sal die kliëntedienshandves en die NR se strategiese plan ook aan die lede voorgelê word. Later die maand sal hulle ook die eerste sessie ooit van die Junior Nasionale Raad afskop. Dit sal vanaf 24 tot 26 Mei onder die tema “Jeugperspektiewe op die volhou­bare ontwikkelingsdoel­witte (SDG's)” gehou word. Sy het die NR-lede gevra om hul jong eweknieë te ondersteun en te mentor.

“Die publiek is bewus van ons tema en volg die debatte in beide huise van die parlement om te sien of parlementariërs by die tema hou. Mense wil ook weet wat die individuele lede na die tafel bring om te verseker dat die parlement inderdaad besig is om die SDG's te bereik. Daarom moet ons as individuele wetgewers strategieë opstel oor hoe ons die SDG's sal inkorporeer, wat ook in die Harambee-welvaartplan verwat word – nie net in ons bydraes tot wetsontwerpe nie, maar ook in ons strategiese plan en in ons jaarlikse aktiwiteitsplanne. Dit is die taak en uitdaging wat ons gegee en mee toevertrou is deur diegene wat ons verteenwoordig,” het sy gesê.

Nog 'n belangrike geleentheid wat voorlê, is die komende vierde sitting van die plattelandse vroueparlement, met mans as vennote, wat vanaf 28 tot 30 Junie 2017 gehou sal word. “In hierdie verband versoek ek die kantoor van die voorsitter en die goewerneurskantore in die onderskeie streke om die identifisering en verkiesing van die mees geskikte vroue en mans te fasiliteer,” het sy gesê.

Mensah-Williams het ook wanopvattings oor die belangrikheid van die NR aangeroer. “Mag ek ook sê dat sommige mense dink dat die begroting reeds geslaag het omdat dit deur die Nasionale Vergadering goedgekeur is. Dit is ver van die waarheid. Hulle moet weet dat dit deur hierdie huis goedgekeur moet word en eers daarna sal die president dit onderteken vir publikasie in die Staatskoerant,” het sy gesê.

Sy het ook aan joernaliste gesê daar heers 'n siening dat die parlement net uit die Nasionale Vergadering bestaan, terwyl lede gekla het dat sekere streke minder blootstelling in die nuus kry, en daar dikwels net slegte nuus gerapporteer word ten koste van die goeie nuus.

Lede wou ook weet hoe die misbruik van die media vermy kan word. Me. Natasha Tibinyane, nasionale hoof van die Media-instituut van Suider-Afrika (Misa), het by die geleentheid gesê 'n verbeterde etiese kode vir die media sou gister tydens die viering van Wêreldpersvryheidsdag voorgestel word. Sy het die politici aangeraai om mnr. Clement Daniels, media-ombudsman, met enige klagtes oor die optrede van die media te nader.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!