NRU premierliga se semifinaliste bepaal
Sportredaksie - Reho Falcon se nederlaag op Walvisbaai het die naweek sy kanse verydel om in een van die topvier posisies in die premierliga van die Namibië Rugby-unie klaar te maak.
Met een rondte oor is dit ’n uitgemaakte saak dat FNB Wanderers en FNB Unam eerste en tweede gaan eindig. FNB Western Suburbs het sy derde plek verseël toe hy die vierde geplaaste Trustco United die naweek geklop het.
Kudus het Saterdag in Narraville twee welverdiende oorwinnings teen die besoekende Reho Falcon behaal, berig Otis Finck.
Die Walvisbaaiers het Falcon I met 29-21 in hul NRU premierliga-wedstryd geklop. Skeidsregter Oscar Lambert het die botsing voortydig beëindig toe spelers die reg in eie hande begin neem het.
Nadat Lambert vroeër drie spelers koelkas toe gestuur het, is in ’n stadium vir die spelers se veiligheid gevrees.
In die erg fisieke wedstryd het Aurelio Plato, heelagter van Kudus, die veld met ’n gebreekte neus in die tweede helfte verlaat en ’n sny aan sy een oogbank het boonop gebloei. Plato is later vir waarneming hospitaal toe geneem.
Die Falcon-stut Deon Pieters het die eerste drie van die dag gedruk toe hy soos ’n stormram oor die doellyn gebars het.
Losskakel Colin de Koe se skop klief die mikke sekuur om die telling tot 7-0 te laat aangroei.
Kudus antwoord met sy eie vyfpunter deur binnesenter Bevan Botha. Plato trek sy skop skeef, maar laat ’n paar minute later sy span met ’n strafskop voorloop (8-7).
Skrumskakel Rayton Paulse lewer sy bydrae met ’n drie en Plato tref weer sekuur om die leiding met 15-7 te neem.
Paulse skep vir vleuel Casio Scoombe ’n kans toe hy die verdediging klop en die bal vorentoe skop. Scoombe volg soos ’n bloedhond op, raap die bal op en duik oor. Plato tref opnuut en skielik loop Kudus met 22-7 voor.
Falcon slaan terug toe flank Toby van Wyk die doellyn oorsteek en met De Koe se doelskop verander die telling na 22-14. Die Rehobothers behou hul momentum toe stut Reginald Araeb hul derde drie aanteken en De Koe verdoel om met net een punt agter die voorlopers se 22 te vorder.
Kudus trap egter vas en werk hul voorryman Mark Nangoro oor die doellyn. Paulse voeg twee punte by en Kudus kan weer asemhaal op 29-21.
Spelers se gevaarlike duikslae en daaropvolgende vuishoue het skeidsregter Lambert egter die eindfluit laat blaas met ongeveer 10 minute speeltyd oor.
• Op Suburbspark het FNB Western Suburbs I ’n waarskuwing voor die semifinale uitgestuur deur vir Trustco United I met 22-17 te uitoorlê.
Vir die Filistyne het kaptein Winmar Rust met vier strafdoele geslaag en vleuel Nandivatu Karuuombe rond hul enigste drie af.
Die Khomasdallers se driedrukkers was Japhet Tjinho, Shaun Kaizemi en Roderique Victor. Alonso Julius slaag met twee doelskoppe en Kaizemi voeg drie punte met ’n netjiese skepdoel by.
• Rehoboth Rugbyklub se tuisoorwinning met 28-19 teen Walvisbaai het nie meer ’n invloed op die halfeindronde gehad nie.
Reserweliga: Kudus II seëvier met 17-14 teen Falcon II.
Vir Kudus II behaal heelagter Zane Williams, vleuels Gerhard Damants en Michael Hummel elkeen ’n drie, terwyl binnesenter Charlton Brussel een doelskop bydra.
Falcon II antwoord met drieë deur Shumile Loubser en voorry Zechner Johr. Senter Curtley Beukes tref met beide doelskoppe.
Trustco United II klop Western Suburbs met 30-20. Die West Coast Sharks kon ook bekostig om punte oor te gee en uit sy wegwedstryd teen Rehoboth II te onttrek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie