NRU sê oor daai Allister-video

Allister Coetzee is inderdaad die hoofafrigter van Namibië, is gister beklemtoon.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Allister Coetzee se tydsverdeling tussen die twee stoele waarop hy voortaan sit, word vir seker aan beide kante fyn dopgehou.

'n Video waarin die voormalige Springbok-afrigter probeer “die lug suiwer” ná die vorige dag se aankondiging dat hy as Namibië se hoofafrigter tot ná die 2023 Wêreldbeker aangestel is, is Vrydagaand op sosiale media gelaai.

“Dit is 'n groot eer en voorreg om Rovigo-rugbyklub se afrigter te wees en ek kan nie wag om by die spelers, bestuur en jul passievolle ondersteuners aan te sluit nie. Ek het in Junie vanjaar 'n kontrak onderteken om hierdie klub voltyds af te rig,” sê Coetzee in die video.

“Rovigo het my ook hul seën gegee om as konsultant vir die Namibiese rugbyspan op te tree. Dis vir my belangrik om die lug te suiwer ná gister se nuus. So, ek vervul beide hierdie rolle en ek sien baie uit na my tyd in Italië.”

Namibiese ondersteuners was sedertdien verdwaas en bekommerd oor Coetzee se verwysing, asof hy bloot 'n deeltydse konsultant vir Namibië is. Sommiges het skertsend gewonder of die oorspronklike Mafia hom dalk van agter die videokamera afgedreig het.

Die Namibië Rugby-unie (NRU) se president, mnr. Corrie Mensah, sê hy voorsien nie dat Namibië in 'n toutrekkery betrokke sal raak teen die Italiaanse beroepsklub oor die afrigter se dienste nie.

“Ons en Rovigo was wedersyds bewus van sy situasie tydens die onderhoud voor die aanstelling in oorleg met Wêreldrugby, wat die hoofafrigter se salaris betaal. Ek kan sien dat Allister dié week bietjie voetwerk moes doen om te verseker hy skiet nie homself in die voet by Rovigo nie.”

Mensah sê die werksbeskrywing in Coetzee se kontrak met Namibië verskil nie wesenlik van sy voorgangers Phil Davies of Johan Diergaardt nie.

“Allister is 'n diensverskaffer vir wie Namibië grootliks voor en tydens internasionale vensterperiodes sal inspan om ons span gereed te kry.

“Ons weet daar is gedeeltes van die jaar wanneer hier nie juis werk vir die nasionale afrigter sal wees om 'n voltydse salaris na behore te verdien nie.

“Ons is in gesprek met Wêreldrugby oor 'n November-toer en ons het ingestem dat Allister intussen elders sy brood kan verdien eerder as om hier duime te rol terwyl soveel van ons nasionale span in die buiteland by beroepsklubs speel.

“Onder die huidige omstandighede is daar ook geen SuperSport-reeks of Curriebeker op die tafel as 'n platform vir ons plaaslike spelers nie.

“Phil Davies het ook in die Wêreldbekerjaar 2019 tyd gehad om as konsultant by Leeds 'n inkomste te verdien en dieselfde beginsel geld vir Allister. Ek het in 'n stadium aan Wêreldrugby geskryf om te reël dat Davies vroeër hierheen terugkeer om die span vir die Nasiesbeker voor te berei.

“'n Waarlik voltydse afrigter kom teen 'n groter koste, wat ons onmoont­lik kan bekostig.

“Allister is sedert die afgelope naweek in beheer van ons afrigting­span. Ons sal ná die huidige toer (in Ivoorkus) sake in oënskou neem en dit mag gebeur dat hy aandui dat ons afrigterspesialiste vir byvoorbeeld verdediging, die agterlyn of die voorspelers moet betrek.”

Mensah sê dit is “logies” dat Coetzee volgende jaar meer tyd in Namibië sal deurbring, wanneer die nasionale span hopelik as een van Rugby Afrika se Top Agt die finale eindlopie ter kwalifisering vir die 2023 Wêreldbeker in Frankryk moet aanpak.



DICKSON BLY OPGEWONDE

Robbie Dickson, wat ná Johan Diergaardt se bedanking laas Desember betrek is om die Namibiese oefengroep te hanteer, en sy toerspan het gister in Abidjan hul eerste veldsessie gehad in die opbou na die Rugby Afrika-toernooi waarin hulle Saterdag die gasheerland aandurf, voor hulle vier dae later teen Madagaskar speel. Een van die drie lande sal uitgeskakel word in die wedloop na 2023.

Dickson het voor die vertrek uit Windhoek gesê: “Ek is baie opgewonde oor Allister wat by ons aansluit. Ons kan net leer by hom! Ons het reeds Zoom-vergaderings en video-oproepe gehad om strukture, verdediging en dies meer te bespreek.

“Ek het geen keuse gehad as om die spelers voor te berei soos ek beste gedink het nie. Ons kan nie 'n week voor die tyd met nuwe strukture en planne die spelers omver gooi nie. Ons sal wel klein veranderinge aanbring om seker te maak ons presteer tot die beste van ons vermoë.

“Dit was 'n bitterlik uitdagende twee weke wat spelers se beskikbaarheid, Covid-toetse, veiligheid en gesondheid betref.

“Daar is nie 'n handboek vir hierdie omstandighede nie, so elkeen binne die NRU moes rondspring en plan maak om hierdie toer te laat gebeur. Ons het nie 'n keuse gehad anders as om te gaan nie. Covid of nie – sou ons nie gaan nie, sou ons nie vir die 2023 Wêreldbeker kon kwalifiseer nie.

“Ons is uiters opgewonde oor die taak wat voor ons lê en kon nie beter voorbereid wees onder die omstandighede nie.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer