NSFAF oor kole gehaal oor N$1,7 miljard
NSFAF oor kole gehaal oor N$1,7 miljard

NSFAF oor kole gehaal oor N$1,7 miljard

Die bestuur van die hulpfonds sê rekords wat uit die voormalige bestel oorgedra is, veroorsaak hoofbrekens.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) sê ‘n slordige oordrag van die voormalige ministerie van onderwys in 2013 is verantwoordelik vir die bykans N$1,8 miljard waarvoor nie rekenskap gegee kan word nie.

Hierdie geld is wat die hulpfonds sê tussen 2007 en 2013 as studielenings toegeken is.

Die uitvoerende hoof van die NSFAF, me. Hilya Nghiwete, het erken die rekordbestuur gedurende die oordrag was ‘n “uitdaging” en het gesê daar sal ‘n tyd kom wanneer die liggaam die regering sal moet nader oor hoe om debiteure te hanteer wat sedert 1997 nie opgespoor kon word.

Nghiwete het gesê volgens ‘n rekonsiliasie wat in 2016 gedoen is, is van die N$1,7 miljard ongeveer N$1,5 miljard aan instansies van tersiëre onderwys uitbetaal.

Sy het bygevoeg die NSFAF is tans in ‘n derde fase om vas te stel of die geld wel aan die universiteite oorgedra is.

Die bestuur en nuwe raad van die NSFAF het gister voor die staande parlementêre komitee vir openbare rekeninge verskyn nadat die bestuur op 27 November verlede jaar nie by ‘n verhoor van dié komitee opgedaag het nie.

Diegene wat vrae van die komitee moes antwoord, moes dit onder eed doen. Hulle het die nuwe raadsvoorsitter, mnr. Jerome Mutumba, en die visevoorsitter, me. Christina Swart-Opperman, ingesluit.

Die voorsitter van die staande komitee, mnr. Mike Kavekotora, het gesê November se verhoor kon nie plaasvind nie oor die die NSFAF-bestuur se “skielike weiering”.

Hy het aangedring op ‘n volledige verduideliking, en gesê die feit dat die NSFAF nie vir die verhoor opgedaag het nie, is ‘n aanduiding dat die staande komitee nie gerespekteer word nie.

Nghiwete het gesê die NSFAF erken die statutêre rol van die staande komitee en het bygevoeg haar organisasie het die komitee se vrae oorweeg en was ná ‘n vergadering met die ouditeur-generaal, mnr. Junius Kandjeke, van mening dat die uitbetaalde N$1,7 miljard inderdaad gebruik is vir die doel waarvoor dit bedoel was.

AGTERGROND

Die NSFAF is gevra om voor die staande komitee te verskyn om rekenskap te gee oor beurse wat gedurende die finansiële tydperke van 2008-’09 tot 2012-’13 toegeken is.

Die liggaam het gesê die rekening is voorberei met die veronderstelling dat alle ouddebiteure ten volle benadeel is – of afgeskryf is – om verskillende redes.

Van dié redes wat aangevoer is, is dat van die begunstigdes gedink het dat hulle nie lenings nie, maar toelaes ontvang het. Daar was ook onsekerheid of diegene wat intussen by die staat begin werk het die lenings moet afbetaal.

In ander gevalle het minderjariges die kontrakte met die NSFAF onderteken.

Baie van die skuldenaars kon ook nie weer opgespoor word nie en ander vind dit moeilik om hul skuld af te betaal. ‘n “Lae moraal” om terugbetalings te maak, is bespeur, en ander het die rente op die lenings betwis.

Die NSFAF het intussen ‘n gesamentlike vennootskap tussen die Namibiese maatskappy Tribesman en die Suid-Afrikaanse New Integrated Credit Solutions (NICS) aangestel om die skuld in te vorder.

Sowat N$453 miljoen kan na verwagting só ingevorder word.

OUDITEUR-GENERAAL Sê

Met die oordrag van die NSFAF vanuit die voormalige ministerie van onderwys na ‘n onafhanklike liggaam in 2013 was daar N$115 miljoen in sy bankrekening.

Mnr. Kandjeke het gesê dit was daarom “onbehoorlik” van die NSFAF om N$1,7 miljard af te skryf.

Hy het ook opgemerk dié bedrag kan reeds meer as N$2 miljard kan wees met rente ingereken.

Die NSFAF het ook nie die bedrag wat afgeskryf is in sy 2014- finansiële verslag aangeteken nie en geen redes is verskaf vir waarom rekenskap nie oor die geld gegee kon word nie.

Voorts was die finansiële verslae vanaf 2010 tot 2013 nie geoudit nie en geen versekering is gegee van die geld wat deur die regering uitbetaal is nie.

Mnr. Nico Smit, lid van die parlementêre komitee, het opgemerk die oordrag van die NSFAF uit die voormalige ministerie van onderwys was chaoties en het gevra of dit lewensvatbaar sal wees in die nuwe ministerie van hoër onderwys, opleiding en vernuwing.

Hy het gesê die instelling is voorheen deur die voormalige ministerie van onderwys agtergelaat en dat dit weer gaan gebeur, terwyl die Namibiese belastingbetalers “deur hul nekke” daarvoor moet betaal.

Die staande komitee het vrae gehad oor hoekom PricewaterhouseCoopers (PwC) ’n kontrak gehad het om die NSFAF se finansiële state van 2014 voor te berei én te ouditeer.

Kandjeke het nie met die NSFAF se finansiële hoof, die Zimbabwiër mnr. Blessing Nyandoro, saamgestem dat dié praktyk normaal is nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!