Nét dorings bly oor!

Agt produkte word uit die turksvy deur die Gaugler-gesin van die plaas Dabis gemaak
Tanja Bause
Tanja Bause - Wanneer die Gaugler-gesin klaar is met ’n turksvy bly net die dorings oor.

Uit die vrug en blomme van die plant maak hulle ’n indrukwekkende agt verskillende produkte.

Twee jaar gelede het Michelle en Jörg Gaugler, van die plaas Dabis by Helmeringhausen, ’n turksvy-besigheid by hul bure, die Herzbergs, oorgekoop.

“In Junie 2015 het ons ’n veldjie turksvye geplant en dit met draad omhein. Die oggend daarna is al die plante deur koedoes en ander wilde diere opgevreet. Ons het ’n hoër draad gespan en die plante het begin groei. Ons het nog nie weer teruggekyk nie en vandag het ons sowat 6 000 plante,” het Jörg gesê.

Elke ses weke kry die plante ’n bietjie water. Dit groei wel sonder water, maar die oes is dan kleiner.

“Die turksvy is een van die mees doeltreffende plante. Dit vereis baie min in vergelyking met wat dit lewer,” het hy gesê.

In Oktober, ná die bye die blomme bevrug het, word die eerste oes gewoonlik gelewer.

Die Gauglers kry dan hulp van vroue in die omgewing om elke blom een vir een versigtig met die hand te pluk.

“Onder die blom het die vrug al begin groei, dan het ons sowat 10 dae om die blomme te oes voor dit afval.”

Die blomme word daarna natuurlik gedroog en verpak. Verlede jaar is 120 liter gedroogte blommetee gepluk.

“As jy kookwater oor die blomme gooi, gaan hulle weer oop – ’n baie spesiale gesig. Die tee is glo goed vir prostaat- en urienwegprobleme,” het hy gesê.

“Dit het ’n sterk smaak, so ek meng dit met ’n bietjie pepermentblare om die smaak te verbeter. Die twee komplementeer mekaar en dit maak die tee nogal lekker,” voeg Michelle by.

Tussen Mei en Julie word tussen 400 en 600 kg vrugte in die namiddae geoes. Die daaropvolgende dag word dit in ’n klein fabriek verwerk waarna die volgende oes begin.

“Heel eerste word die vrugte gewas. Dit moet deeglik gewas word om van al die klein, fyn dorinkies ontslae te raak. Dan kom die vrugte in ’n masjien wat hulle klein kap. Die gekapte vrugte word in groot siwwe geskep, om die skille van die sagte vrugvlies en putte te skei.,” het Jörg gesê.

Die skille word kortliks middels stoom ontsap.

“Ons wil nie al die sap onttrek nie, omdat ons nog genoeg kleur en smaak vir die vrug se tee wil behou.”

Die oorblywende skille word dan in die skaduwee gedroog voordat hulle kleiner gemaal word vir die vrugtetee.

“Die tee word soos gewone tee met kookwater oorgiet en raak ’n lieflike pink kleur. Suiwer of met ’n bietjie suiker of heuning is dit heerlik verfrissend - warm of koud,” het Michelle gesê.

“Daar bly ’n fyn poeier ná die fynkapproses oor. Aanvanklik het ons dit by die tee ingelos, maar die laaste sluk met die stukke in was nie lekker nie. Ons het kopgekrap en gewonder wat ons met die poeier kon doen. Ons kinders het toevallig met ’n bak vol poeier gesit en dit uitgelek en gesê: ‘Mamma, ons eet dit sommer net so. Dis baie lekker.’” het Michelle gesê.

Daarna het hulle die poeier oor jogurt en roomys begin strooi, en só is Pink Powder gebore.

“Die poeier kleur kos pienk en dit proe baie lekker. Dit kan ook in vrugteskommels of oor jou oggend-muesli gestrooi word,” het Michelle gesê.

Die vleis van die vrug word in groot potte tot konfyt en jellie gekook waarna glasbottels daarmee gevul word.

Die oorblywende klein pitte word weer eens gewas en skoongemaak. Dan word dit vir ses maande op natuurlike wyse uitgedroog en gepers om waardevolle olie daaruit te kry.

“Ons sal die eerste land in Suidelike Afrika wees wat die olie produseer. Altesaam 85% van die wêreld se turksvy-olieproduksie geskied tot nou toe in Marokko, Tunisië en Algerië en word in Duitsland verkoop. Die meeste van ons toeriste is Duitsers, so ek dink daar is beslis ’n mark daarvoor,” het Jörg gesê.

“Sowat 30 kg kurkdroë pitte gee vir ons een liter olie. Ons kry 30 kg pitte uit 3 600 kg vrugte. Dit beteken ons moet vrugte vir ses dae lank verwerk om een liter olie te kry,” het hy gesê.

Die drukpers wat die klein, harde pitte fyn maak, is van Duitsland af ingevoer en kan enige soort pit pers.

“Ons kan maroela-, !nara- en tjamaspitte pers - eintlike enige pit - en die olie daaruit kry.”

Ná die olie uitgepers is, moet dit sewe keer gefiltreer word voordat dit verpak en verkoop kan word. Elders word die olie in die kosmetiese bedryf gebruik, maar “ons is boere en wil nie in dié bedryf ingaan nie. Ons wil net die olie uit die pitte haal en aan mense wat skoonheidprodukte maak, verkoop”.

Die poeier wat oorbly ná die pitte gepers is, kan in kapsules verpak word en vir verskeie medisinale gebruike aangewend word.

Verlede jaar het die Gauglers 4,5 ton produkte gelewer.

Die etikette op die produkte is deur Michelle ontwerp.

“Ek het die Herzberg-etikette ietwat verander, maar wou hulle steeds vereer. Hulle het die besigheid begin en al die werk gedoen. Hulle het baie van die masjiene wat ons gebruik, self ontwerp en gebou. Ons het die besigheid oorgeneem en die produktereeks uitgebrei, maar hulle het baie van die werk gedoen,” het sy gesê.

Die kaktus op die etikette verteenwoordig die Gaugler-gesin. Die plantjie bestaan uit die gesien se vingerafdrukke: Michelle en Jörg se vingerafdrukke is die twee groot kaktusblare en hulle kinders Julia, Anjo, Vanja en Bjorg se afdrukke beeld die vruggies uit.

“Dit is ’n familiebedryf en tydens die oes- en verwerkingsproses help almal. Selfs die kleintjies plak etikette en plakkers op. Hulle sit ook die blomme in papiersakke en maak die linte vas,” het sy gesê.

“Ons produkte is 100% natuurlik. Soos die vrug daar op die plant is, kom dit in ons produkte voor: Natuurlik gedroog en met die hand verwerk. Ook die plante self word nie met enige kunsmatige produkte gespuit of gevoed nie. Ek staan 100% by my produkte,” het sy gesê.

Michelle oorweeg om in die toekoms, soos in Mexiko, die jong, vars blare in Nopal slaai te gebruik.

“Hulle vat die jong blare en skil dit. Die blare is nog nie bitter nie en proe goed. Die geskilde blare word dan in repies gesny en by ’n slaai bygevoeg. Mens kan ook die groter blare uitdroog en ’n glutenvrye meel daarvan wil maak. Maar dit is toekomsplanne met die wonderlike turksvy plant,” sluit sy af.

Opuntia stricta

Die Gauglers se produkte word van die Opuntia stricta-turksvy gemaak, wat natuurlik in sommige dele van die Verenigde State voorkom, asook in Mexiko, Venezuela, Ecuador, Bahamas en die Truks- en Caicos-eilande. Dit is aan Afrika, Australië en suidelike Asië bekend gestel en word in Suid-Afrika en Australië as ’n indringerspesie beskou.

Opuntia stricta is ’n groot kaktusspesie, ook bekend as die turksvy, of die nopal estricto in Spaans. Die plant kan tot twee meter lank word. In die somer is dit met geel blomme oortrek en dra later pers of rooi vrugte.

Amerikaanse Indiane het die sap van die vrugte gebruik om ligte brandwonde en sere mee te behandel. In Mexikaanse volksgeneeskunde word die sap ook vir die behandeling van diabetes gebruik. Dit word ook in kosse soos jogurt as natuurlike kleurmiddel gebruik.

In baie wêrelddele waar die plant voorkom, word dit as natuurlike versperring om huise aangeplant. Die blare en vrugte word ook as veevoer gebruik.

Die Opuntia stricta is geskik vir verskillende uitwendige gebruike. Dit word in skoonheidsprodukte vir die vel en die hare gebruik. Dit word in onder meer in sjampoe, opknapper, seep, vel- en vogroom gebruik.

Turksvy-gebruike

Diabetes: Turksvye help om bloedsuiker te reguleer en word dus vir diabete aanbeveel. Dit bevat 18 aminosure wat die liggaam van energie verskaf en glukosevlakke verminder. Terselfdertyd word die lewer en pankreas versterk en insuliensensitiwiteit verhoog omdat die vervoer van glukose na die liggaamselle verbeter.

Beter spysvertering: Die B-groep vitamiene (1, 2 en 3) asook vitamien C, kalsium, kalium, magnesium, natrium en yster help om die spysverteringstelsel te verbeter. Hierdie antioksidante beskerm die liggaam teen die gifstowwe in voedsel en verminder die skadelike gevolge van alkohol en swaar kosse.

Voorkoming van hardlywigheid: Die vesel wat in die turksvy voorkom, bevorder spysvertering en help met hardlywigheid.

Voorkoming van vetsug: Die talle vesels vertraag die opname van voedsel en die absorpsie van voedingstowwe in die bloed. Vloeistowwe word vinniger in die bloedstroom geabsorbeer en beveg dus selluliet en vloeistofretensie. Die opgeloste vesel in turksvysap skep 'n gevoel van versadigheid en stimuleer ook peristalse.

Versterking van die immuunstelsel: Aangesien die turksvy talle vitamiene bevat, versterk dit die immuunstelsel. Dit bevat ook minerale en aminosure wat help met die uitskakeling van gifstowwe en die reiniging van die lewer.

Uriendrywende effek: Die sap word gebruik vir die verligting van inflammasie van die urienweg en nier- en blaaspyn.

Beskerming van die senustelsel: Die turksvy het 'n ontspannende effek en verbeter die gemoedstoestand.

Kommentaar

Republikein 2025-01-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 28° Maseru: 18° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!