NSFAF: Studeer voort, ondanks geldnood
Begunstigdes van die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente kan registreer en verder studeer terwyl 'n geldkrisis opgelos word.
Augetto Graig
Duisende studente wat weens geldnood van die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) nie finansiering kon kry nie, kan nou met hul studies voortgaan.
Betrokke universiteite het die registrasiedatum vir die tweede semester verleng nadat die NSFAF lyste met begunstigdes se name aan dié instansies verskaf het. Daardie studente mag voortgaan met hul studies terwyl die regering die geld soek om daarvoor te betaal.
Meer as 15 000 Namibiese tersiêre studente het vir die 2019 akademiese jaar aan die NSFAF se finansieringsvereistes voldoen, maar in Mei het die fonds aangekondig daar is net genoeg geld vir 2 925 van hulle.
Volgens mnr. Olavi Hamwele, die NSFAF se hoof van menslike hulpbronne en korporatiewe sake, het die ministerie van hoër onderwys, opleiding en vernuwing die hoëronderriginstansies genader om registrasie vir die oorblywende studente toe te laat. Volgens die Universiteit van Namibië (Unam) is die ooreenkoms op 15 Julie met die ministerie bereik. Dit volg ná aanbevelings van 'n tegniese komitee dat daardie ministerie, asook dié van finansies 'n oplossing moet vind.
Nou is daar ook hoop vir nuwe vakleerlinge en nagraadse studente, alhoewel dit hoofsaaklik geld vir dié wat spesifieke vakke neem.
Die NSFAF verwag om nog 2 000 nuwe vakleerlinge vir die tweede semester se September-inname te finansier, het Hamwele gesê.
Wat nuwe nagraadse studente betref, is voorlopige lyste van goedgekeurde aansoekers op 26 Julie aan universiteite gestuur.
“Voorsiening van 10% van die beskikbare begroting is gemaak, maar die fokus is op prioriteitstudierigtings,” het Hamwele gesê. Die lys van voorkeurrigtings en -vakke is op die NSFAF se webwerf beskikbaar.
Die NSFAF finansier altesaam 42 000 studente, wat vanjaar se inname insluit. Van dié gaan 35 000 met hul studies voort. Hulle alleen het meer as N$1 miljard van die NSFAF se 2019-begroting van net meer as N$1,1 miljard nodig. Vir die huidige boekjaar het die tesourie N$641 miljoen minder toegeken as wat aangevra is, wat die NSFAF erg gekortwiek het.
Nog 'n verwikkeling is die eersdaagse vrystelling van nuwe NSFAF- en Bank Windhoek-bankkaarte. Daarmee sal studente toegang tot hul finansieringsrekening hê. Die instansies het in April die vennootskap aangekondig, en vervang daarmee die dienste wat Nam-mic voorheen aan die NSFAF verskaf het.
“Die uitreiking sal op 6 Augustus begin wanneer amptenare van die NSFAF en Bank Windhoek hoëronderwysinstansies sal besoek. Die skedule sal aan die betrokke partye verskaf word,” het Hamwele gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie