NSFAF, Nghiwete se verhouding 'onherstelbaar' verbrokkel
NSFAF, Nghiwete se verhouding 'onherstelbaar' verbrokkel

NSFAF, Nghiwete se verhouding 'onherstelbaar' verbrokkel

Die hooggeregshof sal vandeesweek 'n appèl deur die NSFAF teen die heraanstelling van sy voormalige uitvoerende hoof aanhoor.
Yandi Du Plessis
Jemima Beukes – Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) sê sy vertrouensverhouding met sy geskorste uitvoerende hoof, me. Hilya Nghiwete, het onherstelbare skade gely.

Tydens haar skorsing met volle betaling het Nghiwete 'n volle pakket van N$185 000 per maand ontvang terwyl sy geen diens aan die NSFAF gelewer het nie.

Ná die arbiter opdrag gegee het dat sy in haar amp heraangestel moet word, sal die fonds sowat N$3 miljoen moet opdok om haar terug te betaal.



VERTRAGING Ná VERTRAGING

Volgens die NSFAF het Nghiwete die fonds op 'n dwaalspoor gebring en nooit aan 'n forensiese ondersoek deelgeneem wat vir haar die geleentheid sou skep om haar saak te stel op die ernstige aanklagte wat sy in die gesig gestaar het nie.

Die klagte sluit onder meer wanbestuur, sabotasie, versuim om 'n botsing van belange te openbaar en inmenging met verkrygingsprosesse in.

Die hooggeregshof sal môre (Vrydag) die NSFAF se appèl teen haar heraanstelling aanhoor.

In hofstukke wat verlede week ingedien is, sê die fonds die arbiter wat opdrag gegee het dat sy weer met terugbetaling in haar amp heraangestel word, het nie die onbetwiste getuienis – wat Nghiwete se afdanking motiveer – in ag geneem nie.

Onder dié bewyse is Nghiwete se internasionale reise terwyl sy na bewering aan 'n sielkundige toestand gely het wat haar glo medies ongeskik gemaak het om 'n dissiplinêre verhoor by te woon.

Die NSFAF sê die arbiter is op 'n dwaalspoor gestuur en het nie die fonds se sterk saak vir Nghiwete se afdanking in ag geneem nie.

Hulle wys ook daarop die arbiter het nié in ag geneem dat daar geen absolute reg op 'n verhoor was nie en daar nie redelikerwys van die NSFAF verwag kon word om voort te gaan met die dissiplinêre verhoor onder omstandighede waar Nghiwete die proses opsetlik vertraag het nie.

Die kantoor van die arbeidskommissaris het opdrag gegee dat Nghiwete heraangestel moet word nadat die arbiter bevind het sy is onregverdig afgedank.

Nghiwete is in Februarie verlede jaar afgedank ná sy reeds in April 2018 weens beweerde wanbestuur geskors is.



PROSEDURE

Die NSFAF het in 'n beëdigde verklaring van 45 bladsye Nghiwete van prosedurele vertraging van die dissiplinêre proses beskuldig waarvan sy reeds op 26 April 2018 ingelig is.

Die raadsvoorsitter het 'n brief aan haar gestuur om haar in te lig dat 'n forensiese ondersoek na komplekse bewerings wat teen haar gemaak is, onderneem gaan word.

Om regverdig teenoor haar te wees, het die fonds aangebied om 'n volledige stel aanklagte aan haar te bedien sodra die forensiese ondersoek afgehandel is, asook om haar drie weke te gee om haar verdediging voor te berei sodra die aanklagte beteken is.

“Vanaf die begin van die dissiplinêre proses wou Nghiwete nie haar samewerking gee nie en was sy disrespekvol en ongehoorsaam teenoor die raad as haar werkgewer rakende die dissiplinêre proses. In die lig van haar versuim om op die fonds se brief van 26 April 2018 te reageer, is beperkte aanklagte op 30 April 2018 aan haar bedien.”

Nghiwete het op 2 Mei 2018 gereageer en gesê sy erken nie hierdie aanklagte nie op grond daarvan dat dit nie onderteken is nie, ten spyte van kommunikasie van die maatskappysekretaris dat sy met nog 'n brief bedien sal word.

Die NSFAF het toe 'n dissiplinêre verhoor vir 7 Mei 2018 geskeduleer – sewe dae nadat die aanklagte aan haar bedien is – maar dié vergadering is uitgestel ná Nghiwete regsverteenwoordiging versoek het.

Hierdie versoek is toegestaan, hoewel sy nie in daardie stadium geregtig was om 'n regsverteenwoordiger teenwoordig te hê nie.

'n Maand later – gedurende Junie en Augustus 2018 – is Nghiwete na bewering genooi om deel te neem aan die forensiese ondersoeke wat KPMG onderneem het.

Op 29 Junie 2018 het die forensiese ondersoekers haar glo meegedeel dat hulle haar op 4 Julie 2018 wou ondervra, maar eerder as om in te stem, het Nghiwete glo gevra om op 12 Julie 2018 te vergader om die wettigheid van hierdie versoek te bespreek.

“Nghiwete was egter op 12 Julie 2018 nog stil en die fonds se prokureurs het op 17 Julie 2018 aan haar prokureurs geskryf. Die fonds se prokureurs het op 18 Julie 2018 'n brief van haar prokureurs ontvang met 'n ultimatum wat bepaal dat – tensy al die voorwaardes, verwysings van die KPMG-span en kontrak wat tussen dié span en die fonds aangegaan is aan Nghiwete beskikbaar gestel word – sy eerder al haar regte sal voorbehou en sal kies om haarself nie vir 'n onderhoud beskikbaar te stel nie.”

Die NSFAF het glo die gronde van die ondersoek en KPMG se mandaat, asook die kontrak tussen KPMG en die fonds, op 27 Julie 2018 gedeel.

Luidens berigte het Nghiwete eers op 1 Augustus 2018 gereageer ná aanmaning van die NSFAF se prokureurs. Sy het toe versoek dat die verkrygingsproses waarvolgens KPMG gekontrakteer is, met haar gedeel word.

Die NSFAF het besluit Nghiwete se eise is net 'n poging om die proses te vertraag, en het haar gevolglik ingelig dat KPMG tot 16 Augustus 2018 reg sal wees om haar te ondervra.

Die NSFAF het toe glo op 20 September 2018 bykomende aanklagte – insluitend oneerlikheid en skending van vertroulikheid – aan Nghiwete bedien.

Die dissiplinêre verhoor was vir 3 tot 5 Oktober 2018 geskeduleer en Nghiwete het vir die eerste keer daarop gewys dat die direksie nie behoorlik saamgestel is nie, ondanks die feit dat sy vir 'n geruime tyd die uitvoerende hoof was.

Raadslede is aangestel volgens 'n parlementswet wat nog nie van krag is nie en Nghiwete het dit glo van die begin af geweet.

“Teen 14 Januarie 2019 het 'n periode van nege maande verloop sedert Nghiwete aangekla is. Hiervan kon slegs drie maande toegeskryf word aan die vertraging in die finalisering van die KPMG-verslag. Dit beteken dat ses maande toegeskryf kan word aan die verskillende taktieke wat Nghiwete gebruik het om die verhoor te vertraag.”

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!