NRU-liga se topvier bepaal

Die voorloper FNB Unam is inderdaad nie onoorwinlik nie, het Trustco United die naweek gewys.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Met net een ronde wedstryde oor, is die vier semifinaliste in die Namibië Rugby-unie (NRU) se premierliga ná afloop van Vrydagaand se twee uiteenlopende uitslae bevestig.

FNB Wanderers het op sy tuisveld met 69-0 sy stempel op Rehoboth-rugbyklub afgedruk en het sodoende sy tweede posisie teruggewen.

Trustco United se vegtende oorwinning met 41-36 teen die verdedigende kampioenspan FNB Unam het ook bevestig dat hy in die topvier sal eindig, terwyl dit Kudus se aanspraak op die uitklopfase beëindig het.

Beide Wanderers (41) en United (40) het by FNB Western Suburbs (39) verby geskuif wat voor die naweek tweede was.

United het sy egter twaalf wedstryde afgehandel, terwyl die Khomasdallers in die laaste ronde op 21 Julie ’n wegwedstryd teen Rehoboth oor het en met ’n oorwinning daar kan seker maak dat hulle in die halfeindstryd nie teen Unam hoef te speel nie.

Wanderers en die voorloper Unam (52 punte) sal ook op 21 Julie hul laaste ligawedstryd by die kampusveld speel.

Die Wit Hingste kon Vrydagaand vier spelers uit die nasionale oefengroepe gebruik wat vir die wedstryd teen Rehoboth vrygestel was.

Linkervleuel Janry du Toit het drie drieë gedruk, buitesenter Johann Tromp twee en agtsteman Adriaan Booysen een. Die slot Denzil van Wyk het wel geen vyfpunter aangeteken nie, maar met sy vasberade stormlope was hy die ganse aand ’n hand vol vir die verdedigers.

Wanderers het in sy mikpunt geslaag om sy tweede posisie op die puntelys te behou, toe hy elf drieë sonder antwoord ingeryg het teen die besoekers wat sesde uit die sewe spanne in die premierliga bly.

Rustyd was Wanderers reeds met 27-0 voor, danksy drieë deur Tromp (2), Du Toit en die haker Stefan Hattingh (2).

Ná rustyd het die Wit Hingste hul aanvalle onverpoos voortgesit en het drieë deur die losskakel en onderkaptein Stiaan van der Merwe, Booysen, Du Toit (2) en die plaasvervanger-agterspeler Jamie Joseph (2) bygevoeg.

As stelskopper moes heelagter Rudie Pretorius in die eerste helfte met ’n lastige wind rekening hou wanneer hy feitlik elke doelskop van die kantlyn af moes korrel. Ná net een treffer uit vyf voor rustyd, was sy tweede helfte veel beter met ses uit ses.

Wanderers en sy ondersteuners sal die wedstryd op ’n koue Vrydagaand egter nie juis lank onthou nie. Afrigter Vince Dreyer sal alte bewus wees van die vele ongedwonge foute wat nie ongestraf sal bly nie indien dit op 21 Julie in die laaste ronde teen FNB Unam herhaal word.

Ondanks die wegholtelling was daar hanteerfoute in die wit truie se agterlyn, terwyl die Wit Hingste ook die gereeldheid sal wil ontleed waarmee skeidsregter Danie Koen hulle op die grond gestraf het.

Met speeltyd verstreke, het Koen ook die enigste keer sy geel kaart uitgehaal en aan beide Adriaan Booysen (Wanderers-agtsteman) en Udo Mall (Rehoboth-haker) ná ’n stampery gewys.

In sy laaste ligawedstryd vir die jaar het Rehoboth in die skrums swaar geleef en sy agterlyn moes dus maar met oorskiet-besit iets probeer uitrig.

FILISTYNE OORLEEF BY UNAM

United het ’n tipiese vegtende vertoning gelewer om vyf ligapunte met sy oorwinning van 41-36 teen Unam in te palm. ’n Wedstrydverslag verskyn in Sports Wrap in die binnebladsye.

Unam het ses drieë teen vier gedruk, maar die Filistyne se kaptein Winmar Rust het ná rustyd met vier agtereenvolgende strafdoele sy span se telling laat aangroei en sy skopwerk was uiteindelik 18 punte werd.

’n Netjiese skepdoel in die 78ste minuut deur Earl Rose, wat as plaasvervanger opgestuur is, was die finale spyker in die studente se doodkis.

Rose was vroeër jare ’n beroepspeler vir die Goue Leeus en Griekwas en het ook in 2008 saam met die Springbokke in Europa getoer, sonder om in ’n toets te speel. Vandat hy in Namibië woon en by United aangesluit het, is sy ondervinding op losskakel vir die bloues baie werd.

Tussen middel 2016 en vroeër vanjaar het Unam dikwels onoorwinlik gelyk terwyl hulle 37 ligawedstryde op ’n streep gewen het. Sedertdien het nederlae teen Wanderers en United (wat in die eerste ronde ook net met een punt verloor het) egter gewys dat dit nie meer noodwendig die geval is nie.

’n Waardevolle beloning vir die topklub in die eindstryd (benewens Unam wat vanweë sy bande met die universiteit nie kwalifiseer nie) sal insluiting in die 2018 SA Rugby Gold Cup wees.

Laasgenoemde reeks vir die sterkste oop klubs van elke Suid-Afrikaanse provinsie bied baie goeie blootstelling. Wanderers (2016) en Western Suburbs (2017) was die laaste twee jare die Namibiese verteenwoordigers.

• Die huidige stand van die NRU premierliga:

1 FNB Unam nege uit 11 gewen, 52 punte

2 FNB Wanderers ses uit elf gewen, 41 punte

3 Trustco United sewe uit twaalf gewen, 40 punte

4 FNB Western Suburbs sewe uit elf gewen, 39 punte

5 Kudus ses uit elf gewen, 30 punte

6 Rehoboth vier uit elf gewen, 20 punte

7 Reho Falcon nul uit elf gewen, 2 punte

• Die bepalings vir die laaste ronde op 21 Julie: Unam teen Wanderers by Unam; Kudus tn Reho Falcon op Walvisbaai; Rehoboth tn Western Suburbs op Rehoboth.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer