NRU wil Griekwas uitnooi

Die komende rugbyseisoen is van kritieke belang vir die nasionale span. Verskeie stukkies van die legkaart verg aandag om die plaaslike sport op 'n gesonde voet te hou.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Vriendskaplike tuis- en wegwedstryde teen Tafel Lager Griekwas gedurende die eerste helfte van die 2022-seisoen is een van die hoopvolle doelwitte wat die Namibië Rugby-unie (NRU) bitter graag sal wil bereik.

Suid-Afrika se herstrukturering van sy gebruiklike seisoen deurdat sy provinsiale unies so vroeg in Januariemaand reeds in die Verenigde Rugbykampioenskap en die Curriebeker slaags raak, dien vir die buurland Namibië ook as 'n ernstige wekroep dat die professionele spel al verder wegbeweeg van die ou plaaslike amateurgewoonte dat kondisioneringswerk agterweë gelaat word.

Die NRU se president, mnr. Corrie Mensah, sê die beheerliggaam se eerste raadsvergadering ná die Nuwejaar sal komende Maandagmiddag geskied. “Ons het 'n paar onafgehandelde kwessies van die vorige seisoen en ook belangrike sake vir die komende seisoen te begin begin organiseer.”

Die nasionale span se grootste, enigste, fokus vir hierdie jaar is om in Juliemaand op sy beste te wees in die kwalifiserende Wêreldbekertoernooi in Frankryk, met die oog op die 2023 eindtoernooi wat ook in Frankryk aangebied word.

Drie opeenvolgende oorwinnings, teen Burkina Faso, gevolg deur waarskynlik Zimbabwe en Kenia, sal vir Namibië sy sewende deelname aan die Wêreldbeker sedert 1999 verseker – 'n voorreg wat spankaptein Johan Deysel en sy landgenote as ononderhandelbaar sal beskou.

Dit is voorspelbaar dat vele van Namibië se nasionale spanlede van beroepspanne in Suid-Afrika, Europa en elders opgeroep sal word.

'n Ewe beduidende kerngroep vir afrigter Allister Coetzee behoort egter soos altyd uit die plaaslike klubtoneel te voorskyn te kom.

Terwyl Namibië (grootliks vanweë die finansiële kostevereistes) die afgelope jare sy plek in Suid-Afrika se kompetisiestruktuur verloor het, sal vriendskaplike wedstryde teen behoorlike opposisie uit die buurland onontbeerlik wees om die plaaslike spelers aan die hoër vlak bloot te stel.

By die 2023 Wêreldbeker sal die Afrika-kwalifiseerder immers in 'n klipharde groep A teen Nieu-Seeland, die vuurwarm gasheerspan Frankryk, Italië en Uruguay geplaas wees en indien die grondslag nie in die oorblywende tydsduur stewig gelê word nie, wag daar moeilikheid.

In 'n onderhoud gister met Republikein het Mensah gesê die NRU is positief dat wedstryde teen 'n unie soos Griekwas (wie se hoofborg Tafel Lager is) beding kan word.

“Die Namibië Brouerye bly daartoe verbind om as hoofborg van die land se nasionale rugbyspan die opbou na die volgende Wêreldbeker te ondersteun. Die NBL het verlede jaar die WB-kwalifiserende toer na Senegal in Juliemaand, asook die suksesvolle besoek aan die Wêreldrugby Stellenbosch-uitdaagtoernooi gehelp moontlik maak.

“Ons hoop is dat die oorblywende gedeelte van NBL se reeds begrote borgskap benut sal kan word om tuis- en wegwedstryde teen Griekwas te laat realiseer. Een van die uitdagings sal ook net wees om op geskikte datums hiervoor ooreen te kom.”

Te midde van die verwoestende uitwerking wat die Covid-19-pandemie op die plaaslike rugbytoneel gehad het, sal dit vir toeskouers en ondersteuners beslis spesiaal wees om ná so 'n lang onderbreking weer 'n nasionale span in die Hage Geingob-stadion te sien speel. Die laaste vorige geleentheid was toe die OP Kings die 2019 Wêreldbekergroep voor hul vertrek na Japan kom help slyp het, terwyl geen toetsrugby in Windhoek gespeel is sedert die kwalifiserende WB-oorwinning teen Kenia in Augustus 2018 nie.



UITVOERENDE HOOF

Volgens Mensah is die aanstelling van 'n hoof uitvoerende beampte vir die NRU een van die eerste prioriteite om die administratiewe take op dreef te help bring.

Mnr. Theo Grunewald, wat sedert September 2020 tussentyds in die amp waargeneem het, se termyn het verstryk en ná die advertensieveldtog is drie finale kandidate op die kortlys geplaas.

“Ons volgende stap is om in oorleg met Wêreldrugby die afsprake vir onderhoude met die kortlyskandidate gereël te kry.”

Die drietal se name is nie bekendgemaak nie.

• Nog 'n vakante posisie wat die NRU so gou moontlik moet vul, is 'n plaasvervanger vir Jood Opperman as afrigter van die nasionale onder 20-span.

Opperman is in Desember 'n skorsing vir die eerste ses maande van 2022-seisoen opgelê nadat hy aan wangedrag skuldig bevind is. Hy was aangekla nadat hy in November as hulpafrigter van die nasionale vrouespan se tuistoets teen Zambië 'n mondelinge rustyd-onderonsie met die skeidsregter van Senegal gehad het.

Volgens Mensah is die junior span opnuut bestem om vir 'n beplande o.20-toernooi van Rugby Afrika gedurende Mei of Junie voorberei te word.

Vir die senior nasionale span is die fisioterapeut en tegniese ontleder tans vakant.

“By Maandag se raadsvergaderings sal ons ook moet uitklaar hoe hierdie proses van aanstelling benader gaan word,” sê Mensah.



KLUBDISPUUT

Die Universiteit van Namibië, wenner van die 2021 NRU premierliga-eindstryd, het 'n appèl ingedien teen die skuldigbevinding dat hy onkiesbare speler/s gebruik het.

Hierdie appèlverhoor sal ook komende Maandag geskied, sê Mensah.

Unam het ook intussen nog tyd om verdere voorleggings in te dien.

Western Suburbs, wat in die finaal met 30-20 deur Unam verslaan is, en Wanderers is aan dieselfde oortreding as Unam skuldig bevind nadat hulle oor en weer dissiplinêre klagte hieroor ingedien het. Dié petalje het die uiteinde van die 2021-premierligaseisoen as 'n groot tameletjie gelaat.

[email protected]

FOTO’s Stellenbosch Academy of Sport
Kaptein Johan Deysel (regs) en sy Namibiese span sing die volkslied voor hul wegholsege met 41-10 teen Zimbabwe in November op Stellenbosch.
JC Greyling op pad na ’n drie teen Zimbabwe in November op Stellenbosch.
Die haker Louis van der Westhuizen beur vorentoe teen Zimbabwe in November op Stellenbosch. Links is die stut Herschell van Wyk.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer